Huisgenoot

TJEERS OP DIE LEWE & LIEFDE!

Die musieklege­nde Jannie du Toit se geluksbeke­r loop oor met ’n nuwe vrou en album

- Deur JACO HOUGH- COETZEE Foto’s: DINO CODEVILLA

VOOR hul troudag het hy sy gevoelens oor sy beminde in ’n spesiale liedjie verewig: Jy Kyk Sag. Ses maande nadat hulle ná ’n warrelwind­romanse afgehaak het, is dit steeds asof die lirieke van die liedjie voor jou uitspeel wanneer die sanger Jannie du Toit en sy Therina na mekaar

kyk: Jy kyk sag, my lief, jou oë is sag op my; ek sing sag, my lief, ek sing my liedjie sag vir jou . . .

Hier in die knus eenslaapka­mertuinwoo­nstel wat die egpaar in Melville huur, maak Jannie (67) nou ’n bottel rooiwyn oop vir ’n heildronk op die lewe en die liefde.

Want hier duskant 70 gaan dit sommer baie goed met die sanger en liedjieskr­ywer – hoe dan anders met ’n nuwe vrou in sy lewe en ’n nuwe album op die rakke?

Sy liedjie opgedra aan Therina (53) is te hoor op sy nuwe album, Oesjaar 2018, wat einde verlede jaar uitgereik is. Die album is ’n viering van sy loopbaan van 48 jaar en sy nuutgevond­e geluk.

Die twee het aan die ander kant van 50 liefde by mekaar gevind. Dit is haar eerste huwelik en hy was 25 jaar lank ’n geskeide man.

“Deur al die jare het ek altyd gehoop om nog ’n vroutjie te kry,” bieg die minnesange­r. “Die getroude lewe kon seker ’n helse aanpassing gewees het, maar omdat sy vir my gestuur is en sag na my kyk, is dit nie.”

Therina vertel vrolik hulle kan mekaar nie irriteer of met mekaar baklei nie, want hulle het dieselfde foute. “Ons is al twee baie verstrooid. Ons misplaas altyd ons sleutels, fone en brille!”

Dan, terwyl Therina glase uithaal, spot sy: “Die plekkie is so klein, ons kan net twee gaste per slag nooi vir ’n kuier.”

Nie dat die twee eintlik tyd het om vriende te onthaal nie, want hulle is albei dolbesig, val Jannie haar in die rede. Hy het tans sewe musiekprod­uksies, of sy “konsertjie­s” soos hy dit noem, wat plaaslik en oor die water toer.

Hy bedryf ook die afgelope 20 jaar sy bekende Melville-gastehuis, Agterplaas, net ’n klipgooi van hul woonstel af. Gelukkig het hy ’n goeie span wat die plek help bestuur wanneer hy weg is, sê hy.

Therina is die direkteur van die Nasionale Raad vir en van Persone met Gestremdhe­id, en sy werk gereeld tot laat.

“Maar ons sorg dat ons tyd vir mekaar kry,” sê die sanger. “Hoe dan anders?” “Dis wragtig so,” sê sy en knik kop. Soos die afgelope Desember, toe Jannie en sy musiekgroe­p drie weke weg was op hul jaarlikse Kaaptoer, ’n instelling van twee dekades. Sy vrou het verlof geneem sodat sy kon saamgaan, maar haar skootreken­aar was ook saam.

Hulle het mekaar juis jare gelede ont- moet toe hy die raad genader het om sy musiekprod­uksie Dagboek van ’n Swerwer toeganklik­er vir mense met gestremdhe­de te maak. Therina het toe al gedink Jannie is “pragtig”, het sy al vertel, maar albei was toe nog in ’n verhouding en hul lewens sou eers 10 jaar later met mekaar verweef word.

Vier maande nadat hul paaie in Oktober 2017 weer gekruis het, het Jannie

haar in Februarie verlede jaar gevra om te trou, en in Junie het die twee in die Melville Kruisgemee­nte in Johannesbu­rg afgehaak. Al het dinge vinnig ontwikkel, was die aanpassing nie groot of moeilik nie, en die twee is duidelik gelukkig en gemaklik saam.

Hul lewe is vol en ryk saam en anders as jonger egpare droom hulle nie van ’n gesin nie. “Nee, jammer,” sê Therina en lag. “Daai boot het ons misgeloop, maar ons het mekaar, en dit is genoeg.”

NOUDAT sy eerste album in baie jare met nuwe liedjies uit sy eie pen op die rakke is, verduideli­k Jannie: “Ek het 15 jaar gelede besluit ek wil eerder sing as skryf.” Die gevolg was ’n reeks produksies waarin hy hulde gebring het aan die werk van ikoniese kunstenaar­s.

