Sy is gelukkig getroud met die liefde van haar lewe, maar so eensaam
EK
het altyd gesê ek wil nooit alleen oud word nie.
Ek is met ’n wonderlike man getroud en ons het ’n goeie lewe. Hy is regtig die liefde van my lewe.
Maar die laaste 16 maande is ek eintlik alleen, al is ons nog getroud.
Weens omstandighede bly ek op Brits en my man in Twickenham anderkant Polokwane. Toe my man verlede jaar ’n nuwe werk kry, was ons albei dankbaar vir die geleentheid, hoewel ons geweet het ons gaan opofferings moet maak. Ons het geweet dit gaan moeilik wees om so ver van mekaar te wees.
Dit is nou al meer as ’n jaar dat ek hom net naweke sien wanneer hy huis toe kom. Ons praat gereeld met mekaar, maar dis nie dieselfde as om by hom te wees en sommer oor alles te sit en gesels nie. Nog nooit het ek so alleen gevoel nie. In die week moet ek elke aand alleen in die bed klim. Ek bid soggens en saans alleen. Ek drink in die oggend my koffie alleen.
Dit is ’n eensaamheid wat ’n mens nie kan verduidelik nie. Jy voel dit in jou beendere.
Sondae wanneer hy in sy voertuig klim en die lang pad terug noorde toe vat, voel dit of my wêreldjie te klein word. Dan slaan die wete my: Nou is dit weer net ek en my twee worshondjies vir nóg ’n week.
Elke aand tel ons die slapies af tot Vrydag. Tot daardie oomblik dat ek my man se voertuig in die oprit hoor.
Ek mis hom elke dag. Ek weet hy verlang net so baie. Maar ek weet op die lange duur gaan dit die moeite werd wees.
Aan al die vroue wat soos ek ver van hul man af is, wil ek net sê ek wéét hoe dit voel.
Maar die liefde oorkom alles.