Boere op hul knieë weens die droogte
Boere vertel hartverskeurende verhale van ’n gebrek aan oeste, vee wat vrek, armoede wat hulle ál meer onderkry en selfs medeboere wat hul eie lewe geneem het
SOMS ruik jy die belofte van reën lank voor die onweerswolke saamdrom en ’ n geniepsige wind die horison rooi verkleur met die stof van die verdorde landerye, vertel die 46-jarige Herman Maré met heimwee.
Dan, terwyl die skroeiende Vrystaatse son agter die wolke verdwyn, bid hy die soveelste keer: “Here, laat die reent tog kom . . .”
Maar die reën kom nie. Al maande lank nie.
Herman en sy medeboere van die WesVrystaat se Bultfonteindistrik is die tweede keer in vyf jaar in die knelgreep van ’n rampspoedige droogte. Landerye waar die somergewasse soos mielies en sonneblomme geil en groen moes staan, is dor en leweloos so ver die oog kan sien.
“O, hel, maar dit lyk sleg,” sê Herman en skop met sy regtervoet in die rooi sand van die familieplaas, Eldorado. “Ek is my lewe lank op hierdie stuk grond. In die 27 jaar sedert ek by my pa oorgeneem het, het dit nog nooit so gelyk nie.”
’n Doodsreuk hang in die lug. “Kyk die plaaspaadjie al langs die heining,” beduie Herman. “Dit lyk al soos ’n hoofpad. Dis van al die kere dat ons dooie diere in ’n put weg van die huis moes gaan gooi.”
Sy stem raak skor. “Meer as 100 skape, meer as 25 koeie. Soms voel dit of hoop in daardie gat begrawe lê. Anderdag moes ek ’n koei self skiet. Jy het geen idee hoe dit jou hart breek nie.”
En dis nie net Herman en sy bure wat finansieel sowel as emosioneel swaarkry nie, wys die landbouorganisasie Agri SA se jongste droogteverslag.
Boere in die Vrystaat, Oos- en NoordKaap en Noordwes se situasie is kritiek. Ook in KwaZulu-Natal, Limpopo en die Wes-Kaap kan probleme ontstaan as reënvlakke bly afneem. Net Gauteng en Mpumalanga het oor die afgelope maande genoeg reën gehad om wel te plant.
In ’n Agri SA-meningspeiling onder boere sê 70% van respondente hulle beleef kwaai stres oor ’n tekort aan water vir hul vee. Sowat 50% moes al plaaswerkers aflê. En meer as 50% ervaar sielkundige toestande soos depressie en angs weens die droogte wat maar net nie wyk nie.
Hier in die yl skadu van ’n sterwende eikeboom kan Herman hom nie ’n toekoms sonder Eldorado indink nie.
“Hier is ons geplant, op dié stuk grond. En God sal ons weer ’n keer hierdeur dra – Hy móét ons hierdeur dra.”
DIE pad na Bultfontein loop deur ’n woestynlandskap. Hoopstad, Boshof, Hertzogville, Winburg, Wesselsbron . . . alkante smag die dorstige aarde na lewegewende reën.
By Bultfontein is Herman en drie medeboere ons gidse op die hartverskeurende reis. “Vir ons manne hier op die grond voel dit of ons nie meer die natuur ken nie – ons wie se werk dit is om na aan die natuur te leef,” sê hy.
“Vroeg in November het twee derdes van my plaas afgebrand. En net toe die groen gras weer kop uitsteek, vernietig ’n haelstorm alles. Op so dag is ’n boer op moedverloor se vlakte, man. Jy wil by die Here weet hoekom . . .”
Vanuit sy bakkie wys hy ons plek-plek die groen stoppelbaard van nuwe gras. “Die grassie is gewillig. Sy moed is so sterk soos dié van ’n boer,” sê hy.
“Maar die onlangse reent help niks as daar nie ’n opvolg kom nie. Een of twee keer het ons hom nou al geruik, geproe en sien saamdrom, maar dan verdwyn hy weer.
“Jis, die reent maak ’n ding in ’ n boer wakker, ou maat. Ons gemoedere
‘God sal ons weer ’n keer hierdeur dra – Hy móét ons hierdeur dra’
het hom net so nodig soos die aarde.”
Al kry al die boere hier swaar, help hulle mekaar met die bietjie wat hulle het.
“Met die brand, hael en nou weer die droogte het ek niks weiding vir my beeste gehad nie. Ek het oral rondgebel; niemand kon help nie. Jy gaan saans huis toe en jy is kwaad . . . Jy is doodbang,” vertel Herman.
“Maar toe kom die oproep: ‘ Broer, bring jou beeste; ek kan ’n rukkie met weiding help.’ Jy kry trane in jou oë. Jy sê dankie, Here, vir nog ’n lappie groen veld.”
André Janse van Rensburg (49) en Herman Meiring (54) vertel dieselfde tragiese verhaal. Hulle sal vanjaar geen mielies en sonneblomme oes nie, want hulle kon nie plant nie.
“Talle boere hier moes al hul veekuddes verkoop,” vertel Herman Meiring. “Daar is eenvoudig nie kontant om heeltyd voer te koop nie. Hier in ons omgewing staan 30 stuks grond verlate. Niemand wil dit koop nie, want met die huidige ekonomie is die grond niks werd nie. Niemand neem meer die kans om te kom boer nie. Ons seuns trek van die plase af stad toe. Ons kan hulle nie op die plaas hou nie, want daar is nie geld nie,” sê Meiring.
“Ons vriende moet werkers wat al 25 jaar saam met hulle is, laat gaan omdat daar nie geld vir lone is nie. Boere moet hul plase oppak en in die stad gaan werk soek. Dis nag . . .”
Dis André wat die ondenkbare ver- meld: “Ons ken minstens twee boere van ons distrik wat uit wanhoop hul eie lewe geneem het . . . Of is dit drie?” sêvra hy aan Herman.
“Genadiglik twee,” antwoord Herman en kyk anderpad.
“Ons weet nie wat om te doen nie. Jy leen geld by die bank met die veronderstelling dat jy daardie geld met rente terugbetaal wanneer die oeste in Augustus maand gelewer word,” sê André. “Maar ons het geen oeste om in Augustus te lewer nie. Die saad staan nog net so in die skuur.
“Nou vra ek jou: Wat sê jy vir jou vrou; vir jou kinders en diegene wat van jou afhanklik is? Ons kan niks doen nie. Wanneer die bank kom aanklop, gaan ’n klomp van ons vou. Ons kan net hoop ’n uitweg is op pad.”
VOLGENS ’n informele peiling deur boere in die Bultfonteindistrik kon minder as die helfte van die boere in dié distrik vir vanjaar se siklus plant. Diegene wat wel iets in die grond het, kan ten beste ’n swak oes verwag.
“Ons sit en kyk hoe die droogte op ’n ramp afstuur,” sê nog ’ n boer, wat anoniem wil bly. Hy het vroeg Januarie minder as ’n 10de van sy grondoppervlak beplant.
“Hier is boere in ons distrik wat al vyf generasies lank boer. Hulle kan alles verloor. Ons neem dié druk en bekommer- nisse aand ná aand saam met ons huis toe,” sê hy.
“Ons is raadop. Ons het nie planne nie. Ons kry die minimum vir ons produkte, maar word verantwoordelik gehou wanneer die pryse die hoogte inskiet – en dis omdat meer as 10 mense tussen die boer en die verbruiker staan,” sê hy met verwysing na die middelmanne wat kos van die plaas tot op die tafel kry.
“Almal is bekommerd. Ons weet nie eens of daar ’n môre is nie. Soveel as 120 boorgate in die omgewing is reeds leeg. Ons weet nie hoe veeboere die winter gaan deurmaak nie.”
Vir ’n oomblik stoei hy teen sy emosies. “Dit vat guts om ’n boer te wees; guts wat niemand behalwe ’n boer begryp nie. Jy sit saad in die grond en doen als om daardie oes op te kry, maar dit brand dood in die son . . . Hoe verwerk jy dit? Jy verwerk dit nie,” sê die boer wat anoniem wil bly.
Ná ’n rukkie vra hy André: “Hoeveel reent het julle toe anderdag gekry, my vriend?”
André antwoord: “Veertig millimeter, my vriend. Ons was op ons knieë.”
“Ag, ek is darem bly vir jul onthalwe,” sê hy aan André.
Later die dag, skuins ná drieuur, pak die wolke weer oor Bultfontein saam. Hierdie keer kry die dorstige aarde wel ’n lafenissie – net genoeg om boere op hul knieë te bring uit dankbaarheid, maar nie naastenby genoeg om die onweerswolke uit hul gemoed te verdryf nie.