Huisgenoot

MAN HUNKER NA JONG MEISIES

-

My man bly my vertel hy is nou reg vir seks met jong meisies. Ons het boonop jong meisies in die huis. Wanneer ek dit durf waag om iets vir hom terug te sê, spring hy in sy kar en bly ure lank weg. Dit is sy derde huwelik en my tweede. Hy praat heeltyd oor sy tweede huwelik en het nog gereeld kontak met sy eks. Wanneer hy daaroor begin praat, sing ek ’n liedjie in my kop net om nie te luister nie. Sy vriende skinder oor my, maar ter wille van hom moet ek hulle as gaste in my huis verdra.

A op R

Jy gaan hom moet kortvat en daarop wys dat sy beoogde lollery met jong meisies sommer nou al in sy kop ’n einde moet kry. Seks met minderjari­ges van jonger as 16 jaar is ’n strafregte­like oortreding. Mense wat hulle hieraan skuldig maak, sal vervolg word, selfs al het die minderjari­ge tot seks ingestem.

Sien so gou moontlik toe dat die jong meisies in jul huis verhuis na waar hulle veilig en onder toesig van iemand betroubaar­s sal wees. Sorg dat jy hulle nie alleen by hom laat nie. Lig hulle ook vertroulik en taktvol in oor sy bedoelings.

As jy enigsins by hom wil of moet bly, moet jy hom verplig om vir toetse vir seksueel oordraagba­re siektes te gaan. Laat jouself ook toets.

Sy uitgesprok­e hunkering na sy vorige huwelik en die feit dat hy sy vriende op jou afdwing, is alles tekens dat hy jou geensins in ag neem nie. Minagtende optrede soos dié kan ’n mens emosioneel so lamlê dat jy dikwels nie self tot aksie kan oorgaan nie. Dis daarom belangrik dat jy van ál jou steunnetwe­rke gebruik maak om jou te dra en hulle ingelig hou oor hoe hy jou behandel.

Eindig die drama met sy eks deur aan te dring op perke, soos dat hy slegs met haar mag kontak hê wanneer dit oor hul kinders gaan. Jy hoef nie beleef na sy praatjies oor haar of hul huwelik te luister nie. Dis nooit te laat om so ’n vernederen­de verbinteni­s te beëindig nie. Jy het die reg om weer geluk te vind.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa