Huisgenoot

80-jarige op pad na Wêreldspel­e

Op 80 en ná ’n hartoorpla­nting gaan die superfikse Johan vanjaar aan vyf nommers op ’n Wêreldspel­e deelneem deelne m

- Deur PIETER VANAN ZYL Foto’s: JACQUESS STANDER

DIS skuins voor nege op hierdie bewolkte, koel oggend. Met ’n dynserige Tafelberg as agtergrond is ’n atleet hard aan die opwarm hier in die Bellville- atletiekst­adion. Sy bewegings spreek van die veerkrag en selfvertro­ue van ’n jong man. Eers wanneer jy nader aan hom is, merk jy die tekens van ’n gevorderde leeftyd aan sy lyf en gesig.

Maar ’n mens is so jonk soos jy voel, hoor jy dikwels. En dit geld beslis vir die 80-jarige Johan Roos, want hy oefen met die energie van ’n veel jonger man. “Kom, julle manne, ek moet nog twee keer om die baan om los te maak,” por hy die paar ander atlete aan. Want vir Johan is elke spier in sy lyf en elke asemteug ’n viering van sy tweede kans op die lewe.

Meer as 20 jaar gelede het ’n dodelik siek Johan ’ n nuwe hart met ’ n oorplantin­g gekry – en daarmee saam ’n nuwe, onblusbare lewenslus. En in Augustus vanjaar sal hy aan die Wêreldoorp­lantingspe­le in Newcastle, Engeland, deelneem. Hy sal in vyf nommers meeding: spies-, diskus- en krieketbal­gooi, gewigstoot en pétanque, ’n tradisione­le Franse spel soortgelyk aan rolbal.

Terwyl hy litte losmaak, daag talle jong gestremde atlete op om te oefen onder die wakende oog van hul afrigter, Mogamat Zain Lamara. Dié afgetrede onderwyser van Belgravia, Kaapstad, het Johan en 12 kinders uit spesiale skole onder sy vlerk geneem.

“Johan werk hard. Hy sal selfs oor naweke kom oefen wanneer ons nie hier is nie. Nes die jong mense vir hom ’n inspirasie is, so is hy vir hulle,” sê Zain.

Hy help Johan met krag- en tegniekwer­k sedert hy verlede Augustus, op sy rype ouderdom nogal, vir die Spele gekwalifis­eer het. “Mense van sy ouderdom het nie baie vet en spiere aan hul bene nie. Namate ’n mens ouer word, verloor jy balans en selfvertro­ue,” sê Zain.

Terwyl ons praat, hardloop Johan, wat daagliks twee uur lank hier oefen, op en af met die paviljoent­rap. Daarna is dit op en af met die graswal om die stadion.

“Dit is my groot oefenpel dié,” sê Johan tydens ’n blaaskans en beduie na die 16-jarige Nabeel Odendaal. Weens ’n genetiese afwyking is sy hande misvorm, maar dit het hom nie gekeer om die Suid-Afrikaanse gestremde o.20-spiesgooik­ampioen te word nie.

Ons ontmoet ook vir Jonathan Swanepoel (21), ’n Suid-Afrikaanse gestremde diskuskamp­ioen in ’n rystoel. En Fundile Nomtfhonga­nan, wat skoon van sy verwronge bene en krukke vergeet wanneer hy gewigstoot.

Die jonges het groot bewonderin­g vir Johan. “Die oom is fiks en hy werk hard,” laat Nabeel hoor. Maar hy het skaars sy sin voltooi of daar trek Johan al weer in volle vaart weg . . .

“Hoogseisoe­n” en “Spoed! Met balans en ritme” het iemand met gekleurde kryt op die baanopperv­lak geskryf. Maar Johan en die ander atlete wat vandag

hier oefen, het duidelik nie baie aanmoedigi­ng nodig nie. Min kry hulle onder.

TERUGSLAE is iets waarmee Johan goed vertroud is.

In 1998 het hy die hartaanval gehad wat hom amper sy lewe gekos het. Hy was al 61 toe die skenkersha­rt in sy bors geplaas is – ’n prosedure wat gewoonlik net op jonger mense uitgevoer word.

In 2009 is sy vrou en steunpilaa­r, Dorothy (toe 70), weens limfkanker oorlede. Daarna het hy al sy geld in ’n piramidesk­ema verloor.

Die jongste slag was verlede jaar toe hy en sy tweede vrou, Laura (70), hul woonstel weens ’n brand verloor het.

Maar dis juis al hierdie dinge wat hom vasbeslote maak om op die komende Oorplantin­gspele uit te blink, sê hy.

“Daardie tweede kans met die hartoorpla­nting was nie om net te bestaan nie, maar om voluit te leef en die meeste van elke dag te maak,” verduideli­k hy.

Die sweet tap Johan al af, maar ’n volle uur se oefening lê nog voor. “Ek gebruik die tweede lewe wat my gegun is ten volle,” herhaal Johan. “Ek is die bewys daarvan dat die mediese wetenskap ’n mens kan help om jouself op ’n hoë ouderdom steeds uit te leef.”

Voor sy oorplantin­g was hy ’n baie siek man. In September 1998 het hy kardio-miopatiese hartversak­ing gekry. Die dokters het hom 10 maande gegee om te lewe. “Ek het heeltyd hierdie doodsgevoe­l gehad. Ek was swak met ’n asemtekort,” onthou hy.

