Huisgenoot

SEUNTJIE TUISER BY OUMA SE HUIS

-

Ek het as tiener swanger geraak en my ma-hulle het my gehelp om die baba te hou en groot te maak. Ek kon matriek klaarmaak en het daarna begin werk, maar steeds by my ouers gewoon en kontak met die pa behou. Eers ’n paar jaar later kon ons trou en na ’n eie plek trek.

My hartseer is dat ons kindjie nie ons nuwe gesin wil aanvaar nie en heeltyd by sy ouma en oupa wil wees. Hulle kuier gedurig oor en weer en bring bederfies. Ek wil hulle nie seermaak nie, maar ons moet nou met ons nuwe lewe begin. Ek werk voltyds. H op E Dit kon nie ’n maklike paar jaar vir jou en jou man gewees het nie, maar julle het die uitdagings van ’n tienerswan­gerskap oorleef. Min paartjies kry dit reg. Jul steunnetwe­rk het sekerlik veel daartoe bygedra.

Om kinders groot te maak is nie ’n kompetisie met ander in of buite jou gesin nie. Beskou jou ouers eerder as vennote en wees bly jou kind en sy grootouers het ’n sterk verhouding. Om jou kind geborge te laat voel, moet jy enige negatiewe gevoelens soos jaloesie opsyskuif en sy beste belange vooropstel.

Vir jou seuntjie is jul nuut saamgestel­de gesin ’n groot aanpassing. Ouer mense is geneig om geduldiger te wees as jong ouers. Dit kan ’n faktor wees waarom hy terugverla­ng na oupa en ouma se huis. Ook vir jou ouers is dit ’n aanpassing dat hul kleinseun nie meer saam met hulle onder een dak is nie. Dis goed dat hulle hom nog gereeld sien, want dit kan die oorgang vir almal vergemakli­k. Ook vir jou en jou man se jong huwelik is dit ’n pluspunt dat julle hom in jou ouers se sorg kan laat wanneer julle wil uitgaan.

Om ’n roetine daar te stel met byvoorbeel­d spesifieke kuierdae vir jou ouers kan tot almal se voordeel strek. Sê gereeld vir hulle hoeveel jy alles waardeer wat hulle al gedoen het, maar begin ook perke stel oor bederfies soos soetgoed en die prys van geskenke vir hom.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa