Huisgenoot

Vrou se 83 jaar van vreugde en verlies

In ons reeks Hierdie Lewe, waarin gewone mense ’n stukkie van hul lewe deel, vertel Sophie Vosloo oor haar vreugdes en verliese in haar 83 jaar op aarde

- Soos vertel aan JOANIE BERGH

EK VAT elke dag die bus alleen in stad toe, dan stap ek na die hospitaal. My dogter is ’n chirurg en in die week help ek haar met die admin. Ek loop elke dag, behalwe as die wind so verskrikli­k waai of as dit reën. Ek het al ’n hele paar keer platgeval hier op die sypaadjie, dan help die mense rondom my my darem vinnig op. Eendag toe die wind erg was, het ek oor die pad geloop en nogals gesukkel. Ek sien toe skielik net twee hande hier langs my wat die wind vir my van agter af probeer keer.

Soos die kinders sal sê: Ek is ámper 84. Ek het vier kinders en sewe kleinkinde­rs.

Ek het op Viljoenskr­oon grootgewor­d, en toe ek in st. 9 was, het ons Steynsrus toe getrek. My pa het daar geboer. Ag, dit was sommer ’n gemengde boerdery gewees, maar meestal met melkbeeste.

Ma het ’n bakkery op die dorp gehad. Sy kon sulke lekker tertjies bak, ek sê vir jou. Oop tertjies en toe tertjies. Sy was beroemd vir haar skilferkor­sdeeg. En vleisrolle­tjies. Sy het die meeste goed gebak, behalwe koeksister­s – sy was nie lief vir dit nie. Ek het haar ook gehelp; veral oor Kersfees, dan het ons min geslaap en net in die kombuis gestaan en bak, want dan was die bakkery besig. Dit was die enigste een op die dorp.

Ná skool het ek op die PUK studeer; hulle het dit destyds huishoudku­ndeonderwy­s genoem.

My man, Arnold, was toe ’n dokter op Steynsrus. Arnold Vosloo. Maar ek dink nie ons is familie van die akteur met dieselfde naam nie. Lyk my dis ’n algemene naam onder die Vosloos.

Ek en Arnold was 43 jaar getroud. Hy was agt jaar ouer as ek, en ons het mekaar ontmoet op die dorp toe ek nog studeer het. Jy kan nie op Steynsrus iemand nié ontmoet nie; daar was so min jong mense gewees. Ons het 18 maande uitgegaan voor ons getrou het. Ek kan nie vreeslik onthou hoe hy my gevra het om te trou nie; die ding het ’n aanloop gehad.

Ná ons troue het ons in ’n ou huis gebly wat eers ’n hospitaal was. Die dokters het dit in ’ n huis omskep, en die spreekkame­rs was sommer so naby aan die huis. Ek het toe die spreekkame­r se administra­sie en dinge gedoen, en daar het ons ook ons eerste dogter gehad.

Later het ons Johannesbu­rg toe getrek, waar die tweeling gebore is. My man het gesê ons kan nie met vier klein kinders so rondtrek nie en het ’n huis gekoop sonder dat ek dit gesien het.

Die kinders was soms ’n handvol. Ek het later nie ’n ornament in die huis oorgehad nie. My oudste dogter sal dit van die rak afhaal en die tweeling sal dit hieronder bewerk.

Dit was ook maer jare gewees. Arnold het nog geswot en het 92 pond per maand verdien.

Ná vyf jaar het ons Bloemfonte­in toe getrek, en Arnold het by die nasionale hospitaal gewerk. Ons het 37 jaar daar gebly. Ek mis Bloemfonte­in, maar ek het eintlik min vriende daar oor. Dié wat nie al dood is nie, het ook maar soos ek na hul kinders toe getrek.

Ek onthou die dag en minuut toe ek in die Kaap aangekom het. My dogter het ook ’n tweeling gekry, en dit was die eerste keer ná my man se dood dat ek so ver alleen moes ry. ’n Vriendin het saam met my gery toe my kleinseun my net so buite Beaufort-Wes bel en sê: “Ouma moet kom; die babatjies is op pad!”

Laat daardie aand, net toe ons in die stad indraai, toe bel my seun en sê die tweeling is hier en alles gaan goed. Toe ek in die Kaap aankom, is hulle gebore.

In 2001 het ek getrek, en ek het gehelp om na die tweeling te kyk. Dit was lekker. Maar hulle is nou groot; ons het hulle nou die dag universite­it toe gevat.

Ek bly alleen. Ek het vir my kinders gesê ek sal aftrek, maar ek wil my eie adres hê.

Ek het nie ’n kat of hond nie. Ek wil niks hê wat my bind nie, maar ek het baie plante. Baie malvas. My kleinkind het eendag ’n steggie van ’n malva vir my gegee. Ek het hom geplant in ’n pot, maar nou druk hy my ander malvas eenkant. Ek moet hom nog uitplant.

As ek nie werk nie, vul ek blokkiesra­aisels in, hekel of brei. Ek lees ook boek.

Ek mis my ma en pa baie. Soms as ek iets sien, dan dink ek: “Magtig, hulle moes nou hier gewees het.”

En veral wanneer ek melktert eet, dink ek aan my ma. Soms sal ek dan self ’n melktert bak, maar as ek te lui is, gaan koop ek maar een.

Arnold was jonk toe hy dood is. Hy was maar 70 en het net afgetree.

Ons het pas teruggekee­r van vakansie af. As ek nou so na die foto’s kyk, moes ek geweet het hy was nie lekker nie.

Ons was op pad Johannesbu­rg toe. Ons tweeling het 40 jaar oud geword; ons het ’n skaap laat slag. Toe bel hy my die middag en sê hy voel nie lekker nie. Hy is in die hospitaal opgeneem.

“Wat van die skaap en die kinders se verjaardag?” vra hy my toe.

Ek sê toe hy moet daarvan vergeet en ek is op pad met klere. Elk geval, hy het nooit daar uitgekom nie. Dit was die 29ste Augustus 1998. Hy het ’n hartomleid­ing gehad en dit het goed gegaan. Ek en my dogter het nog met hom gestap in die hospitaalg­ang. Maar hy word toe baie siek. Hy was presies twee maande in die hospitaal voor hy oorlede is.

So op jou oudag dink ’n mens net met dankbaarhe­id terug. Ons het ’n goeie lewe gehad en ons kinders het ons baie plesier gegee.

Arnold was ’n goeie man, baie konsiderer­end. Toe ons net getroud was, was dit ons eerste Kersfees saam op Steynsrus. My ma, pa en susters het by ons gekuier. Toe daag Arnold met twee wildvreemd­e mense daar op. Daardie tyd het hulle kraglyne op die dorp ingesit en daar was kontrakwer­kers gewees. Almal was al weg, toe kry Arnold die twee in die straat. Toe bring hy die twee Engelse mans in sodat hulle saam met ons Kersfees vier.

Ná Arnold se dood moes ek alles alleen leer doen. Maar ek was al selfstandi­g en het baie van die besigheid geweet. Maar laat ek jou vertel: Al was ek hoe selfstandi­g, toe hy dood is, toe was ek verlore.

Jy is sommer dom vir die eerste ruk. ’n Mens moet eintlik nie dan besluite neem nie. Ek en hy sou daardie jaar saam die Tuinroete ry. Ná sy dood besluit ek, my dogter en ’n vriendin om nou maar die pad te ry wat ons sou ry. Dit was erg om dit sonder hom te doen. Baie erg.

Jy sal dink die verlange versag ná 20 jaar. As Arnold nou hier was, sou hy saam met my koffie gedrink het. Hy was lief vir koffie met melk en twee suiker.

En ek sou net een ding graag vir hom m wou vra. Dit sou wees: “Waarom het jy y my so skielik ge-

Ek bly alleen. Ek het vir my kinders gesê ek sal aftrek, maar ek wil my eie adres hê

 ??  ?? Die verlange na haar man, Arnold (op die foto in haar hand), lê ná 20 jaar nog vlak. Op 83 is Sophie Vosloo, ’n oud-Vrystater, lief vir die Kaap. Sy gaan werk elke dag by haar dogter.
Die verlange na haar man, Arnold (op die foto in haar hand), lê ná 20 jaar nog vlak. Op 83 is Sophie Vosloo, ’n oud-Vrystater, lief vir die Kaap. Sy gaan werk elke dag by haar dogter.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa