DIE BESWYMINGSDANS
Die San het geglo ’n sjamaan, of toordokter, gaan ’n beswymingagtige toestand binne en betree dan ’n geestesruimte waar hulle bose geeste beveg en siekes genees. Die dans kon tot ’n nag lank duur. Die vroue het in ’n sirkel gesit en handeklap en sing, en die mans en sjamaan het in die sirkel of om die vroue gedans. Namate die dans, sang en handeklap intenser geword het, het die sjamaan se krag begin “kook” en by hul ruggrate opgestyg. Wanneer die krag in hul koppe “ontplof”, het hulle die beswyming betree. Die San het geglo die sjamaan wat ’n beswyming binnegaan, tree soos ’n sterwende eland op: Hulle het gesweet, geskud, uit die neus gebloei, vooroor gebuig en eindelik op die grond neergeval. Op rotstekeninge is die sjamaan dikwels langs die sterwende eland geverf omdat geglo is die eland sal sy krag vrystel wanneer hy sterf.