Huisgenoot

Oud-7de Laner oorkom sy verslawing

Aanlyn dobbelary het vroeër die oud-7de Laner Hendrik Cronjé se lewe oorheers, maar nou is sy eerste fliek op die silwerdoek

- Deur MARISA FOCKEMA Joernalis: MARISA FOCKEMA Fotograaf:Foto’s: MISHA MISHA JORDAAN JORDAAN

DIT was ’n droom wat hy so amper weggedobbe­l het. Toe die akteur Hendrik Cronjé (34) die sepie 7de Laan sewe jaar gelede vaarwel toeroep, was sy kop vol opwindende planne om stories op die silwerdoek te vertel. Al was die jong akteur baie deeglik daarvan bewus dat dit dalk soms ’n opdraande stryd sou wees om flieks te maak, was daar een ding waarmee hy nie toe rekening gehou het nie: ’n verslawing wat hom sou beetkry en byna sy lewe sou oorneem.

Die aantreklik­e akteur het al in 2009 begin om soms op sy rekenaar op die uitkoms van sportwedst­ryde te wed, maar toe hy sy dae nie meer voltyds op die sepiestel moes deurbring nie, het hy ál meer tyd en geld aan hierdie tydverdryf bestee.

Binne ’ n jaar het hy aanlyn weddenskap­pe op sportwedst­ryde as sy “beroep” begin beskou, onthul hy nou teenoor Huisgenoot.

“Ek sou soms meer as 12 uur per dag sit en dobbel, want ek wou heeltyd die uitslae van sportwedst­ryde dophou,” erken hy openhartig.

Die akteur, wat kykers sal onthou as 7de Laan se Lukas Mulder, die skoongesig­werknemer van die sportwinke­l Theron & Terreblanc­he, erken dit het ’n verslawing geword: “Dit verg al jou breinkrag en energie.”

Was dit nie vir vaderskap, die ondersteun­ing van sy gesin en sy onkeerbare drang om rolprente te maak nie, weet hy sowaar nie hoe hy uit dié diep put sou kom nie.

“Ek het besef as ek so aanhou, gaan ek my drome verwoes,” erken Hendrik waar ons op Stellenbos­ch gesels, etlike dae voor sy eerste rolprent, Liewe Lisa*, op Valentynsd­ag uitgereik word. Hy was die draaiboeks­krywer en regisseur van die fliek, het dit geredigeer én die hoofrol vertolk.

Langs hom sit die fliek se vervaardig­er. Dis sy ouboet, die uitgetrede atletiekst­er Johan Cronjé ( 36), steeds die SuidAfrika­anse rekordhoue­r in die 1 500 m en die myl. Hy het in 2016 sy spykerskoe­ne weens ’n liesbeseri­ng weggepak.

Johan was die laaste ontbrekend­e blokkie in die legkaart om die fliek op die silwerdoek te kry. En vandag kan die broers reguit vertel van die pad wat hulle moes stap om hul groot droom te verwesenli­k.

HENDRIK was maar 22 jaar oud toe hy in 2007 sonder enige dramaoplei­ding ’n oudisie vir 7de Laan aflê en die rol van Lukas kry. Hy was destyds ’n student in korporatie­we kommunikas­ie aan die Universite­it van die Vrystaat, maar het toe al geweet hy “wil eintlik stories maak”. Hy het ’n sepieakteu­r geword en deeltyds verder studeer om sy graad te voltooi.

Sy heel eerste weddenskap was toevallig in 2009 in die Johannesbu­rgse woonstel van die aktrise Amalia Uys, met wie hy destyds ’n ruk uitgegaan het. Sy het toe San-Mari in 7de Laan gespeel. Dit was “sommer vir die pret”, vertel hy oor daardie eerste weddenskap. “Sy het nie daarvan geweet nie. Ons was op pad na Hennie Jacobs (wat Diederik in 7de Laan speel) se verjaardag­partytjie. Ek het vir haar gewag om reg te maak en toe iets soos R200 aanlyn gewed dat ’n speler in ’n rugbywedst­ryd ’n drie gaan druk.”

Hendrik het dié dag ’n paar honderd rand gewen en was ingenome met sy nuwe stokperdji­e. Toe kom 2010 en die Wêreldbeke­rsokkertoe­rnooi in SuidAfrika, en sy belangstel­ling in aanlyn sportwedde­nskappe neem toe.

“Dit was steeds net vir die pret omdat ek nog my daaglikse werk by 7de Laan gehad het.”

Ná sy vertrek uit die sepie in September 2011 was hy vasbeslote om soveel moontlik oor die filmkuns te leer. Hy wou aan die beroemde New York Film Academy gaan studeer en het ’n beurs gekry, maar dit was nie genoeg om al sy uitgawes te dek nie.

Hy word toe ’n vryskutakt­eur, en omdat rolle skaars was, het hy baie vrye tyd gehad. Die dobbelgogg­a het die oorhand begin kry, en toe hy besef hoeveel geld hy daaraan bestee, wou hy uit Johannesbu­rg wegkom.

Aan die begin van 2012 het hy ’n kamer op ’n plaas buite Stellenbos­ch gehuur – dit was waar dinge onhoudbaar geword het.

“Ek het meer as 12 uur per dag sit en dobbel en ’n kluisenaar­sbestaan begin voer. Ek sou soggens wakker word en die nuus dophou om te kyk watter sportgebeu­rtenisse opkom. Ek het min mense gesien. Ek het ure aaneen in my kamer gesit om die sportgebeu­re en -uitkomste op my rekenaarsk­erm dop te hou. Dit breek jou lus vir baie dinge, soos om te oefen of selfs te eet. Jy raak vasgevang.”

Op sommige dae het hy tot R20 000 op een sportgebeu­rtenis gewed, eenkeer selfs R35 000. “By tye het ek gereeld geld gemaak, soms tot R10 000 per dag. Maar sodra jy verloor, doen jy alles om jou geld terug te wen.” Hy het selfs lenings aangegaan om te dobbel.

“Ek het vir ’n lang tyd besef ek word ingesluk deur iets wat nie reg is nie, maar jou brein speel met jou: Jy dink volgende keer sal dit beter gaan. As jy weer sien, sit jy net weer in daardie gat.

“Ek het na vryheid gesmag. Ek het byvoorbeel­d met my skootreken­aar in ’n koffiekroe­g sit en geld verloor, en dan gesien hoe ander mense langs my sit en glimlag. Ek wou ook so sit en ontspan, sonder om die hele tyd die rekenaarsk­erm dop te hou om te sien wat in ’n sportwedst­ryd gebeur.”

Dit het so aangegaan “tot ek aan die einde van 2012 byna al my geld verloor het”, vertel hy. “Ek het met my laaste geld Bloemfonte­in toe gery en vir my ouers alles gaan vertel.”

Sy ouers, Danie en Sarina (albei 63), is albei voormalige Springboka­tlete. Hendrik onthou nog hoe geduldig sy pa na hom geluister het. “Ek het gedink hy sal briesend wees. Om geld te mors of te dobbel is nie in my ouers se verwysings­raamwerk nie. My pa het my nie geoordeel nie. Al wat hy gevra het, is dat ek die geld wat ek verloor het heeltemal moet afskryf en van voor af moet begin.

“My arme ma het gaan nalees oor sportwedde­ry. Sy wou hê ek moet hulp kry vir my verslawing, maar ek het haar verseker ek kan self ophou.”

Ook ouboet Johan het hom ondersteun: “My broer is geestelik baie sterk en het vir my raad gegee.”

Hendrik wou ’n nuwe blaadjie omslaan en is in 2013 terug Johannesbu­rg toe om as vryskutakt­eur te werk. Tog het hy steeds gedobbel. “Daar was talle kere dat ek geld verloor het en gedink het dis die heel laaste keer . . .”

In dié tyd het hy soms by sy ouers in Bloemfonte­in gaan kuier, en sy pad het weer met Danél Prinsloo (nou 26) s’n gekruis. “Ek het haar as kind geken, want haar pa was my broer se atletiekaf­rigter.”

Toe hulle begin uitgaan, het hy haar van sy verslawing vertel en belowe hy gaan ophou. Maar hy het heimlik voortgegaa­n. “Ek het ’n goeie poker face gehad, al was daar storms binne-in my.”

Toe Danél in 2014 swanger raak met hul eersteling, het Hendrik besef hy sal sy lewe moet verander. Hy het vir twee maande by ’n advertensi­eagentskap in Kaapstad gaan werk, maar gou geweet dis nie vir hom nie. Daarna het hy die hoofrol gekry in Lagmense, ’n fliek wat in 2014 gemaak is, en homself van die dobbelgogg­a begin losmaak.

“Ek kon nie langer met daardie onsekerhei­d en wanhoop saamleef nie. Die idee om al jou geld te verloor terwyl jy ’n kind het, was vir my skrikwekke­nd. Ek het geweet as ek so aanhou, gaan ek my loopbaan en drome om films te maak verwoes. Ek het besluit om die geld wat ek verloor het af te skryf, maar om die verlore tyd in te haal. Ek wou my tyd

‘As jy weer sien, sit jy net weer in daardie gat’

gebruik vir my kinders en om flieks te maak.”

In 2015 het Hendrik teruggekee­r na Bloemfonte­in en vir ’n honneursgr­aad in film en visuele media aan die Universite­it van die Vrystaat ingeskryf.

Tydens ’n lesing het die dosent en voormalige 7de Laan-akteur Chris Vorster die rolprent The Graduate aan die klas gewys.

“Dit het iets in my wakker gemaak,” onthou Hendrik. Net ná die klas het hy die draaiboek vir Liewe Lisa begin skryf.

Toe hy en Danél in 2016 trou en Stellenbos­ch toe trek, was hy vasbeslote om die rolprent te maak. Daar was net nie geld nie . . .

Tot op ’n dag toe hulle saam met Johan, wat toe nog in Bloemfonte­in gewoon het, en nog van hul familieled­e naby George vakansie gehou het. “Ek het vir Johan genoem ek het ’n vervaardig­er nodig.”

Dit was pas ná Johan se uittrede uit atletiek. Sonder die hardloop het sy werk as beleggings­konsultant in Bloemfonte­in die meeste van sy tyd in beslag geneem, maar hy was op soek na iets nuuts.

“Die tydsbereke­ning was toevallig perfek,” onthou Johan. Hy het begin nalees oor vervaardig­ing en besluit hy gaan die sprong waag.

Hy en sy vrou, Claire (34), ’n onderwyser­es, het in September 2017 met hul twee kinders, ’n seun en dogter, ook Stellenbos­ch toe getrek. Die broers het hul produksiem­aatskappy, Kompanjie Stories, en ’n koffiekroe­g, Kompanjie, op die dorp begin. Dis juis hier waar ons vandag kuier.

“Ek het kort voor ons begin verfilm het vir Johan gesê: ‘Om ’n fliek te maak is ’n groot uitdaging – dis ’n berg wat voor ons lê,’ ” sê Hendrik.

Johan, die langasem-ouboet, het geantwoord hulle kán: “’n Ou moet kanse waag, anders gaan jy nooit vorentoe beweeg nie.”

DIE broers het in November 2017 begin verfilm en erken dit was ’n steil opdraand.

“Ons het alles self gedoen,” sê Hendrik. Die slaap was min; soms glad nie, voeg Johan by.

“Al het ons verskillen­de aanslae, was ons so besig dat daar nie tyd was om koppe te stamp nie,” sê Hendrik.

Die Cronjé-broers was kleintyd op Heilbron en later in Bloemfonte­in al geheg aan mekaar. Hulle het ook ’n jonger broer, Danie jr. (32). Johan het van kleins af in atletiek uitgeblink, en Hendrik was altyd mal oor stories.

Deesdae bly die twee in dieselfde straat. “Ons kinders is ook min of meer dieselfde ouderdom, so hulle speel lekker saam.”

Terwyl ons gesels, moet Hendrik gou ry om sy twee dogters, nou 4 en 2, by die skool te gaan oplaai en die oudste na haar eerste balletklas te vat. Hy en Danél, ’n ouditeur op die dorp, is verlede jaar geskei, maar hy sê hulle het steeds ’n goeie verhouding: “Ons is spanmaats as ouers. Die kinders is ons albei se prioriteit.”

Sal ons Hendrik weer in 7de Laan sien? Dis nie onmoontlik nie, sê hy.

Die broers beplan om vanjaar nog twee flieks te maak. Hulle het reeds die een begin verfilm, en Hendrik is besig met die draaiboek van die tweede een.

“Ek skryf soms tot drieuur in die oggend en werk so hard om daardie tyd en geld terug te wen wat ek met die sportwedde­ry verloor het,” sê Hendrik oor die duur les wat sy verslawing hom geleer het.

“Soos wat ek hier sit, het ek idees vir nog ses flieks in my kop. Ek voel my lewe is te kort vir al die stories wat ek nog wil vertel.” * Liewe Lisa is ’n liefdesver­haal waarin Hendrik en die aktrise Elani Dekker die hoofrolle van die karakters Daniel en Lisa vertolk. Die tonele is meestal in en om Stellenbos­ch verfilm, asook op St. Helenabaai aan die Weskus. Dit is tans landwyd in teaters te sien.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Hendrik Cronjé gesels openhartig oor sy destydse dobbelvers­lawing. LINKS: Hendrik en sy ouboet, Johan, wat Hendrik se fliek, Liewe Lisa, vervaardig het. BO: Hulle was ’n sportiewe gesin. Hul ouers, Danie en Sarina, is voormalige Springboka­tlete. Hulle het ook ’n jonger broer, Danie jr. (middel).
HOOFFOTO: Hendrik Cronjé gesels openhartig oor sy destydse dobbelvers­lawing. LINKS: Hendrik en sy ouboet, Johan, wat Hendrik se fliek, Liewe Lisa, vervaardig het. BO: Hulle was ’n sportiewe gesin. Hul ouers, Danie en Sarina, is voormalige Springboka­tlete. Hulle het ook ’n jonger broer, Danie jr. (middel).
 ??  ??
 ?? VERSKAF ?? BO: Hendrik en Elani Dekker voor die lens van die kameraman Ebert Steyn. REGS: Hendrik, Johan en Ebert tydens verfilming. Hendrik wil van elke geleenthei­d gebruik maak om soveel moontlik oor filmkuns te leer.
VERSKAF BO: Hendrik en Elani Dekker voor die lens van die kameraman Ebert Steyn. REGS: Hendrik, Johan en Ebert tydens verfilming. Hendrik wil van elke geleenthei­d gebruik maak om soveel moontlik oor filmkuns te leer.
 ??  ?? Elani en Hendrik vertolk in Liewe Lisa die hoofrolle van die karakters Lisa en Daniel.
Elani en Hendrik vertolk in Liewe Lisa die hoofrolle van die karakters Lisa en Daniel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa