Huisgenoot

RAADOP OOR MA SE SKELM LIEFDE

-

My ma is al deur twee slegte egskeiding­s waardeur ek en my broer baie seergekry het. Sy gesels nou gereeld met een van haar vriendinne se pa. Vir ons vertel sy sy soek bloot vriendskap, maar my broer het hulle al saam betrap en dit het hom vreeslik ontstel. Ons het haar gekonfront­eer en sy het toe gesê sy sal die verhouding verbreek. Nou sien hulle mekaar skelm. Hoe laat ek haar besef dat dit haar kinders seermaak? E, SMS

Julle het reeds die onbestendi­gheid van twee gebroke huweliksve­rhoudings agter die rug. Nie net wil julle ’n ruk lank vastigheid in jul lewe hê nie; dit kan ook wees dat julle vir ’n slag jul ma se onverdeeld­e aandag en liefde wil hê.

Moenie haar oor die vriendskap konfrontee­r nie, maar stippel dit duidelik vir haar uit hoekom julle nie van die idee van nog ’n verhouding hou nie en hoekom nog ’n moontlike nuwe ouer vir julle onaanvaarb­aar sal wees. Luister na die redes wat sy gee waarom sy die verhouding skelm voortgesit het.

Al kan haar leuens daaroor die vertroue tussen julle skend, is alles nie verlore wat jul verhouding met jul ma betref nie. Praat mooi met haar en sê as ’n gesin moet julle altyd respek vir mekaar en die waarheid toon. Dit kan die spanning help verlig.

Hou die hele tyd in gedagte dat – al is sy jul ma – sy ook ’n mens bly wat liefde, aanvaardin­g en vriendskap soek. Nie alle ouers neem die hele tyd goeie besluite oor hul lewe nie. Veral ouers wat lank alleen was en ’n behoefte aan ’n maat het, kan vir ’n rukkie kop verloor. Maar om genoeg vir mekaar om te gee om mekaar daarop te wys is ’n manier om die gesinsband­e ál hegter te smee. Hou die kommunikas­iekanale oop.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa