Huisgenoot

Wie trek Nicholás Maduro se toutjies?

Die vrou van Venezuela se korrupte president konkel glo meer as hy – dit terwyl haar landgenote krepeer

- Saamgestel deur JANE VORSTER

SY STRAAL van trots terwyl sy na haar man kyk. Pres. Nicolás Maduro is nou wel ’n korrupte diktator wat Venezuela op sy knieë gedwing het, maar vroulief staar na hom asof hy ’n held is. Hoe kan sy so blind wees?

Vir sommige is die antwoord eenvoudig: Sy is nog korrupter as hy.

Cilia Flores is in haar land so gehaat dat mense na haar as die “Lady Macbeth van Suid-Amerika” verwys.

Terwyl haar man van die een ramp na die volgende beweeg, glo talle Cilia, ’n voormalige prokureur, is die poppespele­r wat die toutjies trek.

“Sy’s ’n Venezolaan­se Claire Underwood,” sê John Polga-Hecimovich, ’n assistentp­rofessor in politieke wetenskap aan die Amerikaans­e Vlootakade­mie, met verwysing na die konkelende presidents­vrou wat Robin Wright in die trefferree­ks House of Cards speel.

Cilia (62) is glo nie net magshonger nie; sy is ook gulsig, en dit lyk nie of sy ’n duit vir haar mense omgee nie. Terwyl talle Venezolane sukkel om een ete per dag te bekostig, skeel dit haar min om saam met haar man aan steak weg te lê. Op een foto wat verlede jaar in die sosiale media gedeel is, eet hulle steak van R3 800 wat deur die sjef Salt Bae berei is.

Met dié dat Nicolás se presidents­kap wankelrig begin lyk, is daar ook gerugte dat die twee miljarde die land uitgeneem en in oorsese bankrekeni­ngs versteek het. Daar is bewerings van verduister­de oliegeld, goudstawe wat uit die sentrale reserweban­k verdwyn het en ’n geheul met dwelm- en wapensmokk­elaars.

Dinge lyk so sleg dat Kanada haar naam by ’n lys van mense gevoeg het wat hulle as “verantwoor­delik vir die agteruitga­ng van demokrasie” beskou.

Intussen het die Amerikaans­e departemen­t van finansies sanksies teen Cilia ingestel vir haar rol in die “bevorderin­g van korrupsie, dwelmhande­l en menseregte­skendings”. Dit beteken al haar eiendom en bates daar is gevries.

En die besluit het ’n senuwee raak geboor. Nicolás (56) was woedend. “Jy mors nie met Cilia nie,” het hy in ’n televisiet­oespraak gesê. “Jy mors nie met die familie nie. Moenie lafaards wees nie. Haar enigste misdaad is sy is my vrou.”

TOE haar man in 2013 president word, het Cilia die titel “presidents­vrou” verwerp. Dis “te kleinburge­rlik”, het sy gesê. Sy sou bekend wees as “die eerste vegter van die vaderland en die eerste vrou van die mense”.

Maar deesdae word sy net beskou as ’n lewende bewys van hoe mag tot verdorwenh­eid lei.

Cilia het in ’n beskeie huis in Tinaquillo grootgewor­d, en haar liefde vir motorfiets­e het haar die bynaam Biker Girl besorg. Sy het met haar hoërskooll­iefde, Walter Gavidia, getrou, drie kinders gehad en in die 1980’s ’n regsgraad aan die Santa María-universite­it behaal.

As lid van Hugo Chávez se regspan het sy ’n sleutelrol daarin gespeel om die revolusion­êr uit die tronk te kry ná sy mislukte staatsgree­ppoging in 1992. Hy was van 1999 tot 2013 die president van Venezuela en die een wat Cilia aan haar toekomstig­e man voorgestel het.

Nicolás, ’n gewese busbestuur­der, het deur die vakbonde se geledere opgang gemaak en was ’n vurige ondersteun­er van Hugo se sosialisti­ese revolusie. Nadat Hugo in 1999 president geword het,

was Nicolás minister van buitelands­e sake en ook ’n ruk lank adjunkpres­ident.

Hugo het Cilia ook vir haar lojaliteit beloon deur haar die voorsitter van die land se wetgewer te maak. Sy is later as prokureur-generaal aangestel.

Hoewel Nicolás en Cilia sedert die vroeë 1990’s ’n paartjie is, het hulle eers in 2013 afgehaak. Hy was toe reeds president. Hy het die pos oorgeneem nadat Hugo (58) aan ’n hartaanval dood is ’n paar maande nadat hy vir sy vierde termyn as president ingehuldig is.

Buiten haar nuwe rol as presidents­vrou het Cilia toe ook oorgeneem as adjunk in die land se nasionale vergaderin­g. Maar daar was omstredenh­eid toe dit aan die lig kom sy het haar invloed gebruik om te verseker meer as 40 van haar familieled­e kry aanstellin­gs in verskeie politieke ampte.

“Cilia is ’n intelligen­te en ambisieuse vrou,” sê die joernalis en politieke aktivis Noris Argotte. “Die pro-regeringsm­edia hou haar as vegter voor, maar hatige teenstande­rs beskou haar as ’n vrou wat haar posisie misbruik om luuks te leef.”

Bronne sê sy is Nicolás se “hoofraadge­wer” en hy neem geen besluit voor hy haar eers geraadplee­g het nie. En dis hoekom talle haar vir die land se rampspoedi­ge agteruitga­ng blameer.

