MY GESIN KOM 1STE, DÁN TENNIS
Gaan hy dit regkry? Alle oë is vandeesmaand op Roger Federer om te kyk of hy die derde agtereenvolgende keer die Australiese Ope kan wen. Die Switserse kampioen gesels oor sy vrou, hul vier kinders wat altyd saamreis en sy uittrede
DIE spelers se restaurant by die 2018-Sjanghaimeesterstoernooi laat jou aan ’n spogskool se kantien dink. Daar is 10 verskillende pizzas op die spyskaart, elk gekies deur ’n tenniskampioen. Die Nolé – dis Novak Djokovic se bynaam – het ’n glutenvrye basis soos voorgeskryf deur die gesondheidsbewuste Serwiër. Roger Federer se Figalicious bestaan uit vye, parmaham en truffelolie en pas perfek by die speler wat vir sy sofistikasie en flair bekend is.
Elke keer wanneer ’n pizza bestel word, wen die speler ’n punt, en aan die einde van die toernooi word die wenner met ’n prys beloon. Dis veronderstel om ’ n stukkie lighartigheid te wees vir die duur van die ernstige aksie op die baan, maar vertel dit nou vir ’n vertrek vol mans wat daaraan gewoond is om hul teenstanders se plek op die ranglys te bestudeer.
“Ek het ’n Figalicious vir middagete gehad,” vertel ek vir Roger toe ons mekaar in die tuin van die Qizhongstadion ontmoet en ons sit in gemaklike rottangstoele kry.
“Nè? En hoe was dit?” vra hy met ’n grinnik.
“Heerlik,” sê ek sonder om aan te dik. Maar pizza op toer? Ek dog topatlete leef miserabele, proteïengevulde lewens.
Hy haal sy skouers op. “Miskien is ek maar van die ou skool. Dis vir my ’ n stokperdjie om lekker kos te ontdek, so om dit nie te kan doen nie . . . Dit sal vir my soos ’n soort tronk voel.” En proteïenskommels? “Ek hou nie daarvan nie. Ja, dit kan my dalk help soos ’n ysbad sou, maar ek hou nie van ysbaddens nie. Ek sal eerder ’n warm stort neem en ’n paar strekoefeninge doen. ’n Mens se gees moet gelukkig wees.”
Roger (37) dra ’n grys drafbroek en ’n vlootblou T-hemp. Later sal hy ’n wit top met Mickey Muis daarop aantrek. Daar’s iets van ou Hollywood aan hom, en hy is aantrekliker as wat hy op TV lyk. Sy sterk gesig en Mediterreense gelaat sal goed in ’n Dolce & Gabbana-advertensie pas.
Ek het net 30 minute gekry vir die onderhoud met hom, maar toe hy hoor ek het spesiaal van Engeland af gevlieg om met hom te praat, sê hy ons moet vergeet van die tyd en rustig saam tee drink. Ek het heeldag gesien hoe hy dieselfde hoflikheid wys teenoor jonger spelers wat met hom ’n praatjie kom aanknoop. Hul gesigte helder op wanneer die man wat wyd as die beste manstennisspeler van alle tye beskou word, uitvra oor hul oefensessies dié oggend.
Voor my reis het almal wat daarvan gehoor het my jaloers aangekyk wanneer ek sy naam noem. Hy is net so gelief as ’n bedagsame mens as wat hy is vir sy tennis – ’n stilweg emosionele speler wat op die baan of weg daarvan sonder omstredenheid is. Dis hoofsaaklik te danke aan die feit dat hy so ’n diplomatiese mens is.
Hy is in Basel, Switserland, gebore en handhaaf sy land se beroemde neutraliteit oor netelige onderwerpe. Ek is byvoorbeeld vooraf gewaarsku dat hy Serena Williams nie sal bespreek nie, maar toe ek haar tog ophaal, is hy te ordentlik om my stil te maak.
Hy en die vrouekampioen was albei ’n ruk gelede weg van die wêreld se tennisbane: hy weens ’n knieoperasie; sy nadat sy in September 2017 ’n baba gehad het. Maar waar sy terugkeer triomfantelik was – hy het sedertdien die Australiese Ope twee maal gewen, asook Wimbledon – het Serena s’n nie so glad verloop nie.
Gedurende die eindstryd in die Amerikaanse Ope het sy op gedragskodeoortredings gereageer deur die skeidsregter ’n dief en ’n leuenaar te noem. Sy moes dus ’n pot afstaan as straf en het eindelik die wedstryd teen Naomi Osaka van Japan verloor. Die voorval het tot ’n lewendige debat gelei: Was Serena die slagoffer van ’n samelewing se onvermoë om ’n vies vrou te verdra of het sy ’n vloermoer gegooi omdat die wedstryd nie in haar guns verloop het nie?
