O, DROEWE, DROË LAND
WAT IS DIE OMVANG VAN DIE DROOGTE?
’n Landwye droogte teister die grootste dele van Suid-Afrika al sedert 2015, sê dr. Christien Engelbrecht, ’n senior navorser by die Landbounavorsingsraad. “Oor die suidelike gebiede van die land, wat die oostelike gebiede van die Wes-Kaap en die westelike gebiede van die Oos-Kaap insluit, heers die huidige droogte al drie jaar lank.
“In die sentrale binneland was daar die afgelope paar somerseisoene – sedert die erg droë 2015-/2016-seisoen – nog nie goeie somerreënval nie,” verduidelik sy.
Die hele Karoo en die Wes-Vrystaat is tans kritiek droog, sê dr. Hannes Rautenbach, ’n weerkundige en dekaan van die fakulteit natuurwetenskappe aan die privaat hoëronderwysinstelling Akademia. In die Karoo word hoofsaaklik met vee geboer en in die Wes-Vrystaat met mielies en graan.
“Suid-Afrika is besig om warmer te word, reënval verdamp vinniger, en die grond droog vinniger uit,” verduidelik Hannes die omvang van die krisis.
Dit kan aan aardverwarming toegeskryf word, maar kenners is dit nog nie eens of klimaatsverandering – die manier waarop weerpatrone op aardverwarming reageer – werklik so ’n groot rol in die droogtetoestande speel nie.
“Reënval is wisselvallig, en sommige boere sal sê dis baie droog, terwyl ander goeie reën kry,” sê Hannes en voeg by dat die Wesen Oos-Kaap al effens herstel het van die ernstige droogte wat dié gebiede in 2015 en 2016 geteister het.
Volgens prof. Johann Kirsten, landbouekonoom en hoof van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch, het die Karoo en Wes-Vrystaat goeie reën nodig om die droogte te breek. “As die Karoo weekliks 10 mm reën kry, en die gebiede met graan 20 mm, sal dit baie help,” benadruk hy.
WAAROM BOERE TOU OPGOOI
In die afgelope ses jaar was daar vier jaar van droogtes in die westelike gebiede van die Vrystaat en Noordwes, sê prof. Ferdi Meyer, hoof van die Landbouekonomievereniging van Suid-Afrika.
Van daardie boere is tans onder groot finansiële druk, en hulle kan net sóveel droogtes ná mekaar oorleef.
Baie boere moet hulle tot banke wend vir herfinansiering omdat hulle nie ’n bevredigende inkomste uit hul oeste in hierdie tyd kon maak nie.
“As hy al twee misoeste gehad het, sal die bank net vir hom kan leen as hy ’n verband op sy plaas uitneem. Daardie verbande raak ál groter as hy dit nie kan bybring nie. Die bank kan in ’n stadium sê: ‘Hierdie ou sal my nie kan terugbetaal nie, en ek kan hom nie meer geld leen nie,’ ” verduidelik Ferdi en voeg by dat dit eindelik daartoe lei dat die boer dit oorweeg om sy plaas te verkoop.
Christo van der Rheede, Agri SA se woordvoerder, sê hulle het nie statistieke oor die getal plase wat die afgelope paar jaar verhandel is nie.
“Daar is wel terugvoer van boere wat moes afskaal deur werkers af te lê en dele van plase moes verkoop om kontantvloeiprobleme op te los. Daar is ook ’n afwaartse neiging in die getal kommersiële boere, en plaasgroottes wat toeneem omdat boere wat finansieel sterker is die plase van sukkelende boere by hulle koop. Dis ’n aanduiding dat ál meer boere hul plase verlaat.”
BOERE PROBEER SO OORLEEF
Die stappe wat boere doen, hang af van die streek en soort boerdery, sê Johann.
Vir gewasse soos mielies en graan sal boere byvoorbeeld die grondvog probeer bewaar, sê hy. Boere bewerk dan die grond so min moontlik of glad nie, of hulle plant dekgewasse (gewasse wat nie geoes word nie, maar vee kan daaraan wei) wat die vog en minerale in die grond behou.
Veeboere bring voer wat hulle van elders aankoop na die diere, sê Ferdi. Maar hulle neem voortdurend die drakapasiteit van die veld – die verhouding tussen die hoeveelheid vee en die weiding – in ag en slag diere wanneer daar te veel vee is.
Boere probeer om proaktief te wees omdat hulle nie van ’n inkomste verseker is nie. Saaiboere moet soveel koste moontlik bespaar. Hulle bespaar byvoorbeeld elektrisiteit en brandstof deur net die nodigste masjiene op die plaas te gebruik, verduidelik Ferdi.
Wanneer boere glad nie kan plant nie, kan hulle met verskaffers onderhandel om byvoorbeeld kunsmis en saad wat reeds bestel is eers die volgende seisoen te lewer.
HOE RAAK DIT ONS VOEDSELSEKURITEIT?
Die landbouekonoom Wandile Sihlobo sê Suid-Afrika is steeds die grootste voedselprodusent in Afrika, en hy glo ons sal dit bly.
Hy bly positief: “Ons het baie kenners wat besig is om tegnologie en volhoubare landboupraktyke te ontwikkel. Ons boere het baie kennis en toegang tot die tegnologie.”
Hy is opgewonde oor byvoorbeeld nuwe mieliegewasse wat vinniger groei en meer droogtebestand is.
Daar is ’n verskil tussen voedselsekuriteit en -sekerheid, verduidelik Wessel Lemmer, ’n landbouekonoom verbonde aan Absa. Voedselsekerheid beteken ’n land kan voedsel aan sy mense voorsien deur dit self te produseer of in te voer.
“Voedselsekuriteit is belangriker en gaan oor bekostigbaarheid, toegang tot voedsel en hoe veilig en heilsaam die voedsel is.”
In Agri SA se droogteverslag voorspel kenners die droogte in somerreënvalgebiede kan later vanjaar ’n styging in kospryse veroorsaak.Sodoende kan Suid-Afrika se voedselsekuriteit verswak wat bekostigbaarheid betref, meen Wessel, en dan sal ons meer aangewese op invoer moet wees om voedselsekerheid teen heelwat hoër voedselpryse te probeer handhaaf.
WAT DOEN DIE STAAT OM TE HELP?
Altesaam R566,5 miljoen is in die 2018begrotingsrede aan die landbousektor bewillig vir onder meer droogteverligting, lui ’n verklaring deur die minister van landbou, bosbou en visserye, Senzeni Zokwana.
Hiervan is R226 miljoen deur die nasionale tesourie goedgekeur vir droogtehulp aan ses uit die agt provinsies – die Wes-, Oosen Noord-Kaap, Limpopo, Mpumalanga en Vrystaat – wat daarvoor aansoek gedoen het. Noordwes en KwaZulu-Natal se versoeke is afgekeur.
Ferdi sê hoewel daar droogtehulp van die staat af kom, bly dit ’n probleem dat daar nie genoeg geld in die begroting is om boere by te staan nie.
“Daar is ook nie ’n doeltreffende stelsel wat sorg dat die geld reg verdeel word en by die regte plekke uitkom nie,” sê hy.
Agri SA meen die landbousektor benodig R3 miljard se hulp van die staat in die volgende finansiële jaar.
“Vir oorlewing op lang termyn is hulp nodig met finansiële ondersteuning, kredietverlening, produksieleningsooreenkomste, oorbruggingskapitaal, voerverspreiding en maatskaplike hulp.”
DIS NIE NET ONS WAT SUKKEL NIE
“Mense raak meer en waterbronne is beperk. Ál meer verstedeliking vind plaas, en dan is daar ook klimaatsverandering,” sê Johann en voeg by dat die gebrek aan water ’n groot kopseer vir die wêreldekonomie is.
Wandile meen egter watertekorte is nog nie internasionaal ’n krisis nie.
‘As hy al twee misoeste gehad het, sal die bank net vir hom kan leen as hy ’n verband op sy plaas uitneem. Die bank kan in ’n stadium sê: Hierdie ou sal my nie kan terugbetaal nie; ek kan hom nie meer geld leen nie’