SALA KAHLE, DISTRICT SIX
Deur NOMVUYO NGCELWANE (Kwela, R159*)
Bladsy vir bladsy wag ek om te lees van die dag toe die stootskrapers gekom het, maar Nomvuyo Ngcelwane skryf nie hieroor nie. Sy skryf oor die wanopvatting dat Distrik Ses eksklusief deur bruin mense bewoon is.
“Daar word dikwels vergeet dat ons dieselfde sentimente oor die plek het as hulle. Hoe op aarde kan van my verwag word om 20 jaar van my lewe te vergeet?” vra die skrywer in haar voorwoord. Agterin die boek, wat nou heruitgegee is nadat dit in 1998 die eerste keer verskyn het, gee sy dan ook ’n lys van die swart families en die strate waarin hulle gewoon het.
Die Ngcelwane-gesin – ma, pa en vier kinders – het in ’n kamer in Cross-straat gewoon en was deel van ’n lewendige en geordende gemeenskap waar mense ondanks armoede nie sommer honger gely het nie. Sy skryf baie van die ouers het by die vars vrugte-en-groentemark in Sir Lowryweg gewerk en Vrydagmiddae gesorg dat die sakke gereed staan wanneer die kinders kom: “Ek weet nie of hulle as werknemers toegelaat is om vrugte en groente gratis te kry nie, al wat ek onthou is dat ons by verskillende mense langs is. Bhut’Gosa het vir ons vrugte gegee, Tat’uGaba het vir ons kool en wortels gegee en by Bhut’Michael het ons aartappels en uie gekry.”
Die kruidenierswinkeltjies het aan Indiërs en Moslems behoort. “Hierdie mense het presies geweet wie hul klante is en selfs die armstes in die gemeenskap kon bekostig om by hulle te koop.” So is konfyt per eetlepel verkoop en vir ’n tiekie kon jy ’n drinkglas visolie koop.
Die kinders was verstom om van mekaar se kultuur te leer: ’n Bruin bruidegom sou by sy skoonouers intrek terwyl net die teenoorgestelde in ’n swart huishouding gebeur. Die besnydenis van Moslemseuns en die “bostoeganery” van 18-jarige swart seuns was ewe verstommend. Nomvuyo skryf die kinders sou mekaar spottenderwys vra: “En hoeveel is een plus een in julle skool?”
Haar lieflike herinnerings aan ’n gelukkige kindertyd sluit sy af met net ’n bondige beskrywing van die gebeure in 1963 toe haar pa die brief ontvang het wat sou lei tot hul gedwonge uitsetting uit Distrik Ses en die skuif na ’n township waar almal ver van hul werk, skole en kerke was.