Een van dié produksies, Kiekies: Lucas Se Liedjies, gegrond op die werk van Lucas Maree, was op verlede jaar se Aardklopku­nstefees op Potchefstr­oom te sien en is ook gekeur vir vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn.

In 2017 het Jannie weer ’n maand lange konsertree­ks in België en Nederland aangebied met sy produksies Bonjour Monsieur Brel, met die musiek van Jacques Brel, en Doep Is Nie Dood Nie, met die liedjies van Koos du Plessis.

Maar nou is hy eindelik weer op die langpad met iets uit sy eie pen. In die musiekprod­uksie van Oesjaar 2018, wat reeds in talle sale oor Suid-Afrika heen uitgevoer is, sing hy die oorspronkl­ike liedjies op sy nuwe album.

Die idee vir die produksie en album is gebore iewers in 2017, toe hy begin voel het dis tyd om weer self “iets oorspronkl­iks” te doen, vertel hy.

In die 10 nuwe liedjies op die album skryf en sing hy oor die liefde, die natuur, geestelikh­eid en die uitdaging uitdagings wat die land trotseer.

Daar is ook ’n paar bonussnitt­e “van vroeëre liedjies uit my kelder”, soos die rockweerga­we van sy 1981-treffer, ’ n Liedjie vir Jou, wat hy en Karen Zoid herverpak het vir haar kykNET-program, Die Republiek van Zoid Afrika.

Binne ’n uur ná die uitsending van die liedjie in Julie 2018 het dit die eerste plek op iTunes se trefferspa­rade behaal.

Sy eerste ware treffer was waarskynli­k die liedjie Droom langs Stille Waters in 1976, vertel die deurwinter­de sanger toe hy terugdink aan sy lang loopbaan. In daardie tyd was hy lid van die folkgroep Trilogie.

“Daardie liedjie het uitgekom op ’n solus-sewe, en ons het hom ingeskryf vir ’n Amerikaans­e liedjiefee­s. Dit was die enigste Afrikaanse inskrywing. Toe wen ons sowaar $50 in die een of ander afdeling,” vertel hy.

Met die wengeld het hy die sangeres Sonja Herholdt, haar destydse man, FC Hamman, en die sanger Anton Goosen vir ’n braai genooi, onthou hy.

Natuurlik was daar deur die jare ook baie kere dat iets op die verhoog verkeerd geloop het, erken Jannie toe die herinnerin­gs begin terugspoel.

Een van dié onvergeetl­ike blapse was toe hy en Laurika Rauch in 1988 in die produksie Van Berlyn tot Bapsfontei­n gespeel het.

“In een toneel was ek ’n dronkie wat op haar skoot moes val,” onthou hy. “Maar die een aand gly ek so in paaiemente af en beland op die grond. In die proses skop ek een van die kartonmure van die stel om. Die gehoor was histeries, maar ons moes maar net aangaan met die konsert. ”

HIER in Jannie en Therina se tuinwoonst­el hang ’n geraamde skildery van die legendarie­se musikant Christa Steyn. Dis geskilder deur die kunstenaar Diek Grobler en het ’n ereplek in Jannie se huis en hart. Christa het 25 jaar lank saam met Jannie opgetree in musiekprod­uksies en op baie van sy albums klavier gespeel en gesing voor sy in 2012 ná ’ n lang stryd teen kanker dood is. Jannie onthou Christa se laaste TV-onderhoud voor haar dood met Coenie de Villiers op die kykNETprog­ram Kwêla. “Sy het reeds al haar hare verloor en permanent ’n hoedjie gedra,” vertel hy.

“Toe Coenie haar vra hoe sy voel, haal sy daai hoed af, kyk reguit in die kameras en sê: ‘Sy genade is genoeg.’ ”

Toe hy vir sy nuwe album – sy viering van die lewe – ’n huldeblykl­iedjie aan Christa skryf, was dit toe ook presies die regte titel: Sy Genade Is Genoeg.

 ??  ?? Therina en Jannie du Toit vier die liefde en sy nuwe album.
Therina en Jannie du Toit vier die liefde en sy nuwe album.
 ??  ?? LINKS en REGS: Die verliefde egpaar knus in hul tuinwoonst­el wat snoesig en ouwêrelds versier is. BO: ’n Goue kombinasie: Jannie, sy kitaar en sy liedjies. INLAS: Die omslag van sy nuutste album.
LINKS en REGS: Die verliefde egpaar knus in hul tuinwoonst­el wat snoesig en ouwêrelds versier is. BO: ’n Goue kombinasie: Jannie, sy kitaar en sy liedjies. INLAS: Die omslag van sy nuutste album.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa