Min Shaw nog op en wakker op 84
Op 84 dink die geliefde sangeres Min Shaw, wie se biografie eersdaags op die rakke is, nie eens aan aftree nie
IN HAAR lang, koel somerrok met sagte skakerings van blou, pienk en pers lyk sy soos ’n prentjie uit ’n modeboek. Haar netjies versorgde donker hare het ’n effense rooi skynsel, en haar blougroen oë blink nog net soos vyf dekades gelede op die silwerdoek. ’n Mens sou nooit raai Suid-Afrika se Jy Is My Liefling-sangeres, Min Shaw, het verlede November haar 84ste verjaardag gevier nie.
Maar aftree? Sy dink nie eens daaraan nie, sê die sangeres wie se naam vir ’n ouer generasie fliekvlooie sinoniem is met musiekflieks soos Hoor My Lied, waarin sy saam met wyle Gé Korsten gespeel en gesing het.
Nou, byna 50 jaar later, klink daardie selfde soet stem nog gereeld op wanneer sy op van kerkbyeenkomste tot korporatiewe gesellighede agter die mikrofoon inskuif. “Maar ek beperk dit deesdae tot sowat 10 optredes per maand,” vertel Min. Ook op die Woordfees op Stellenbosch, waar haar biografie, Sprokie van ’n Liefling, volgende maand bekendgestel word, sal sy ’n keur van haar liedjies sing.
Terwyl Huisgenoot met haar en Shaun Mynhardt, die skrywer van haar biografie, in ’n restaurant in Randburg gesels, loer twee ander klante kort-kort na ons kant toe. Later kom vra een van hulle of sy dalk Min Shaw is.
“Hulle sê so,” antwoord Min en glimlag sjarmant voor sy gemoedelik vir foto’s saam met haar bewonderaars poseer.
Ná ’n halfeeu in die bedryf is sy duidelik steeds geliefd, ook in die sosiale media, waar haar drie Facebookblaaie saam 17 000 volgelinge het. Waaraan skryf sy haar lang asem in die mededingende musiekbedryf toe? “Nee jong, dit kan ek nie antwoord nie,” sê sy beskeie. “Ek was eintlik nog altyd net myself.”
SY HET dit ook nog altyd reggekry om veel jonger as haar jare te lyk. Laggend vertel sy van die wit leuentjie oor haar ouderdom toe Hoor My Lied in 1967 uitgereik is. “Ek was toe al iets soos 32 jaar oud, maar die publisiteitsmense het my as ’n 21-jarige meisie bemark. En hulle het sowaar daarmee weggekom!”
Nadat foto’s verlede jaar van Min verskyn het waarop sy allesbehalwe na ’n 80-plusser lyk, is in die sosiale media gegis dat sy botoks gebruik.
“Ek sal nooit so iets gebruik nie. Leef ’n skoon lewe, wees lief vir jou naaste, pas jouself op,” het sy daarop in ’n Facebookplasing geantwoord.
Die afgelope drie jaar het Min en
Shaun, ’ n vermaakbestuurder, saamsaam aan haar biografie gewerk. Hy onthou nog goed die dag in die 1980’s toe hy as jong seun by ’n konsert van Min in Bellville was en sy hom agterna haar handtekening gegee het.
In 1997 het hul paaie weer gekruis toe hy ’n omroeper by Radio Tygerberg was. Die twee het vriende geword, en daarna het hy al haar Kaapse konserte gereël.
Sowat drie jaar gelede het hulle besluit om aan haar biografie te begin werk, vertel Shaun. Maar met hom wat in Kaapstad woon en Min in Roodepoort, het dit fyn beplanning geverg.
Hy het onder meer opnames gemaak van foongesprekke waarin sy van haar lewe vertel. Min het self met die hand staaltjies uit haar loopbaan neergeskryf en aan hom gepos. Sodra hy met ’n paar hoofstukke klaar was, het hy drukstukke daarvan gemaak en dit per koerier na haar gestuur.
“Dan kry ek ’ n ruk later weer die bladsye terug waarop tannie Min net soos ’n tipiese onderwyseres met ’n pen woorde doodgekrap, bygevoeg of veranderings aangebring het,” vertel Shaun.
Min was inderdaad ’n onderwyseres en het aan verskeie laerskole aan die WesRand klas gegee voor sy as sangeres bekend geword het. In daardie tyd het sy dikwels saans in restaurante in en om Johannesburg opgetree.
Sy was 27 toe sy ’n talentkompetisie van die destydse LM Radio gewen het. Die eerste prys was ’n plaatopname en ’n reis na Londen, onthou Min, wat as Wilhelmina Jacoba Viviers gebore is.
Maar te midde van die opwinding het ’n swaar slag haar getref. Terwyl sy in Londen was, het haar pa, Fanie, aan ’n hartaanval gesterf. Een aand terwyl sy daar in die vreemde in haar hotelkamer oor hom sit en huil, het sy skielik sy stem gehoor. “Dit was so duidelik, en dit het so werklik gevoel soos wat ons nou hier sit en praat,” beskryf sy die sonderlinge ervaring.
Haar pa se boodskap was dat sy haar musiekdrome moet navolg en hy altyd oor haar sal waak. “Dit het berusting gebring, my aangemoedig en dra my nog tot vandag toe.”
Daarna het sy vinnig opgang gemaak in die vermaakbedryf, en ná haar silwerdoekdebuut in Hoor My Lied was Min Shaw ’n bekende naam. Talle plaatuitreikings en nog drie flieks het gevolg, waarvan die laaste, Lied in My Hart, ook saam met Gé, in 1970 uitgereik is.
Daar was planne vir nog drie flieks, maar in 1973 het Min haar rolprentloopbaan vaarwel toegeroep nadat sy “tot bekering gekom het”, vertel sy. “Ek wou net die (Bybelse) boodskap uitdra en Christelike musiek sing. Ek wou nie eens Jan Pierewiet sing nie!”
Haar geestelike albums het van die rakke gevlieg en verskeie het goue en platinumstatus bereik. Sy het ook met haar bediening vir volwassenes en kinders deur die land getoer en selfs in 1995 as pastoor gekwalifiseer. “Ek het net nooit ’n beroeping aanvaar nie,” verduidelik sy.
Vra jy na die hoogtepunte in haar lang loopbaan, dink sy eers na. Dan onthou sy hoe sy in die vroeë 1970’s vir die SuidAfrikaanse troepe op die grens van die destydse Suidwes-Afrika en Angola gaan sing het. Nog ’n groot lekkerte was toe sy verlede Mei die akteur en vervaardiger Franz Marx ná 37 jaar weer te sien gekry het. Hulle het teenoor mekaar gespeel in die flieks Jy Is My Liefling (1968) en Danie Bosman (1969), en ook saamgewerk aan die TV-reeks Familiedae (1981).
“Daarna het ons paaie uitmekaargeloop, maar toe reël Shaun ’n ontmoeting in ’n Kaapse restaurant. Sjoe, ons kon nie uitgekuier raak nie!”
Ook haar musiekloopbaan saam met die countrylegende Lance James sal sy altyd koester, sê Min.
Dié twee ikone het deur die jare letterlik duisende konserte saam gehou en sewe duetalbums opgeneem. “Ons tree nog af en toe saam op,” vertel Min. “Wanneer ons saam op ’n verhoog is, terg Lance altyd die gehoor en sê: ‘Sien julle, ons is steeds bymekaar!’ Sy humorsin is wonderlik!”
IN DIE media het dit in haar jong dae gegons oor haar liefdeslewe en drie kortstondige huwelike waaruit geen kinders gebore is nie. Maar die man wat sy as “die liefde van my lewe” beskryf, was die sakeman en boukontrakteur Willie van Blerk, met wie sy in 1989 getrou het.
Sy onthou nog sy woorde nadat prostaatkanker in 2015 by hom gediagnoseer is: “Sorry, darling,” het hy verskoning gevra omdat hy haar ná ’n huwelik van meer as ’n kwarteeu alleen sou moes agterlaat.
“Ek het gevoel hoe hy in my arms maerder en maerder word,” vertel sy van die maande wat sy feitlik permanent langs sy siekbed was. Willie is in September 2016 op 76 dood terwyl sy hom vasgehou het.
Sy is nie skaam om te erken sy sien daarna uit om weer by hom te wees nie. In sy begrafnisbrief het sy immers geskryf: “My mooie man, slaap rustig en kyk uit vir my by die Oos- Poort, want daar sal ons mekaar vir seker weer sien . . .”