Vleilande skep unieke ekostelsels
Waar grond en water mekaar ontmoet, skep vleilande unieke en waardevolle ekosisteme
SUID-AFRIKA is ’n droë land en baie riviere en strome is besoedel. Droogtes is algemeen, maar oorstromings vind ook plaas. Water kom op verskillende plekke voor, maar ’n spesiale gebied waar dit ’n belangrike rol speel, is vleilande. Ongelukkig word hierdie belangrike waterbronne te maklik deur mense beskadig of vernietig.
Vleilande is stukke grond waar die watertafel by die oppervlak is en wat permanent of vir lang tye deur ’n vlak laag water bedek word. Sommige kan so deurdrenk met water wees dat moerasse vorm. Vleilande is oorgangsgebiede tussen droë grond en water.
Kenners meen vleilande moet beskerm word omdat dit ’n waterkrisis kan voorkom.
Suid-Afrika het meer as 115 000 vleilande.
Dis nie net noodsaaklike waterbronne nie; dis gebiede wat ’n hele ekosisteem onderhou en biodiversiteit verseker. Vleilande is propvol lewe. Dis lekker blyplekke vir voëls, plante en diere en verskaf voedsel aan vee.
Vleilandgebiede wat in strome en riviere voorkom, kan help om oorstromings te keer deurdat dit ’n groot, vlak “bak” vorm. Water word hier opgevang en terwyl die water uitvloei, verminder die spoed daarvan. Meestal vloei dit weer aan die ander kant verspreid uit. Op dié manier word vloedwater en veral erosie beperk.
Vleilande is meestal vol natuurlike plantegroei, en dit help om afsaksels, belangrike voedingstowwe (soos stikstof en fosfor), onsuiwerhede (soos bakterieë) en ander gifstowwe daarin vas te vang. Wanneer water deur ’n vleiland vloei, werk d die vleiland soos ’ n natuurlike filter wat onsuiwerhede uit die water verwyder. Water wat aan die ander kant van die vleiland uitkom, is dus gewoonlik skoner.
Riete is volop in vleilandgebiede. Mense gebruik dit vir dakke, mandjies en verskeie ander rietprodukte. Afges sien hiervan is die gebiede ’n lieflike p plek vir mense wat daarvan hou om na voëls te kyk, en veral hengelaars geniet vleilande baie.
VEENVLEILANDE
Veen is ’n grondsoort wat uit halfontbinde plantstowwe ontstaan. ’n Veenvleiland se bodem bestaan uit veen. Veen bevat organiese materiaal soos riete, biesies en mos wat deur die jare in die vleiland opgehoop het. Hierdie soort vleie is altyd nat; daarom kan die plante daarin nie vinnig afgebreek word nie. Daar word gereken ’n tiende van Suid-Afrika se vleilande bevat veen.
Na raming word dubbel soveel koolstof in veenvleilande wêreldwyd geabsorbeer as in woudgebiede. Dié vleilande is aangepas om as buffers vir vloedwaters te dien. Dit bevat veenvormende plante wat water suiwer en waarvan die wortelstelsels sediment vasvang om grondverlies en erosie te voorkom.
BEDREIGINGS
Meer as 60% van Suid-Afrika se vleilande is onherstelbaar vernietig of gaan agteruit. Die oorsake van hierdie vernietiging sluit in die dreinering daarvan vir ontwikkelings ( behuising, winkels en ander geboue), erosie, indringerplante, brande en nadelige aksies weens ’n gebrek aan kennis van hoe hierdie ekosisteme werk.
Die grootste gevare vir hierdie noodsaaklike lewensbron kom egter van landbou- en mynbouaktiwiteite.