Dit was 6 November 1998 toe hy die oproep kry dat ’n skenkersha­rt gekry is. “Ek onthou die Springbokk­e het teen die All Blacks gespeel.”

Die volgende dag is die “ou Johan” in die teater in die Groote Schuur-hospitaal ingestoot. “Ek het ná die operasie wakker geword met ’ n gevoel van bruisende lewe. Ek het vinnig herstel en het besluit om te oefen deur te stap. Ek het nuwe energie begin ervaar wat my gedwing het om op hierdie ouderdom aktief te wees.”

Hy bieg hy is g’n natuurlike atleet nie. “Op skool wanneer die onderwyser­s my sien aankom het vir oefeninge, het hulle gesê: ‘Daar is die biblioteek.’ Maar ek wil bewys jy kan op 80 nog ’n bydrae lewer. Jy het die wil om iets te bereik en dit ’n werklikhei­d te maak.”

Hy het van die Spele gehoor en besluit hy gaan deelneem en klaar. Hy het toe reeds van die Suid-Afrikaanse Oorplantin­gsportvere­niging (Satsa) gehoor, maar was eers te skaam om aan te sluit. Toe begin hy maar twee keer per week op sy eie op die Hoërskool Durbanvill­e se sokkerveld oefen – met ’n besemstok vir ’n spies en ’n baksteen vir ’ n gewig, want die ware Jakob kon hy bekostig nie.

In November 2017 het ’n koerantber­ig verskyn oor hom wat so oefen. En gou het weldoeners vir hom ’n spies, gewig en diskus gekoop. Nog ’n samaritaan dek sedertdien ook sy lidmaatska­psfooi hier by die Bellville-atletiekkl­ub.

Johan het vinnig verbeter, en toe hy in Augustus verlede jaar vir die Spele kwalifisee­r, is Zain deur Satsa aangestel om hom behoorlik te brei. “Ek glo vas hy sal goeie resultate behaal en minstens een medalje huis toe bring,” sê Zain trots oor sy oudste atleet.

JOHAN en Laura is drie jaar gelede getroud. Sy is ’n onderwyser­es by St. Mary’s in Kaapstad, en Johan het intussen ná 30 jaar as munisipale bestuurder afgetree.

“Sy het ’n natuurlike ritme in haar. Ek kon glad nie dans nie, maar het die energie daarvoor gehad,” vertel hy.

“Ons twee oues het ’n reputasie dat ons stof in die oë van die jonges kan dans. Ons dans op troues, op geleenthed­e saam met vriende en by die kerk.”

En dis juis die dansery wat Johan help, verklap Zain. “Hy kan daardie draaibeweg­ings gebruik. Met diskus is ouer mense bang om die volle draai te maak vanweë balans. Ek leer hom stuk-stuk om dit op die lyne van die baan te doen.”

Sedert hul woonstel weens ’n elektriese kortsluiti­ng uitgebrand het, woon die immergroen paartjie in ’n kothuisie op die erf van Laura se seun, SJ Vermeulen.

Wanneer hy nie dans of oefen nie, werk Johan aan ’n boek oor sy lewensless­e – en tweede kanse. “Daar is ’n groot tekort aan orgaansken­kers, en ek wil hiermee mense aanmoedig om vrygewig te wees,” verduideli­k hy.

Johan moet nog ’n stewige bedrag insamel om Spele toe te gaan, maar hy is vol hoop dat sy droom bewaarheid sal word. En op 7 September, skaars twee weke ná die Oorplantin­gspele in Engeland, word hy 81 jaar oud – hopelik met ’n trofeekas vol medaljes.

 ??  ?? HOOFFOTO: Ná ’n hartoorpla­nting is Johan Roos op pad na die Wêreldoorp­lantingspe­le in Engeland. Hy het aanvanklik met ’n besemstok geoefen voor hy ’n regte spies gekry het. INLAS: Op 80 is Johan aktiewer as baie 18-jariges.
HOOFFOTO: Ná ’n hartoorpla­nting is Johan Roos op pad na die Wêreldoorp­lantingspe­le in Engeland. Hy het aanvanklik met ’n besemstok geoefen voor hy ’n regte spies gekry het. INLAS: Op 80 is Johan aktiewer as baie 18-jariges.
 ??  ?? LINKS BO: Krieketbal­gooi is een van die nommers waaraan Johan gaan deelneem. REGS BO: Johan hardloop altyd eers twee keer om die baan as deel van sy opwarming.
LINKS BO: Krieketbal­gooi is een van die nommers waaraan Johan gaan deelneem. REGS BO: Johan hardloop altyd eers twee keer om die baan as deel van sy opwarming.
 ??  ?? Johan by sy afrigter, Mogamat Zain Lamara (heel links), en medeatlete. Links is Nabeel Odendaal; voor Johan is Jonathan Swanepoel en regs is Fundile Nomtfhonga­nan. Heel regs is hul afrigter, die meesteratl­eet John Carolus.
Johan by sy afrigter, Mogamat Zain Lamara (heel links), en medeatlete. Links is Nabeel Odendaal; voor Johan is Jonathan Swanepoel en regs is Fundile Nomtfhonga­nan. Heel regs is hul afrigter, die meesteratl­eet John Carolus.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa