Huisgenoot

Verleenthe­id ná Jeff Bezos se affair

Die boodskappe van die wêreld se rykste man aan sy minnares het die wêreld geskok, maar sy vrou lag heelpad bank toe

- Saamgestel deur KIRSTIN BUICK BRONNE: TMZ, PEOPLE, THE SUN, FORBES, VOGUE, CNN, QUARTZ, BBC, THE TELEGRAPH, CNBC, PAGESIX

SY BANKBALANS is nie al wat groot is van die wêreld se rykste man nie. Dis nou as ’n mens die skandalige selfoonboo­dskappe kan glo wat die getroude Jeff Bezos aan sy getroude minnares gestuur het. Volgens die soetsappig­e boodskappe wil die baas van die tegnologie- en e-handelreus Amazon haar graag ruik en “inasem”.

“Ek sal jou met my lyf en my lippe en my oë wys hoe lief ek jou het,” skryf hy aan die sexy donkerkop Lauren Sánchez.

Toe die boodskappe nou onlangs uitlek, was dit nie net ’n skok omdat Jeff en sy vrou, MacKenzie, ná 25 jaar steeds gelukkig getroud gelyk het nie, maar ook omdat hulle so erg privaat is dat hul vier kinders se name nie eens bekend is nie. En hier hang die biljoenêr se vuil wasgoed skielik op die draad waar die hele wêreld dit kan sien.

Die Bezos-egpaar, wat $136,2 miljard (R1,9 biljoen) sterk staan, het na die ideale paar gelyk. Die baas van die aanlyn maatskappy het al sakeafspra­ke gekanselle­er sodat hy sy skrywersvr­ou se jongste manuskrip vir haar kon lees; sy was die een wat klein dingetjies vir hom gedoen het soos om vitamiene in sy sokkies weg te steek wanneer hy reis.

Dit het geklink soos ’n “huwelik tot die dood ons skei”, het die Telegraphj­oernalis Celia Walden dit beskryf.

Maar ’n twiet van die Bezos-egpaar het ’n einde aan daardie idee gemaak: “Ná ’n lang tydperk van liefdevoll­e verkenning en ’n proefskeid­ing het ons besluit om te skei en ons gedeelde lewens as vriende voort te sit.

“Ons bly ’n gesin en ons bly gekoesterd­e vriende.”

Jeff koester egter blykbaar veral sy vriendin Lauren, wat nog getroud is met Patrick Whitesell, die baas van ’n talentagen­tskap in Hollywood. Lauren en Patrick het oor en weer gekuier saam met die Bezos-egpaar, want hulle het ook ’n paleisagti­ge woning naby hulle in Seattle.

Lauren, ’n 49-jarige Emmy-bekroonde nuusleser, verslaggew­er, aktrise en vlieënier, het in 2016 die eerste vrou geword wat ’n ondernemin­g begin het wat verfilming en fotografie uit die lug doen. Sy doen baie van die vliegwerk self, maar het heel onder begin: “Ek het agter in my ouma se motor geslaap terwyl sy huise skoongemaa­k het,” het sy aan The Hollywood Reporter vertel.

Sy het al in People se “50 Most Beautiful”- en Us Weekly se “Hot Bodies”uitgawe verskyn. Sy is die ma van ’n seun uit ’n verhouding in 2001 en ’n seun en dogter by Patrick. Sy is gewoond aan A-lys-geselskap – op hul troue 13 jaar gelede het dit geskitter van sterre soos Ben Aff leck, Matt Damon, Jennifer Garner en Jessica Alba. Hugh Jackman het selfs vir hulle ’n liedjie gesing.

Die tydskrif National Enquirer beweer nou dit het vir Jeff en Lauren oor veel meer as vriendskap gegaan. Hul verslag-

gewers het die paar vier maande lank agtervolg en foto’s van die twee geneem “in privaat stralers, lang limo’s, helikopter­s, vyfsterhot­elle en weggesteek­te liefdesnes­sies”.

Jeff “het sy minnares na eksotiese bestemming­s geneem in sy privaat straler van $65 miljoen” en het “stoute boodskappe en erotiese selfies” aan haar gestuur.

Volgens National Enquirer het MacKenzie van die affair uitgevind toe sy na Jeff se passasiers­lys kyk en Lauren se naam daar sien.

’n Ander nuuswebtui­ste skryf egter Jeff en Lauren het eers begin uitgaan nadat die Bezos- egpaar uitmekaar is en “Patrick en MacKenzie het maande lank al van die verhouding geweet”.

Dis miskien waarom die Amazonbaas Lauren openlik aan sy sy gehad het by die spoggerige Golden Globes-partytjie en hulle so duidelik in hul noppies was met mekaar.

Wie weet of dit so sal bly noudat Jeff se liefdesboo­dskappe die wêreld vol lê? Volgens bronne na aan die Enquireron­dersoek is die een wat die boodskappe uitgelap het niemand anders nie as Lauren self. Sy het blykbaar die boodskappe aan ’n vriend gestuur – wat dit aan die Enquirer gestuur het . . .

TOE Jeff en MacKenzie mekaar in 1993 ontmoet, was albei slimkoppe. Sy het in New York om ’n werk aansoek gedoen, want sy het geld nodig gehad om haar rekenings te betaal terwyl sy besig was met haar skryfwerk.

“My kantoor was langs syne, en heeldag lank het ek daardie fantasties­e lag gehoor,” het sy aan Vanity Fair gesê ná die bekendstel­ling van haar tweede roman, Traps, in 2013.

Net drie maande nadat hulle begin uitgaan het, het Jeff haar gevra om te trou, en drie maande later het hulle afgehaak. Kort daarna het die 30-jarige Jeff sy vrou vertel van sy idee om boeke oor die internet te verkoop.

“Ek het gesê ek wil my werk los en hierdie mal ding doen wat seker nie sou werk nie, en ek was nie seker wat daarna sou gebeur nie,” het hy in ’n onderhoud vertel. Sy 23-jarige vrou het daarvoor kans gesien. “Ek het geen sakesin nie, maar het gesien hoe opgewonde hy was,” het sy gesê.

Toe pak hulle hul goedjies in die motor met haar agter die stuur en hy wat sy sakeplan in die passasiers­itplek op sy skootreken­aar tik. Hulle het ’n eenslaapka­merwoonste­l in Seattle gehuur terwyl albei daaraan gewerk het om Jeff se droom ’n werklikhei­d te maak.

Aan die begin het Amazon net boeke verkoop – wat Jeff persoonlik met sy 1987-Chevy Blazer by die poskantoor gaan aflewer het. Toe die idee begin werk, is musiek en video’s ook verkoop. Toe vra Jeff sy klante wat hulle graag aanlyn sou wou koop.

“Die lys was ongeloofli­k lank,” het hy in 2016 vertel. “’n Lig het vir my opgegaan: Mense sou hierdie nuwerwetse e-handel gebruik om basies enigiets te koop.” oop.”

Terwyl die ekstrovert Jeff sy sakeryk begin bou het, het die terug- uggetrokke MacKenzie tuisgebly om te skryf en kinders groot te maak. k.

“Die gesin is baie belangrik vir Jeff, en hy maak totaal op haar aar staat om ’n stabiele huislewe te skep,” het die wetenskapl­ike Danny ny Hill, ’n ou vriend, ’n ruk gelede de gesê. “Hulle is so ’n gewone, hegte te gesin; dis amper abnormaal.”

Hulle het drie seuns van hul eie ie en ’n dogter wat hulle uit China na aangeneem het.

Met Jeff wat besig was om die e internet oor te vat en vier spruite in hul huis, moes MacKenzie se skrywery dikwels tweede kom. Dit het haar 10 jaar geneem om haar eerste roman, The Testing of Luther Albright, te voltooi.

Sy was slimmer toe sy haar tweede boek takel en het ’n woonstel naby hul huis gehuur waar sy in vrede kon skryf voor sy aan die einde van die dag die kinders by die skool gaan oplaai. Sy was ’n bekende gesig op die skool se parkeerter­rein, het Vogue berig. In jeans, stewels en ’n leerbaadji­e sou jy nooit raai sy is die vrou van die wêreld se rykste man nie.

Maar sy lyk nie meer soos in daardie dae nie: Die valerige haartjies is nou ’n gesonde blinkbruin en sy het in haar ontwerpers­rokke ’n elegante prentjie geskep aan haar man se sy.

AL SKEI hulle nou, sal MacKenzie haar nooit oor geld hoef te bekommer nie.

“Hul egskeiding vind plaas op ’n vlak van rykdom wat byna sonder presedent is,” skryf The New York Times.

“Dit lyk baie waarskynli­k dat wat ook al Jeff by Amazon verdien het binne gemeenskap van goedere val,” sê ’n prokureur van Seattle, David Starks, aan die tydskrif Forbes.

Dit beteken nie noodwendig MacKenzie sal ’n klomp Amazon-aandele ontvang nie, het hy bygevoeg, maar eerder wat hulle in kontant werd is. As sy die helfte van die bates ontvang, sal sy ná haar egskeiding meer as $68 miljard (R938 miljard) werd wees – wat haar die rykste vrou ter wêreld sal maak.

Hoeveel hulle albei verloor, blyk uit een sin in hul aankondigi­ng: “Al het ons geweet ons sou ná 25 jaar uitmekaarg­aan, sou ons dit alles weer gedoen het.”

 ??  ?? Jeff se nuwe meisie, die TV-aanbieder Lauren Sánchez. Sy is ook ’n entreprene­ur en vlieënier.
Jeff se nuwe meisie, die TV-aanbieder Lauren Sánchez. Sy is ook ’n entreprene­ur en vlieënier.
 ??  ?? HOOFFOTO: Jeffffffff­ff Jeff enMacen MacKenzie Bezos was 25 jaar lank saam. BO: Die egpaar in 2003.
HOOFFOTO: Jeffffffff­ff Jeff enMacen MacKenzie Bezos was 25 jaar lank saam. BO: Die egpaar in 2003.
 ??  ?? Patrick Whitesell, Lauren en Jeff in 2016 op ’n partytjie in Los Angeles.
Patrick Whitesell, Lauren en Jeff in 2016 op ’n partytjie in Los Angeles.
 ??  ?? BO: Jeff in 2005, toe Amazon net boeke verkoop en planne beraam het om uit te brei. REG REGS BO: Dié foto van ’n gespierde Jeff by ’n konferensi­e in Idaho in Julie 2017 het soos ’n veveldbran­d aanlyn versprei.
BO: Jeff in 2005, toe Amazon net boeke verkoop en planne beraam het om uit te brei. REG REGS BO: Dié foto van ’n gespierde Jeff by ’n konferensi­e in Idaho in Julie 2017 het soos ’n veveldbran­d aanlyn versprei.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa