James McAvoy, die reeksmoordenaar van Split, is nou weer in Glass te sien
Wetenskapsfiksieriller. Met James McAvoy, Samuel L. Jackson en Bruce Willis. Regie: M. Night Shyamalan. 16TG. Waaroor gaan dit?
Shyamalan het een van die wisselvalligste loopbane van enige Hollywoodregisseur. Sy eerste twee groot rolprente, The Sixth Sense (1999) en Unbreakable (2000), was skitterend. Toe begin sy loopbaan sink, met The Happening (2008) as sy laagtepunt. Met Split (2016) was hy weer op koers – en toe dié fliek se einde onthul dit speel af in dieselfde wêreld as Unbreakable, het aanhangers gehoop Shyamalan sal met Glass – wat die twee rolprente sou saambind – weer op sy beste wees.
Die rolprent begin kragtig, met die onvernietigbare vigilante, David Dunn (Willis), wat vier tienermeisies probeer red. Hulle is ontvoer deur Split se Kevin Wendell Crumb ( McAvoy), ’n reeksmoordenaar met 24 persoonlikhede, onder andere die bonatuurlik sterk Beast.
David en Kevin vat mekaar aan, maar word gevang en saam met David se nemesis, Mr. Glass ( Jackson), in ’n psigiatriese hospitaal toegesluit word. Die psigiater Ellie Staple (Sarah Paulson) wil hulle help om oor hul waan te kom dat hulle supermagte het.
Is dit die kyk werd?
Shyamalan skiet die rolprent uit interessante hoeke en bou vaardig spanning op. Hy hou die kyker vasgenael en in afwagting op ’n opwindende botsing tussen die boeiende karakters.
McAvoy oorheers met sy vernuftige spel. Hy wissel in ’n oogwink tussen verskeie karakters en is die een oomblik aandoenlik en die volgende vreesaanjaend. Willis en Jackson is ook goed al kry hulle veel minder om te doen.
Al is daar oomblikke van uitnemendheid, is Glass ’n groot teleurstelling weens sy swak slot wat hard probeer om diepsinnig te wees – maar uiters onbevredigend is. Dis ’n frustrerende ervaring wat nog teleurstellender is omdat dit soveel potensiaal gehad het.