Huisgenoot

Ons soek vroue vir boer Réan se vriende

As hý kon liefde vind, kan sy pelle mos ook. Huisgenoot help boer Réan vrou soek vir sy enkellopen­de vriende

- Deur PIETER VAN ZYL

WAT doen ’n boer as hy reeds die vrou gevind het na wie hy so hard gesoek het? Wel, as hy besorg is oor sy alleenlope­rvriende, help hy hulle sommer ook om liefde te vind.

As jy die afgelope seisoen van die kykNET-maatsoekre­eks Boer Soek ’n Vrou gevolg het, het jou hart waarskynli­k vermurwe oor die vonk tussen Groblersho­op se boer Réan Clasen en sy Engelse roos, Rox-Zee Veldhuizen van Hillcrest. Die twee het mekaar toe sowaar voor die kameras gevind, en sedertdien is hulle glo smoorverli­ef.

Maar terwyl boer Réan en sy RoxZee (albei 27) vir mekaar koer, sit van sy boerevrien­de steeds sonder ’n holte vir die hart.

Tot Réan onlangs besluit het: Nou speel ons sommer sélf Boer Soek ’n Vrou.

Toe hy op sy plaas saam met ’n paar van sy vriende uit die Groblersho­opomgewing in die Noord-Kaap kuier, val dit hom op sy vriende is almal ongehude mans sonder ’n vrou in hul lewe.

En toe maak die jong boer ’n blink boereplan: Op sy Instagramr­ekening deel hy foto’s van sy hubare vriende, kompleet met skakels na hul persoonlik­e Instagramb­laaie en die selfoonnom­mer van die enigste een wat nie ’n Instagramb­lad het nie.

By ’n foto van Ernest Haarhoff (26), Francois Pretorius ( 27), Jannie van Zyl (41) en Duncan Mackay (37), wat ook aan die jongste seisoen van Boer Soek ’n Vrou deelgeneem het, plaas hy toe die boodskap: “Dames en here, eintlik net dames. Hierdie is my 4 single vriende. #topklas #troumateri­aal once in a life time. kontak hulle asb.”

En kort voor lank stroom die boodskappe aan Réan se vriende in: Teen druktyd het hulle elkeen reeds 1 000 volgelinge op Instagram gehad.

Boer Duncan lag nou in sy mou: “Lyk my Réan wil Boer Soek ’n Vrou sommer oordoen.”

En dis dié dat Huisgenoot toe besluit: Kom ons speel saam Boer Soek ’n Vrou en help boer Réan en sy vriende om vir hulle liefde te vind.

DIT het soos ’n doodgewone braaiery begin, vertel Réan.

Francois en Jannie het gekla hulle sal nooit iemand op die rooi Noord-Kaapse vlaktes ontmoet nie. “Ek het hulle daaraan herinner daar is baie visse in die see. Toe dink ek maar ek kan hul aas wyer uitgooi. Dan kan hulle ’n paar lyne in die water hê. Dalk byt die visse beter.”

Toe hy die foto van sy vriende op Instagram plaas, “loop die gemoedere hoog”, vertel hy. “Jannie se foon lui en dis ’n vreemde vrou. Die huis se dak lig amper.”

Intussen het Réan raad aan sy vriende uitgedeel: Wees geduldig.

“Die regte een kom soos ’n dief in die nag oor jou pad. En kom gooi jou hele appelkar om.”

Sy vriende kan sien Rox-Zee maak hom gelukkig.

“Hulle dink seker daar issie foutie in Amanzimtot­i,” sê hy en lag.

Hy en Rox-Zee gesels gereeld. Hulle maak afsprake ver vooruit “sodat ’n mens kan uitsien na daai dag wanneer julle mekaar weer styf kan vashou en omhels.”

Intussen het Francois besluit om nie verder saam te speel nie; die blootstell­ing was vir eers genoeg.

Ontmoet hier Réan se ander pelle – en skryf gerus vir die boer wat jou oog vang, jy is dalk net die vrou van sy drome . . .

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Boer Réan Clasen het liefde in Boer Soek ’n Vrou gevind. Nou wil hy sy vriende help. LINKS: Dit het alles met dié Instagram-inskrywing begin. Van links is Ernest Haarhoff, Réan, Francois Pretorius, Duncan Mackay en Jannie van Zyl.
HOOFFOTO: Boer Réan Clasen het liefde in Boer Soek ’n Vrou gevind. Nou wil hy sy vriende help. LINKS: Dit het alles met dié Instagram-inskrywing begin. Van links is Ernest Haarhoff, Réan, Francois Pretorius, Duncan Mackay en Jannie van Zyl.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa