Driehoekhoof wil terugkeer om te help
Die hoof van die Hoërskool Driehoek tree eersdaags af, maar wil terugkeer om die skool en gemeenskap by te staan
DIT is ’n moeilike dag vir die hoof van die Hoërskool Driehoek hier in Vanderbijlpark; ’n onmoontlik moeilike dag soos elke dag die afgelope maand. Dis ’n séér dag. In sy kop herleef Hein Knoetze (59) die verskriklike gebeure van 1 Februarie oor en oor; soos ’n skrikwekkende rillerfliek met ’n eindelose speelsiklus draai dit deur sy gemoed.
Hier by die hoërskool waar hy al 10 jaar hoof is, is ’n gat in die loopbrug tussen die saal en gang wat na die ontvangslokaal en klaskamers lei. Die stutpale onder die oorblywende deel van die brug is ’ n gapende wond wat herinner aan die ramp wat ses dae tevore vier kinders se lewe geneem en meer as 20 beseer het.
Waar Hein nou meters van die toneel staan, is dit asof hy weer die slag hoor van die groot stuk beton wat uit die loopbrug losruk en val – en ook die vreesbevange krete van die beseerde kinders wat daarna in die betonrommel vasgekeer is. Die vreesaanjaende geluide eggo in sy gedagtes.
Dit bly vir hom ondenkbaar, sê Hein en skud sy kop. “Dis die ergste soort ramp, een wat sommerso sonder rede verwoesting kom saai het.”
Hy maak nie oogkontak terwyl hy praat nie. “Ek voel afgestomp,” sê hy. “Nee, dis nie die regte woord nie. Ek voel
numb. Stukkend. My hart bloei. Ek wens ek kon dié ding gekeer het. Die Here ken my hart; ek wens ek kon dit keer.”
Vandag was ’n besonder moeilike dag. Kort voor hy saam met Huisgenoot hier deur die swaar houtdeure van die skool se ontvangsgebied na dit wat oor is van die brug gestap het, was Hein by die begrafnis van die 13-jarige Jandré Steyn.
“Dit het my emosioneel verpletter,” sê Hein. Sy lippe bewe. “En die seer is nog lank nie verby nie.”
Want met die blomme nog kraakvars op Jandré se graf moet Hein hom vir die volgende dag staal – die begrafnisse van Vrydag 8 Februarie. Dié van Roydon Olckers (17), Marli Currie (13) en Marnus Nagel (16), nog drie kinders
wat aan hul beserings beswyk het.
“Ek kon vandag niks vir Jandré se stukkende ouers sê nie,” bieg Hein. “’n Stukkie van my siel is uitgeruk; ’n deel van my is weg. Ek was nog nooit net die skoolhoof nie; ek is hierdie kinders se pa,” sê hy. “En as mý hart so breek . . . Jinne, hoe absoluut verpletter is die ouers nie?”
Hy tree op 15 Maart as skoolhoof af, maar dié ding . . . Dit het sy vele herinnerings aan sy lang en gelukkige loopbaan by die skool vertroebel.
In die donker wolk in sy gemoed is een ligstraaltjie: die manier waarop mense landwyd die skoolgemeenskap steun. Dit gee hom hoop vir die land.
“Niemand kan iets sê om daardie seer weg te vat nie. Niks kan dit weer heel- maak nie. Maar wat ons kán doen, is om te glo dat dié kinders nie verniet dood is nie. En hulle is nie; ons weet dit.”
BUITE die skoolterrein is vandag tientalle mense by die blommemuur, foto’s en kerse wat die slagoffers gedenk. Maar die klaskamers, gange en sportvelde is verlate en spookagtig stil.
“Ek was nog nooit ’n man wat myself in die kollig wou plaas nie,” sê Hein nadat hy op die tweesitplekbank in sy onopgesmukte kantoor gaan sit het.
“’n Leeftyd lank in die onderwys het ek dit vrygespring, maar nou het dié ding my in die kollig ingedwing. Ek is net so onseker soos almal. Ek weet ook nie wat om te sê en doen nie. Die onnies sê: ‘Hein, die Here het jou gekies, want hy weet jy sal hierdie ding kan hanteer.’ Maar ek weet niks. Ek is net so geskok soos almal.”
Hy kyk na die houtbordjie op sy kan- - toordeur: If dad says no, call grandpa. a. “My kleindogter stuur anderdag vir my y ’n boodskap waarin sy sê: ‘Oupa, ek weet t oupa se hartjie is baie seer. Oupa-hulle is s die sterkste mense wat ek ken en ek’s s baie lief vir oupa-hulle. Jesus ook.’ ”
’n Oomblik lank is hy stil. “Joeg. Die e sluise was oop.”
Die dag van die ramp, 1 Februarie, het t hy soos elke weekoggend sy motor om 10 0 voor sewe op die skoolterrein parkeer. r. Daarna het hy die sowat 50 m na sy kan- - toor gestap. Onderdeur die loopbrug bui- - te die saal, soos soveel kere tevore.
Hy het gou iets in sy kantoor gedoen en toe in die personeelkamer met die onderwysers vergader oor die middag se sportbyeenkoms in die naburige Potchefstroom: Julle tel die kinders hier op; ons meld hier aan vir etes; almal moet dié en daai tyd al op pad terug wees.
’n Raps ná halfagt was almal in die saal en toe doen die onderwyseres Monica Dirks die Skriflesing en gebed.
“Sjoe, dit was ongelooflik treffend,” vertel Hein nou oor daardie laaste saalbyeenkoms voor alles in ’n oogwink verander het. En nou besef hy weer hoe gepas die boodskap van Joshua 1:9 was: “Wees sterk, wees vasberade, moenie skrik nie,” som hy dit nou op.
“Man, en die kinders was in so ’n jolige luim. Ons het nog vir hulle geesvangliedjies geleer vir later daardie dag. Hulle het dit so geniet, hulle wou meer en meer hoor. Ek het skuins ná agt uit die saal gestap en gedink dít was mooi;
‘En as mý hart so breek . . . Jinne, hoe absoluut verpletter is die ouers nie?’