“Dis ’n mengsel van alles, maar ek voel op ’n sekere punt moes Serena weggestap het,” sê Roger. “Sy het, maar sy het te ver gegaan. Sy moes vroeër weggestap het. Dis effens verskoonbaar – miskien moes die skeidsregter haar nie so ver gedruk het nie. Dis jammer, maar dis ’n ongelooflike gevallestudie.”
Interessant genoeg meen hy nie die koerantopskrifte was ongewens nie; hy voel dit het ’n belangrike gesprek aan die gang gesit. “Ek’s ten gunste van enigiets wat goed is vir die gemeenskap en wat die bal aan die rol sit.”
’n Ander netelige onderwerp is tennisspelers se vergoeding. Hy het net in 2018 se Australiese Ope A$4 miljoen (sowat R38,8 miljoen) verdien. Hoe regverdig hy dit?
“In een sin sal ek sê dis regverdig op grond van wat die toernooi se inkomste is,” kap hy terug. “Die spelers maak 8% van die totale omset.”
ROGER is nou bekend vir sy waardigheid, maar dit was nie altyd so nie. Vroeg in sy loopbaan het hy ’n reputasie gehad dat hy maklik sy humeur verloor, en eenkeer moes hy selfs ’n week lank toilette skoonmaak as straf omdat hy ’n gordyn langs die baan geskeur het toe hy sy raket gegooi het. Ouderdom en sukses het hom kalmer gemaak, maar nie sy geesdrif gedemp oor hoe baie die spel vir hom beteken nie. “Vader, dit breek my,” het hy met ’n bewende stem gesê nadat hy teen Rafael Nadal verloor het in die eindstryd van die Australiese Ope in 2009.
“In ons belangrikste oomblik van oorwinning is ons heeltemal alleen,” mymer hy. “Jy het niemand wat jy ’n druk kan gee nie. Jy skud blad met die skeidsregter en dan kom daar ’n oomblik dat jy wens jy het iemand by jou. Daar’s geen sokkerkrete uit die paviljoene nie, net hoflike applous. Maar dan kom die superheldgevoel – jy besef jy’t jou droom verwesenlik. Dit gaan oor jóú, nie oor ’n
‘Dis vir my ’n stokperdjie om lekker kos te ontdek; om dit nie te doen nie sal vir my soos ’n tronk voel’
klub nie. Dit kan baie emosioneel wees.”
Vroeër die dag het ek Roger gevolg op die afsprake wat hy voor so ’n toernooi moet nakom. Dit het begin met ’n mediakonferensie waar handdoeketiket ’ n onverwagte besprekingspunt was.
In September is die Spaanse speler Fernando Verdasco op kamera betrap waar hy vies aan ’n baljoggie beduie om gou te maak met sy handdoek. Sou Roger ten gunste wees van hakies naby die baan sodat die baljoggies nie meer die spelers se snotterige, sweterige handdoeke hoef te hanteer nie?
Vyf minute lank het die kampioen – die houer van ’ n rekordgetal van 20 Grand Slam-titels en die langste tyd as die no. 1-speler (310 weke) – die meriete van verskillende handdoekhake bespreek. Aan die een kant bring baljoggies handdoeke na die spelers sodat daar nie tyd gemors word nie, het hy hoflik maar keelvol verduidelik. Aan die ander kant weet hy as ’n voormalige baljoggie hoe belangrik dit vir dié kinders is om met respek behandel te word.
Dis klassieke Federer: ’n deurdagte antwoord waarin hy nie kant kies nie. (“Wat ek sê, maak saak,” verduidelik hy later aan my.) Hierna loop hy na waar hy ’n video-onderhoud moet voer. Alkant van hom loop twee stewige lyfwagte en joernaliste wat vrae afvuur in Engels, Frans en Duits. Hy antwoord elkeen in die toepaslike taal.
Eindelik vra iemand die boerpotvraag: Wanneer beplan hy om af te tree? “Waarvan ek in my loopbaan hou, is dat niemand weet wat gaan gebeur nie,” antwoord hy nonchalant.
Die joernalis probeer weer: Is Roger se nuwe $300 miljoen (R4,3 miljard)-borgooreenkoms met die Japannese kleremaatskappy Uniqlo ’n stille aankondiging dat hy beplan om aan te hou speel tot die Olimpiese Spele in Tokio in 2020?
“Nie noodwendig nie,” antwoord hy. “Twee jaar is in baie mense se lewe nie baie lank nie, maar in myne is daar ’n groot verskil tussen 37 en 39. Ek weet ek sal steeds op klubvlak speel saam met my kinders, maar andersins, wie weet?”
Die ongeërgdheid is nie net vir die kameras nie. Ondanks die mediaskrum en die bewonderaars wat hom volg waar hy ook al gaan, lyk dit asof Roger in ’n kapsule van kalmte beweeg. Ek wonder hoeveel van sy oorgang van onvoorspel- bare jong speler tot die kalm tennisindoena toegeskryf kan word aan die vervulde lewe wat hy buite tennis lei.
Hy praat vol bewondering oor sy vrou, die voormalige professionele tennisspeler Mirka Vavrinec, met wie hy in 2009 getroud is. Hulle het twee stelle tweelinge: negejarige dogtertjies en vierjarige seuns. Tweelinge loop in die familie; Roger se suster, Diana, het ook ’n tweeling.
Dis nie die kinders wat hom kalm gemaak het nie, sê Roger; dit het al gebeur voor hy pa geword het. “Ek het nie kinders nodig gehad om my te laat besef waaroor dit gaan nie. Ek was 10 jaar gelede al op ’n goeie plek. Vandag is ek ’n pa, so ja, ek moet vinniger daaroor kom wanneer ek verloor. Ek wil nie hê my kinders moet dink ‘ Pappa is vandag knorrig, want hy het in die halfeindronde teen Zverev verloor’ nie.”
DAT Roger in sy laat 30’s steeds deelneem, is nog merkwaardiger wanneer ’n mens dink dat Björn Borg en John McEnroe albei 25 was toe hulle hul laaste Grand Slam gewen het. Wat is sy geheim?
“Niemand het my ooit ooreis nie,” verduidelik hy en sonder Pierre Paganini, sy fiksheidsafrigter, uit. Die twee het mekaar ontmoet toe Roger op 14 aanvaar is by die tennisakademie in Écublens, Switserland, en is van toe af aan en af in mekaar se lewe.
Teen die tyd dat die 19-jarige Roger in 2001 die destydse sewemalige verdedi- gende kampioen en in daardie stadium die speler met die meeste Grand Slamtitels ooit, Pete Sampras, op Wimbledon geklop het, was sy span reeds besig met ’n langtermynplan vir hom.
“Pierre het altyd geglo ’n mens moet ruskanse vat,” vertel Roger terwyl hy ’n sakkie suiker in sy koffie gooi. “Nou nog preek ek vir die jonges: ‘ Vat tyd af; jou lyf moet kans kry om te genees.’ ”
Dit was ’n leuse waaraan hy vasgeklou het toe hy in 2016 noodgedwonge ses maande moes af vat nadat hy sy knie beseer het toe hy vir sy kinders ’n bad getap het. Hy het ’n meniskusoperasie ondergaan en sy rehabilitasietyd in sy huise in Basel en Doebai deurgebring. “Dit was emosioneel om af te kyk na my voet en te dink hierdie been sal dalk nooit weer dieselfde wees nie. Maar my lyf het ’n blaaskans verdien – sodat ek ná my tennisdae ’n goeie lewe kan geniet.”
Dit het gewerk. In Januarie 2017 het hy sy terugkeer gemaak in Australië, waar hy Nadal in die eindstryd verslaan het – die eerste keer in ’n dekade dat hy sy groot teenstander in ’n Grand Slam geklop het – en ses maande later het hy die Wimbledontitel gewen. In Februarie verlede jaar, 14 jaar nadat hy die eerste keer die no. 1-speler in die wêreld geword het, was hy weer boaan die ranglys.
Maar 2018 was nie heeljaar ’n goeie jaar nie: Hy is in die kwarteindronde op Wimbledon uitgeskakel en ’n paar dae ná ons onderhoud in die halfeindronde van die Shanghai-meesterstoernooi. Teen druktyd het ons nog nie geweet of hy dalk weer op 27 Januarie die trofee sou wen in die Australiese Ope nie.
Hy het die jaar afgesluit in die derde
‘Maar my lyf het ’n blaaskans verdien – sodat ek ná my tennisdae ’n goeie lewe kan geniet’
plek op die ranglys en is so lus om te wen soos altyd. G’n wonder hy is so verskriklik verveeld wanneer mense hom vra oor sy aftreedatum nie.
“Dit het in 2009 begin toe ek die Franse Ope wen. Ek het Pete se rekord van die meeste Grand Slam-oorwinnings gedeel en toe die volgende maand verbeter. Mense het gesê: ‘Jy het al vier Slams gewen, die rekord geneem en jy’s no. 1 in die wêreld. Wat anders het ’n mens nog nodig om gelukkig te wees?’ ”
Wat die kenners nie besef het nie, is dat Roger nie tennis speel ter wille van die glorie nie. Terwyl sommige spelers erken hulle raak moeg van tennis en Andre Agassi selfs in sy outobiografie geskryf het hy haat dit “met ’n donker en geheime passie”, is dit op die baan dat Roger vlam vat. “Tennis is my passie, en ek sal dit so lank moontlik speel, want ek is werklik lief daarvoor,” sê hy.
Dié gebalanseerde ingesteldheid is ongetwyfeld deur sy ouers se toedoen. Anders as van sy tydgenote wat deur familielede afgerig is (Andy Murray deur sy ma, die Williamssusters deur hul pa en Nadal deur sy oom Toni), was Roger se loopbaan genadiglik vry van ouerlike inmenging. Dit het hulle ook in staat gestel om soos ouers in sy lewe op te tree.
Sy pa, Robert, was woedend wanneer hy in sy jonger dae ’n vloermoer op die baan gegooi het, en sy Suid-Afrikaans gebore ma, Lynette, het gereeld sy afrigters gebel om te hoor of haar seun hom gedra.
Hulle is steeds sterk en gesond, maar Roger weier om te glo hy’s “’n genetiese wonderwerk”. “My pa is op en af met sy rug, knie en skouer, maar my ma is superfiks. Hulle speel al twee gholf. Ek voel net ek het aan die begin van my loopbaan die geluk aan my kant gehad en het nie op 20 al operasies nodig gehad nie.”
Hy glo hy het baie ontvang en moet teruggee aan die samelewing. Daarom het hy in 2003 die Roger Federer-stigting op die been gebring wat opvoedkundige projekte in Afrika en Switserland ondersteun en waarby amper ’n miljoen kinders al baat gevind het. Mirka is in die direksie, wat nie verbasend is nie aangesien hy so baie op haar staatmaak.
Hulle het mekaar in 2000 op die Olimpiese Spele in Sydney ontmoet toe albei in die Switserse tennisspan was. “Ons het ’n huis gedeel met die stoeiers, en ek het haar geselskap baie geniet,” onthou hy. “Een ding het tot ’n ander gelei en ons het gesoen. Ons het nie geweet hoe dit vorentoe sou werk nie. Was dit net ’n soen en niks meer nie? Toe ons mekaar weer sien, het ons besef ons hou baie van mekaar en het ons bymekaargebly.”
Hul tweelingdogters, Myla Rose en Charlene Riva, het in 2009 hul opwagting gemaak, en vyf jaar later is die seuns, Leo en Lennart, gebore. Twaalf dae ná die meisies se koms is die gesin Montreal toe vir die Kanadese Ope. Hoeveel doeke het hy omgeruil tussen wedstryde? “’n Ton!” Hy lag.
Die kinders word tuis onderrig. Hy wil hê hulle moet na ’n Switserse skool gaan wanneer hy uittree, maar intussen reis hulle oral saam met ’n oppasser en onderwyser.
Dis nie maklik om met vier jong kinders te reis nie, maar dis hoe hy dit verkies, want hy het ’n baie streng reël: “Ek weier om my vrou se bed te verlaat. Ek het vir haar gesê: ‘Ons wou altyd kinders hê, maar my aanvanklike droom was om by jou te wees en nie in ’n ander slaapkamer op ’n ander verdieping nie.’ Ek slaap eerder met skreeuende kinders as weg van my vrou.”
Hy het reeds ’n paar planne vir ná sy uittrede.
“Omdat ek so baie vlieg, wil ek graag ’n padreis doen en deur Italië, Duitsland, Frankryk en Skandinawië ry. Ek ken Londen nie so goed nie en sal dit graag ordentlik wil beleef as ’n toeris.”
Ek besef Roger se bewonderaars is meer bekommerd oor sy uittrede as hy. Hy het so baie belê in sy loopbaan dat hulle dit nie sal kan verduur as hy op ’n teleurstellende manier klaarmaak nie. Sal hulle hul gelukkige einde kry?
“Al waaroor ek omgee, is my vrou, my kinders en my vriende,” sê hy met ’n glimlag. “Tennis? Wonderlik. As ek nog wen – fantasties. Indien nie, is dit ook goed.”
Diplomaties soos altyd. Ons sal maar moet wag en kyk.