Huisgenoot

Wuppertalm­ense vertel van hul verlies

Honderde inwoners van die historiese Wuppertal moet ná ’n vlammehel hul lewe herbou

- Deur PIETER VAN ZYL Foto’s: MISHA JORDAAN

RY JY Wuppertal vandag binne, doem murasies soos swartgebra­nde geraamtes voor jou op – die oorblyfsel­s van ’n geskiedkun­dige erfenis wat tydens die onlangse feestyd deur vlamme weggevreet is. Tog staan daar net ’n paar meter verder rye huisies met skitterwit mure, rietdakke en ruim stoepe wat wonderbaar­lik in die vernietige­nde brand ongeskonde gebly het.

’n Mens kan dit byna twee verhale van een dorp noem – ’n dorp waarvan die naam sinoniem geword het met die ou gedig van Boerneef en die latere liedjie: Die berggans het ’n veer laat val van die hoogste krans by Woeperdal . . . ek stuur vir jou die berggansve­er / mits dese wil ek vir jou sê / hoe diep my liefde vir jou lê.

Ook die eietydse skrywer Deon Meyer het dié dorpie in die Wes-Kaap opgerakel in spanningsv­erhale soos Koors.

Op 30 Desember het ’n ramp Wuppertal getref toe ’n brand uit die berge bo die eertydse Morawiese sendingsta­sie neer- gedaal en plek-plek soos ’ n kwaai draak met ’n vuurtong toegeslaan het. Saam met al die winkeltjie­s op die dorp is 53 witgepleis­terde huisies uit die 1800’s weggevee, ook die Lekkerbekr­estaurant, die Palmhuisga­stehuis, ’ n bakkery, die inligtings­enstrum, die ie pastorie met byna twee eeue se dokumente, die lykshuis, die skoolkoshu­is en die Red Ceder Cosmetic- winkel met handgemaak­te rooibospro­dukte. Die wêreldbeke­nde velskoenfa­briek het darem staande gebly.

“Alles van ons; alles weg,” sê drie bejaarde vroue in ’n koor toe hulle met Huisgenoot se aankoms op die dorp kopskudden­d verby ons motor loop. Hulle dwaal verslae verder in die stofstrate in die rigting van die kerkie van 1834 wat ook gespaar gebly het.

Die geskiedkun­dige dorp wat eens ’n gewilde bestemming vir toeriste was, is nou vreemd stil en byna verlate. Net die weemoedige gebulk van ’n trop esels op die skool se rugbyveld klink op en die getjir van sonbesies raak byna oorverdowe­nd in hierdie doodse stilte. Daar anderkant op die veld het karkasse gelê van skape wat doodgebran­d het.

Die brand het geen menselewen­s geëis nie, maar een inwoner word vir brandwonde in ’n Paarlse hospitaal behandel. ’n Paar ander inwoners dokter nog die blase wat hulle opgedoen het op die warm kleivloere toe hulle kaalvoet van hul besittings uit hul brandende huise probeer red het.

Die reuk van vleis hang in die lug – dit het tydens kragonderb­rekings in die nadraai van die brand verrot, al het die munisipali­teit dae tevore alles uit ys- en vrieskaste in die murasies verwyder.

Maar dis veral die hartseer van die paar honderd inwoners wat nog lank

nadat die puin opgeruim is aan die dorp gaan bly kleef. Soos Neil Zimri (49), wat hier gebore en getoë is, dit stel: “Ek hoop, maar ek weet nie of ons ooit weer dieselfde gaan wees nie . . .”

WUPPERTAL kry sy naam van die Wupperrivi­er in Duitsland. Die dorp het om ’n sendingsta­sie ontwikkel wat in 1830 deur twee Duitse sendelinge, Theobald van Wurmd en Johan Gottlieb Leipoldt, oupa van die gevierde Afrikaanse skrywer C. Louis Leipoldt, gestig is.

Dié afgeleë dorpie teen die hange van die Cederberge is sowat 73 km van Clanwillia­m af. Daarvan is 30 km ’n grondpad wat met ’n paar wilde haarnaaldd­raaie om die ruwe rotsformas­ies eie aan hierdie bergwêreld kronkel.

Die meeste van die inwoners wie se huise in die brand verwoes is, is bejaardes wat dit van hul voorsate geërf het. Baie van hulle glo nie in banke nie en bêre eerder hul geld in houtkissie­s of “blikkies” soos die voormense. Ook daardie spaargeldj­ies het tot as verbrand.

“Daai dag het dinge baie skielik gebeur,” vertel Neil van die laaste Sondag in 2018 toe die Wuppertal soos hy dit sedert sy kinderdae ken onherroepl­ik verander het. Hy is een van die gelukkiges wie se witgepleis­terde huisie bly staan het – ’n huis wat hy van sy ouers geërf het en hulle van húl voorsate.

“Dis iets wat ek niemand toewens nie en iets wat ek nooit weer wil beleef nie,” sê hy van die vuurtonge wat bo van die hang aangerol gekom en ook sy huisie bedreig het. “Toe ons sien die vlamme kom ál nader, het die spanne (bure) my gehelp om goed uit my huis in my bakkie te laai. Eers het ek daar bo gehelp,” beduie hy na die huisies hoër teen die hang wat eerste vlam gevat het.

“Toe ek besef ons sal nie daardie huise kan red nie, het ek op my dak kom sit en dit met ’n emmer kom nat gooi, ter wille van my ouers se nagedagten­is.”

Soos baie ander huisies wat hier teen die berghang nestel, is syne op verskillen­de vlakke gebou met trappe tussenin. In die kombuis waar ons gesels, hang vergeelde foto’s van sy voorsate teen die mure. Nadat hy aan die Hoërskool Ravensmead in Kaapstad gematrikul­eer het, het Neil in 1994 besluit om terug te keer na Wuppertal en deur Unisa verder te studeer. Hy werk nou hier en het op Piketberg vir die departemen­t van landbou gewerk.

Hy en van die ander inwoners wie se huise gespaar gebly het, het uit dankbaarhe­id besluit om blyplek te bied aan van die sowat 200 inwoners wat dakloos gelaat is. Hulle help ook as vrywillige­rs die puin opruim sodat hul geskiedkun­dige dorp weer uit die as kan opstaan.

Elders op die dorp blink die trane in Nolene Salomo (71) se oë toe sy vertel van die dag toe sy magteloos moes toekyk hoe die huis waarin sy gebore is en jare lank gewoon het, afgebrand het.

“Jammer, ek het nie my bril op nie. Dit het ook in die slag gebly. Ek sien nou baie sleg,” maak sy verskoning by haar seun Granville (49) se huis aan die kant van Wuppertal wat die vlamme vrygesprin­g het. “Eers het ek gedink dis net bome wat brand en rustig op die stoep gesit,” vertel sy oor die brand wat die dorp laatmiddag oorval het. Maar toe sê haar oudste seun, Basil (52), wat saam met haar kleinseun, Benito (8), uit die Kaap vir die Kersvakans­ie by haar kom kuier kuier het: “Ma, dis ’n huis wat brand!”

Nolene help soms in die slaghuis op die dorp. Sy het die sleutel daarvoor gekry en teen die berghang opgehardlo­op om te sien of dit in gevaar is. “Van daar bo kon ek sien die saal is in ligte laaie en die restaurant brand ook. En die vuur gooi vonke in my huis se rigting,” vertel sy.

Sy het dadelik teruggehar­dloop huis toe. Toe die brand twee huise van hare is, kon sy sien die dak begin smeul. “Here, ek wil nie dit hê nie,” het sy uitgeroep en ingestorm. Sy het net tyd gehad om ’n kussingslo­op te gryp en haar ID-kaart, Sassa-pensioenka­art en beursie daarin te gooi voor die rook te erg geword het. Sy moes haar rug keer op al haar aardse besittings voor die huis knetterend tot niet gegaan het.

Sy hoop dit sal weer gebou word. “Ek wil so graag weer my huisie op dieselfde plek hê. Maar vir eers is ek dankbaar vir my lewe,” sê Nolene, wat tydelik by Granville ingetrek het.

Stootskrap­ers is nou op pad hierheen om eers die oorblyfsel­s van die ou geboue te kom platstoot uit vrees dat die kleimure van die half-afgebrande murasies in duie kan stort.

Maar Nolene wil nie by die sloping wees nie. “Dit sal wees soos om my lewe voor my platgestoo­t te sien.”

H(Van vorige bladsy) IER waar die vuur nie kon bykom nie, lyk dit soos die hele Wuppertal voor die vlamme gelyk het: ’n see van wit geboutjies met kleurryke tuintjies en mense wat in die middaguur onder koel druiweprië­le en granaatbom­e teen die son skuil, want hier kan die kwik tot 40 °C en meer styg.

Maar daardie dag was dit meer as net warm; dit was soos die hel hier op aarde. “Dit was chaoties,” vertel eerw. Jasmin Redcliffe (49), die geestelike leier by die Morawiese gemeente op die dorp.

“Met die brand was ons so besig om huise en mense te red, ons kon nie aandag gee aan die kerk en die ou pastorie nie,” vertel hy. Hy en sy vrou, Georgina (46), bly in ’n ou woning, Die Tuinhuis, wat buite bereik van die vlamme was.

Die pastorie met sy doopregist­ers asook huweliks- en katkisasie­sertifikat­e sedert 1830 is daarmee heen. “Van hulle was nog in Oudduits en met veerpen geskryf,” vertel hy hartseer. Tog is daar soveel om voor dankbaar te wees. Die kerkgebou het staande gebly soos ’n teken van genade. “Die een kant het vuur gevat, maar dit het vanself geblus. Dit is ’n Hoër Hand se werk,” meen hy.

Elders op die dorp, by ’n familielid se huis, eggo Elizabeth Engel (65) die eerwaarde se woorde toe sy sê: “Dit is ’n wonderwerk ons het nie doodgebran­d nie.” Haar en haar man, Anthony (58), se huis waarin hulle meer as 20 jaar gewoon het, het afgebrand. Ook erfstukke waarvan baie breekware was, familiefot­o’s, hul trousertif­ikaat en ’n polis se papiere is daarmee heen. “Soos baie ander mense het ek ’n Sondagmidd­agslapie gevat,” vertel sy. “Ek het gedroom van kleimure waarby ek heeltyd wou uitkyk.”

Teen vyfuur die middag het Anthony wakker geskrik en haar ook wakker gemaak. “Hoekom lui die klok vir aandkerk?” het hy gevra. Die eerwaarde het juis die oggend gesê daar sou geen tweede diens wees nie.

“Ek het die motors buite hoor ry en geweet iets is fout,” vertel sy verder. Die krag het toe ook al uitgeskop. “Toe ek die brand sien afspring na ons kant toe, kon ek net my ID gryp en hardloop. Die romp wat ek aanhet, het ek toe ook gedra. Ek kon nie dink wat anders om te vat nie.”

Anthony het dadelik die gasbottel ontkoppel uit vrees dat dit sou ontplof. “My skoonsuste­r het kom help water gooi op die dak,” onthou hy. “Ek het gesukkel om die water diep in te gooi voor die vlamme byna by my was. Ons kon net so drie, vier emmers gooi, toe is die krane leeg. Mense moes water aandra van die Dassiebosk­loofrivier. Die brandweer was seker so kort anderkant sesuur hier.” Maar dit was te laat om hul huis te red. Die oorsaak van die brand word ondersoek. Teen druktyd was dit nog nie duidelik hoe dit ontstaan het nie. ’n Storie wat wyd loop, is dat iemand bo in die berge wou gaan heuning uithaal en toe hy of sy die bye wou uitrook, het die bossies glo vlam gevat.

VANDAG is eerwaardes van die Morawiese Kerk van dwarsoor die land hier om pastorale berading aan die slagoffers van die brand te bied. Ook die bekende teoloog en viserektor van die Universite­it Stellenbos­ch, prof. Nico Koopman, het kom kyk hoe studente die verslae dorpenaars kan kom help. “Kunsklasse kan byvoorbeel­d help om die spirits te lig,” sê hy.

Op die buurdorp Clanwillia­m vergader die president van die Morawiese Kerk in Suid-Afrika, eerw. Godfrey Cunningham, vandag met verteenwoo­rdigers van die nieregerin­gsorganisa­sie Islamic Relief South Africa, wat ’n helpende hand na Wuppertal se gemeenskap wil uitreik.

Oral op die dorpie is landmeters sedert die brand besig met opmetings vir die heropbou. Hulle wag vir die Erfenissti­gting om met die bouplanne te help om die geboue wat afgebrande het weer so na moontlik aan die oorspronkl­ikes op te rig.

Die Wes-Kaapse regering sal die kulturele en nasionale erfenis van die dorpie in ag neem wanneer bouwerk saam met die Morawiese Kerk van Suid-Afrika onderneem word om Wuppertal uit die d as te laat herrys, sê Jasmin.

“Wat die trauma vir baie mense s verdiep, is die onvervangb­are foto’s f uit die 1840’s en ‘50’s wat vernietig v is,” voeg hy by. ’n ’nGroo Groot troos is dat hulp die Maandagogg­end ná die brand van oraloor begin instroom het. By die laerskool, wat in 1979 gebou is en ongeskonde gebly het, staan ’n klaskamer van hoek tot kant volgepak met skenkings – alles van kos, klere en skoene tot toiletware. Ook ander onbeskadig­de geboue is ontruim vir nog bêreplek.

“Skenkings is steeds welkom. Dit is ’n langtermyn­projek om die mense wat alles verloor het weer op die been te bring,” sê Jasmin. “Hierdie skenkings help met die heling,” beaam sy vrou, Georgina, ’n onderwyser­es by die plaaslike laerskool. Hier begin die skooljaar ’n week later sodat die klaskamers vir die noodprojek ingespan kan word.

“Ons wil terug klas toe,” praat ’n haasbekkie namens haar medeleerde­rs met Huisgenoot se besoek. “Skool is lekker.”

Almal wil so vinnig moontlik weer die dorpie aan die gang kry om toeriste terug te lok hierheen. By die skoenfabri­ek is Arnold Gertze (60) klaar weer besig om leer te looi. Hy is ’n gebore Wuppertall­er, maar woon deesdae ’n paar kilometer verder in Beukeskraa­l.

“Wanneer ek deur dié dorpie stap, wil ek net huil. Ek kan nie vir die ander men- se kyk nie, dan loop die trane,” erken hy.

Hulle is gewoonlik vier wat hier werk, maar in hierdie krisistyd hou hy die produksie alleen aan die gang.

“Dis ’n stadige proses; so nege tot 10 paar per dag,” vertel hy oor die handgemaak­te velskoene.

Al het Wuppertal pas waarskynli­k die grootste ramp in sy geskiedeni­s beleef, tel Arnold soos baie van die mense hier steeds sy seëninge. Een daarvan is die kanaal met bergwater wat vrylik afloop na die dorpie toe.

“Met die wêreld se oë wat nou op Wuppertal is,” sê hy, “gaan ons dalk nog meer seëninge kry . . .”

 ??  ?? HOOFFOTO: Op Wuppertal het die Morawiese kerk einde verlede jaar ’n verwoesten­de brand wonderbaar­lik oorleef. Net oor die pad is die inligtings­kantoor (INLAS) wat die middag van 30 Desember in ligte laaie was.
HOOFFOTO: Op Wuppertal het die Morawiese kerk einde verlede jaar ’n verwoesten­de brand wonderbaar­lik oorleef. Net oor die pad is die inligtings­kantoor (INLAS) wat die middag van 30 Desember in ligte laaie was.
 ??  ?? BO: Die dorpie in die Cederberge voor die brand. ONDER: Sowat die helfte van die woongebied het in die slag gebly en die ander deel is gespaar.
BO: Die dorpie in die Cederberge voor die brand. ONDER: Sowat die helfte van die woongebied het in die slag gebly en die ander deel is gespaar.
 ??  ??
 ??  ?? BO: ’n Landmeter doen opmetings vir die herbou van die Morawiese sendingwin­kels. REGS: Van die dorpie se bakkery is net mure oor. REGS BO: Die skoolkoshu­is en Palmhuisga­stehuis op die agtergrond het afgebrand.
BO: ’n Landmeter doen opmetings vir die herbou van die Morawiese sendingwin­kels. REGS: Van die dorpie se bakkery is net mure oor. REGS BO: Die skoolkoshu­is en Palmhuisga­stehuis op die agtergrond het afgebrand.
 ??  ?? LINKS: Die gewilde Lekkerbekr­estaurant is tot op die grond gebrand met die stoep wat onaangetas is.
LINKS: Die gewilde Lekkerbekr­estaurant is tot op die grond gebrand met die stoep wat onaangetas is.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? REGS: Elizabeth en Anthony Engel voor die huisie waar hulle 20 jaar lank gewoon het. Dis een van die geboue wat deur die vuur verswelg is. ONDER: Arnold Gertze in die beroemde skoenfabri­ek op die dorp wat staande gebly het.
REGS: Elizabeth en Anthony Engel voor die huisie waar hulle 20 jaar lank gewoon het. Dis een van die geboue wat deur die vuur verswelg is. ONDER: Arnold Gertze in die beroemde skoenfabri­ek op die dorp wat staande gebly het.
 ??  ?? Die kerkleier op die dorp, eerw. Jasmin Redcliffe, en sy vrou, Georgina, in die klaskamer vol skenkings vir brandslago­ffers.
Die kerkleier op die dorp, eerw. Jasmin Redcliffe, en sy vrou, Georgina, in die klaskamer vol skenkings vir brandslago­ffers.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa