Liewe Elize
V
Ek is middeljarig en meer as ’n dekade met my huidige man getroud. Hy het sy eie kinders, en ek het ’n seun wat nou ’n jong volwassene is. Hy was nog op laerskool toe ek met sy stiefpa getroud is, en my seun woon steeds by ons. My man mishandel hom al jare lank deur hom te verneder, te boelie en in te perk. Ek kon nooit hieroor teëpraat nie; daarom het ek en my seun nooit ’n band gesmee nie. Ek het onlangs ontdek hy het homself as tiener begin sny weens depressie. Ek probeer hom sedertdien beskerm, maar my man duld dit nie. Dis mos reg om my kind te wil beskerm?
H in U A
Jy sal nou meer moet doen as om jou seun bloot teen dié bullebak te beskerm. Jy kan nie die verlede verander nie, maar jy kan sy toekoms verbeter deur vir hom professionele hulp te kry en ’n blyplek weg van jou man wat hom reeds soveel skade berokken het.
Selfskending spruit dikwels uit ’n gevoel van waardeloosheid en wanhoop. Dié selfvernietigende optrede is ’n kreet van iemand wat voel niemand luister na hom of gee om nie.
Dis juis dikwels in huise waar die pa al die besluite op ’n outokratiese manier neem dat selftoegediende pyn ’n simptoom word van wat in die verhoudings verkeerd geloop het.
Jou seun het ’n veilige omgewing nodig waar hy sy woede en negatiewe gevoelens kan uitdruk. Hy moet ook met die hulp van ’n terapeut gedragstegnieke aanleer om sy emosies te beheer en homself nie meer te sny nie.
Enige gesprekke om hom te motiveer om meer met jou oor sy gevoelens te praat moet niebedreigend en nieveroordelend wees.
As jou seun veel langer onder jul dak bly, kan dit tot selfdoodgedagtes lei. Neem hom so gou moontlik na jou huisdokter om na sy snywonde en letsels om te sien. Die dokter kan hom ook na ’n sielkundige of psigiater verwys om hom met sy stryd teen depressie en selfskending te help.