Hoe kry jy jou man om meer te doen?
In vele huishoudings is die meerderheid take die vrou se plig – hoe gemaak om die balans reg te stel?
POEGAAI is nie eens ’n sterk genoeg woord vir hoe gedaan sy voel nie. Die jaar is in sy kinderskoene en Erica van Heerden is reeds doodmoeg. Sy kom baie aande eers teen agtuur agter sy het die hele dag nog nie ’n oomblik se blaaskans gehad nie. Vandat haar wekker soggens vyfuur lui, is die Johannesburgse ma van twee aan die gang. Sy pak kosblikke, maak ontbyt, kry die kinders by die skool. En dan, ná ’n moeilike dag op kantoor, wag daar nog ’n geswoeg by die huis: skooltake, aandete, skottelgoed.
Maar dit is nie net hierdie take wat haar uitgemergel laat nie. Dis al die ander goed. Die doenlysies in haar kop, die beuselagtighede wat sy moet afhandel om die huishouding aan die gang te hou – soos om toiletpapier te koop, te onthou om die kragrekening te betaal en toestemmingstrokies vir skooluitstappies in te vul. Dis om te weet waar almal se items is, om die een te wees wat nie net aandete maak nie, maar ook besluit wat dit moet wees, en wat seker moet maak almal kom by die tandarts/dokter/haarkapper uit.
Fyn voetwerk om alles in te pas – dis die storie van haar lewe.
“Daar is altyd 101 dinge wat ek nog moet doen,” sê Erica, ’n verkoopsadministrateur.
Sy is nie ’n enkelma nie, en haar man, Blake King-Eeson, ’n werktuigkundige, help wel met ritte skool toe en maak soms aandete. Maar hy erken hy dra nie naastenby dieselfde las van huishoudelike verpligtings as sy vrou nie.
Hul situasie is nie uniek nie; ’n soortgelyke scenario heers in talle SuidAfrikaanse huise. Hoewel mans deesdae ál meer hul kant bring, is vroue steeds die mense wat die wiele van die huishouding laat aanhou draai.
Daar is ’n naam daarvoor: onsigbare werk. En in ’n nuwe studie deur die Universiteit van Arizona en die Universiteit van Oklahoma is onthul watter hewige tol dié wanbalans van vroue eis.
’n Peiling onder 400 vroue, almal met kinders onder 18, het die volgende bevindings gelewer oor diegene wat voel hulle het die hoofverantwoordelikheid vir die bestuur van die huishouding: Hulle is oor die algemeen minder tevrede met hul lewe en verhoudings, het min tyd vir hulself en voel uitgeput en oorweldig deur hul rol as ouers. Nege uit 10 vroue het aangedui hulle is op hulself aangewese om die gesin se dagprogram te reël. As ’n mens in ag neem dat 65% van hulle ook ’n werk het, is dit ’n groot persentasie.
Daar is bevind talle vroue beskou hul rol as die hoofkoördineerder van huishoudelike sake as ’n uitputtende, ondankbare werk, ook wanneer hul maats wel help met take in en om die huis.
“Die alewige fyn voetwerk om by alles uit te kom en die verrigting van verskeie take tuis het ongetwyfeld ’n negatiewe invloed op geestesgesondheid,” sê die senior navorser van die studie, prof. Suniya Luthar van die Universiteit van Arizona se departement sielkunde.
Erica kan hiervan getuig. Sy was so bekommerd dat sy op die randjie van uitputting is dat sy onlangs sterk vitamienaanvullings begin neem het.
Sy weet pille is nie die antwoord nie. Die oplossing is om haar man meer te laat bydra tot die huishouding.
HOEKOM KOM MANS WEG MET MINDER DOEN?
Die samelewing het minder verwagtings van mans om tuis “bestuurders” te wees, sê Karen Graaff, ’n voormalige sosiologiedosent aan die Universiteit Stellenbosch wat in genderkwessies spesialiseer.
Mans sit dikwels nie handjie by tensy hulle eers gevra word nie. Maar om te vra plaas nog meer druk op die vrou, sê Karen.
Vir baie vroue is dit soms makliker om die takies self te doen eerder as om by hul maats te neul om hul deel te doen.
Karen sê die probleem word vererger omdat sekere werke in Suid- Afrika steeds as “vroue se werk” beskou word.
“Mans wat betrokke pa’s of tuisblypa’s is, word as onmanlik beskou.”
Sy glo dit word versterk deur wetgewing – vroue is geregtig op vier maande kraamverlof; mans kry net 10 dae.
Tog sê Karen mans moenie toegelaat word om soos altyd voort te gaan nie.
“As volwassenes, ouers en lewensmaats is hulle heeltemal in staat om in die huis en met hul kinders te help sonder dat iemand vir hulle moet sê wat om te doen,” sê sy.
Baie mans help deesdae meer in die huis as wat hul pa’s gehelp het, sê Tina Thiart, voorsitter van die feministiese organisasie Women’s Net. Maar volgens haar rus die verantwoordelikheid in die meeste huishoudings steeds op die vrou.
Sy sê mans tree graag op asof hulle hul deel doen, maar dikwels kies hulle maar net die lekkerste pligte vir hulself.
Hulle sê byvoorbeeld eld graag hulle neem beheer oor die be- groting, maar dan is s dit steeds die vrou se e werk om seker te e maak die rekenings s word betyds betaal.
Sy sê net so maak k sommige mans af en n toe aandete en spog g dan hulle “deel” die e kookverpligtings. En n om dinge te vererger, r, laat hulle dit boonop p aan vroulief oor om al die inkopies te doen. .
“Dis vroue wat ná werk in verkeer sit en by die winkels probeer uitkom om kruideniersware te koop sodat daar iets is om gaar te maak.”
WAT KAN VROUE DOEN OM DIE PROBLEEM TE HELP OPLOS?
Dit gaan oor die manier waarop vroue kinders grootmaak, glo Tina. “Met ons ouer geslag het ons seuns niks gedoen nie,” erken sy.
Ma’s het nie van hul seuns verwag om ’n vinger te lig nie. En nou sit hul vroue met mans wat traag is om in en om die huis te help.
Maar Karen sê pleks van om die vinger na vroue te wys, moet die samelewing fokus op hoe mans hul betrokkenheid kan verbeter sonder dat hulle gevra word om dit te doen.
“As ons daaroor praat as iets wat vroue kwansuis verkeerd doen, plaas dit druk op vroue om dit reg te stel – benewens die bestuur van die hele huishouding.”
Karen sê vroue moet meer van hul maats verwag. Die talle pa’s wat hul kinders self grootmaak, bewys mans kán dit doen.