Is sy die VSA se 1ste vrouepresident?
Alexandria Ocasio-Cortez is die jongste vrou wat tot die Amerikaanse kongres verkies is; kan sy dalk tot in die toppos vorder?
STAAN opsy, Hillary Clinton, Michelle Obama en Oprah Winfrey – Amerika se eerste vrouepresident kan straks ’n voormalige kelnerin uit ’n arm deel van New York wees.
Vir jong Amerikaners is Alexandria Ocasio-Cortez soos manna uit die hemel. Dié wel-ter-tale- en sosialemediaslim vrou het die stugge politieke landskap van die Trump-era soos ’ n warrelwind getref.
Die ouer geslag hou dalk nie van haar nie, maar AOC, soos sy onder aanhangers bekendstaan, gee nie om nie.
Sy is net 29 jaar oud – die jongste vrou wat nóg in die Amerikaanse kongres gedien het, en beeldmateriaal van waar sy vroeër dié maand ingehuldig word, het mense wêreldwyd geïnspireer.
Die video van haar onlangse intreerede voor die huis van verteenwoordigers is meer kere gekyk as dié van enige ander lid van die Demokratiese Party, waarvan sy ’n lid is, óf die Republikeinse Party.
Die toespraak is in die eerste 12 uur meer as 1,16 miljoen keer gekyk, volgens die uitsaaionderneming C-Span.
Alexandria het 2,45 miljoen volgelinge op Twitter en 1,8 miljoen op Instagram, en haar platforms groei steeds namate sy mense met haar benadering bekoor.
’n Goeie voorbeeld hiervan is haar antwoord op onlangse kommentaar deur Aaron Sorkin, die Oscar-bekroonde skepper van die TV-reeks The West Wing, wat “nuut verkose Demokrate” aangemoedig het om “op te hou om hulle soos jong mense te gedra”.
Wat doen AOC toe? Sy teken aan op ’n regstreekse stroom van die videospeletjie Donkey Kong op die stroomdiens Twitch en vertel dat sy mal was oor die Nintendo 64-speletjieskonsole.
Maar daar steek meer hierin as ’ n millenniër wat oor speletjies praat: Die stroom is gereël om geld in te samel vir die ondersteuning van genderdiversiteit.
Diversiteit is ’n saak wat haar na aan die hart lê. Sy het die nuuskanaal CBS gekritiseer vir hul “opmerklike tekort” aan swart verslaggewers onder diegene wat aangewys is om volgende jaar oor Amerika se verkiesing verslag te doen.
“Onaanvaarbaar in 2019,” het sy getwiet. “Probeer weer.”
In die weke sedert sy verkies is, het die “demokratiese sosialis”, soos sy haarself beskryf, haar ouer kollegas verplig om kwessies te takel wat hulle gewoonlik eerder vermy – ’n “buitengewone vermoë vir ’n eerstetermynlid van die kongres”, sê The New York Times.
Een van dié kwessies is ’n plan om klimaatsverandering te pak. Alexandria het by betogers aangesluit en die kantoor van die destydse speaker van die huis van verteenwoordigers, Nancy Pelosi, beset om klimaatsverandering in die kollig te plaas.
Die rebelse optrede het so ’n beroering veroorsaak dat twee senators reeds die klimaatsplan onderskryf het.
In haar veldtog het sy vir gewaarborgde werkgeleenthede, ’n mediese fonds vir almal, gratis openbare kolleges en die ontbinding van die Amerikaanse wet op immigrasie voorspraak gemaak.
Met dié benadering het Alexandria die setel verlede jaar voor die voorsitter van die Demokratiese koukus, Joe Crowley, se neus weggeraap.
Haar linkse beleid te midde van pres.
Donald Trump se regse bewind het kommentators laat sê sy moet haar as president verkiesbaar stel wanneer sy die dag oud genoeg is – 35 is die grondwetlike vereiste.
“As sy Washington oorleef,” skryf Carli Pierson, ’n New Yorkse prokureur, “staan ‘Ocasio-Cortez’ beslis op die Demokratiese benoeming van 2024 geskryf.”
ALEXANDRIA se opgang het nie die gewone patroon in die Amerikaanse politiek gevolg nie: Sy het nie ’ n regsgraad aan ’n elite universiteit nie en haar ouers het geen buitengewone kontakte nie.
Sy is in die Bronx, ’n werkersklasbuurt van New York, gebore. Haar ouers, Blanca Cortez en Sergio Ocasio, is van Puerto Rico. Blanca was ’n skoonmaker en Sergio, ’n argitek, het ’n klein onderneming bestuur.
Toe Alexandria vyf jaar oud was, het die gesin na Yorktown Heights getrek, ’n effens beter voorstad sowat 40 minute daarvandaan, sodat sy ’n beter skool kon bywoon.
Dié verhuising sou later Alexandria se slagspreuk tydens haar veldtog inspireer. “Ek is gebore op ’n plek waar jou poskode jou lot bepaal,” het sy gesê.
Aan die Universiteit van Boston, waar Alexandria haar studiegeld met beurse betaal het, het sy haar tot die politiek gewend en in 2011 ’n B.A.-graad in internasionale betrekkinge met lof verwerf.
Met dié uitslag het sy nie dadelik ’n gerieflike werk losgeslaan nie. Haar pa is in 2008 aan kanker oorlede, en sy is terug huis toe om haar ma te help kop bo water hou. Bedags het sy by ’n liefdadigheidsorganisasie gewerk en saans as kelnerin in restaurante en kroeë.
Maar haar liefde vir die politiek het in 2016 die oorhand gekry en sy het vir Bernie Sanders se veldtog gewerk.
Terwyl sy met die veldtog gehelp het, het ’n reis na die toneel van ’n groot betoging vir haar ’n keerpunt geword. Die betogers was gekant teen die bou van ’n oliepyplyn, want dit sou plekke skend wat vir inheemse mense heilig is.
“Ek het gesien hoe ’n korporasie homself teen die Amerikaanse mense gemilitariseer het, en ek het gevoel ons is in ’n stadium waar ons nie meer kan bekostig om politiek te ignoreer nie.”
Sy het haar in haar geboorteplek verkiesbaar gestel. Sy het haar verskeie betrekkings laat vaar en met die hulp van haar kêrel, Riley Robert, ’n webontwikkelaar, en van haar spaargeld geleef.
Alexandria het ’n skoot in die donker gewaag om die politieke swaargewig Joe Crowley uit te daag. Sy was die buiteperd, en boonop het sy nie geld vir ’n veldtog gehad nie.
“Jy kan nie geld met nog geld klop nie,” het sy destyds gesê. “Jy moet dit met ’n ander speletjie klop.”
Haar spel was op voetsoolvlak. Sy en haar groeiende groep ondersteuners het die sypaadjies ingevaar en by jong, swart en Latyns-Amerikaanse stemmers vlerk gesleep.
“Ons het net onophoudelik aan deure geklop en met die gemeenskap gepraat,” sê sy.
Op die ou end het sy net meer as R2,5 miljoen teenoor Crowley se R47 miljoen bestee.
Dit het vrugte afgewerp. Met 57% van die stem het sy Crowley verpletter en haar aandag op die kongres gevestig. Sy moes die Republikeinse kandidaat Anthony Pappas klop – eindelik ’n selfs makliker oorwinning. Sy het die verkiesing met 78% van die stemme gewen.
Haar standpunte en veldtogvoering het haar die respek en steun van mense soos oudpres. Barack Obama en Bernie Sanders besorg. H AAR opgang tot politieke superster was nie sonder uitdagings – of ’n dosis moddergooiery – nie.
Op die vooraand van Alexandria se inhuldiging het ’n video uitgelek waarop sy in haar universiteitsdae op ’n dak dans.
“Hier tree Amerika se gunsteling- kommunistiese wysneus op soos die oningeligte domkop wat sy is,” het die anonieme twiet gelui. Maar jy takel nie die koningin van Twitter in haar eie agterplaas nie.
Die poging om haar te laat sleg lyk, het gruwelik geboemerang: Haar ondersteuners het tot haar redding gekom.
“Nou is dit klaarpraat met haar,” het Karen Tumulty, ’n korrespondent vir The Washington Post, getwiet: “Pas onthulde video onthul AOC was in haar studentedae . . . dierbaar!”
Soos gewoonlik het Alexandria self ook vinnig teruggekap en ’n video geplaas waarop sy buite haar splinternuwe kantoor dans.
“As Republikeine gedink het dis ’n skande as vroue op universiteit dans,” het sy getwiet, “wag tot hulle uitvind vroue dans in die kongres ook.” BRONNE: THE GUARDIAN, AL JAZEERA, THE NEW YORK TIMES, THE CUT, TIME, OZY.COM, MARIE CLAIRE