Die ekonomie van die olieryke Venezuela, eens Latyns-Amerika se welvarends­te nasie, het met byna 50% gekrimp sedert Nicolás aan die bewind gekom het. Kenners sê dis weens korrupsie en wanbestuur; en nou ly gewone mense daaronder.

Die gesondheid­stelsel het ineengesto­rt en kruidenier­swinkels is leeg. Maar selfs al was daar kos, sou die meeste mense dit nie kon bekostig nie. Die Internasio­nale Monetêre Fonds verwag Venezuela se inflasieko­ers gaan vanjaar 10 miljoen persent bereik, een van die ergste gevalle van hiperinfla­sie in die moderne geskiedeni­s.

Intussen het Nicolás, desperaat om aan mag vas te klou, kritici van sy regime in die tronk begin stop. Maar wanneer hy saam met sy vrou gewaar word, lyk hy sorgeloos – hulle hou hande vas, speel skaak en stap met ingehaakte arms.

Cilia is gretig om sy beeld te poets en het ’n werklikhei­dsreeks begin aanbied waarin sy plekke soos pediatries­e hospitale en ouetehuise aandoen en met kabinetsmi­nisters oor die Bolivariaa­nse sosialisti­ese revolusie gesels. Maar dit was vervelig en kykertalle het oes gelyk.

Hoewel Cilia beweer sy volg die Kabbalah-geloof en gedurig boodskappe van teenmateri­alisme verkondig, word sy gereeld in ontwerpers­klere gewaar.

Intussen word haar drie seuns uit haar eerste huwelik, Yosser, Walter en Yoswal, in Amerika ondersoek vir hul beweerde rol in ’n reuse- internasio­nale geldwasske­ma waar geld uit Venezuela se nasionale oliemaatsk­appy geplunder en in geheime bankrekeni­ngs versteek is.

Hulle het met dié twyfelagti­ge skema na bewering sowat R2,7 miljard in hul sak gesteek. Hoewel die bewerings nog bewys moet word, kan almal sien die drie geniet die lekker dinge in die lewe. Baie Venezolane was ’n ruk gelede ontstoke toe dit aan die lig kom Yoswal en Walter het R600 000 op luukse verblyf van 18 nagte in die Ritzhotel in Parys geblaas. Die rekening is gelykstaan­de aan die gesamentli­ke maandeliks­e salarisse van 2 000 Venezolane.

Intussen dien twee van Cilia se neefs, Efrain Flores (31) en Franqui Flores (33), in Amerika 18 jaar tronkstraf uit nadat hulle R270 miljoen se kokaïen in die land probeer insmokkel het. Die twee, wat deur Cilia en Nicolás grootgemaa­k is, het in 2017 in hofdokumen­te beweer hulle smokkel dwelms om geld in te samel “om hul familie in magsposisi­es te hou”.

Deesdae lyk dit of die net ál stywer om Nicolás trek. Ná bewerings van stemknoeie­ry in verlede jaar se verkiesing erken talle lande Juan Guaidó, hoof van die opposisie, nou as die land se regmatige president.

Teen druktyd het Nicolás geweier om die presidents­kantoor te ontruim. Die beleërde president het te midde van betogings om hom sy tassies te laat pak vir mense gevra om vir hom te bid. “Ek vra dat julle my jul seën sal gee. Ek vra genoeg liefde om die leisels van die land oor te neem en die land na ’n beter bestemming te lei.”

Al is liefde onder sy mense maar yl gesaai, kan hy ongetwyfel­d altyd op sy vrou staatmaak. Want as sy die sê gehad het, was hy ten spyte van die lot van sy landgenote lewenslank president.

 ??  ?? HOOFFOTO en LINKS: Venezuela se pres. Nicolás Maduro en sy vrou, Cilia Flores.
HOOFFOTO en LINKS: Venezuela se pres. Nicolás Maduro en sy vrou, Cilia Flores.
 ??  ?? LINKS: Talle mense dink Cilia se liefde vir ontwerpers­klere pas nie by die teenmateri­alismebood­skap wat sy so gereeld verkondig nie. BO: Sy en haar man tree gewoonlik in die openbaar uiters liefderik teenoor mekaar op.
LINKS: Talle mense dink Cilia se liefde vir ontwerpers­klere pas nie by die teenmateri­alismebood­skap wat sy so gereeld verkondig nie. BO: Sy en haar man tree gewoonlik in die openbaar uiters liefderik teenoor mekaar op.
 ??  ?? REGS: Die stylvolle Cilia is gedurig aan haar man se sy. Die presidents­vrou het haar bes gedoen dat haar man meer platop-die-aarde oorkom sodat mense van hom sal hou, maar sommige sê sy sal wat dit betref net nooit kan wen nie.
REGS: Die stylvolle Cilia is gedurig aan haar man se sy. Die presidents­vrou het haar bes gedoen dat haar man meer platop-die-aarde oorkom sodat mense van hom sal hou, maar sommige sê sy sal wat dit betref net nooit kan wen nie.
 ??  ?? Cilia het deur die jare een van haar man se grootste – en glo ook luidrugtig­ste – ondersteun­ers gebly.
Cilia het deur die jare een van haar man se grootste – en glo ook luidrugtig­ste – ondersteun­ers gebly.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa