Huisgenoot

Arendsvlei se Beatrice: “Ek was ook so”

In Arendsvlei speel Jolene Martin ’n vrou wat mishandel is – iets wat sy self baie goed ken

- Deur COLIN HENDRICKS Foto: JACQUES STANDER

OP STRAAT is dit veral vroue wat haar voorkeer wanneer hulle haar as Beatrice Abrahams van Arendsvlei herken. Dan omhels hulle haar en gee haar ’n lang, hartlike druk. “Ek weet nie op daardie oomblik wat hulle deurmaak nie, maar ek gee hulle dan net ’n stywe drukkie terug,” sê Jolene Martin, wat die rol van dié gefolterde karakter in die gewilde Afrikaanse telenovell­e op kykNET & kie vertolk.

Dis ’n gebaar wat meer sê as woorde, want net soos die vroulike kykers wat iets van hulself en hul omstandigh­ede in Beatrice herken, sien Jolene baie van haarself in haar karakter.

“Dit is ’n eer om dié rol te vertolk,” sê sy oor Beatrice, wat deur haar man, David, fisiek en emosioneel mishandel is. Dié karakter is deur die akteur Oscar Petersen (51) van Joe Barber-faam gespeel.

“Ons het dieselfde lewensverh­aal, want ek was ook in ’n verhouding waarin ek mishandel is. En soos Beatrice het ek daardie verhouding oorleef,” vertel die 39-jarige aktrise openhartig.

Hier uit haar woonstel op die vierde verdieping in Bloubergst­rand, Kaapstad, is die uitsig oor die see, met Tafelberg teen die horison, prentjiemo­oi. Die sonlig wat op die water weerkaats, vorm ’n kontras met die donker verhaal oor huishoudel­ike geweld wat sy binne vertel.

Die eerste tekens van die mishandeli­ng wat sou volg, was toe haar destydse lewensmaat haar arm tydens ’n gesprek hardhandig vasgryp, onthou Jolene. “Dit het geleidelik vererger.”

In dié tyd het die beproewing wat sy deurgemaak het ’n dig bewaarde geheim gebly. “Ek het dit weggesteek, want ek wou nie my ouers seermaak nie. Ek het geweet dit sou hulle breek as hulle moes weet ek word mishandel,” verduideli­k sy.

Tog het sy vermoed haar pa, Joseph (nou 60), het geweet alles is nie pluis nie. “Hy het my gereeld gevra of ek my lewe in oorvloed leef, want die Woord sê ons moet dit doen en die lewe is kort.

“Dit het my die krag gegee om sonder vrees te begin leef. Daardie woorde en boodskap van my pa het my vry gemaak.”

Die verhouding het ’n paar jaar gelede “lelik geëindig”, sê Jolene, “maar ek dank God dit is verby. Ek het gebid, my besluit geneem, dit uitgevoer en geweet ek sal nooit weer teruggaan nie.

“Soveel vroue gaan terug na die ou wat hulle mishandel het. Dit is ’ n wrede siklus. Ons moet dié help wat teruggaan.”

En dit is wat sy deesdae doen. Jolene lewer die afgelope paar jaar landwyd motivering­spraatjies waarin sy haar lewensverh­aal deel. Sy werk ook vir die nieregerin­gsorganisa­sie Eldorado Park Women’s Forum wat mishandeld­e vroue en kinders bystaan.

Vandag is sy “’n vegter”, sê sy. “Dit wat ek deurgemaak het, het my sterker gemaak. Ek glo selfs ek moes dit deurmaak sodat ek vandag sterker vir ander vroue kan wees en hulle kan help.”

DIE donkerkopa­ktrise met die groot, sielvolle bruin oë het in Portlands, Mitchells Plain, op die Kaapse Vlakte grootgewor­d as die oudste van drie kinders in ’n uiters talentvoll­e gesin.

Ma Charlene (59) is ’n operasange­res en pa Joseph ’n ontwerping­enieur. Haar suster, Lynette (36), is ’n sielkundig­e en haar broer, Rowan (33), wat in Finland woon, ’n seiljagmee­ster.

“My talent kom van my ma, want ek kan sing en dans en is ’ n aktrise. My

logiese denke kom van my pa, want ek het my eie produksiem­aatskappy,” sê sy.

In 1993 het sy haar TV-loopbaan op 13-jarige ouderdom begin toe sy die aanbieder van die jeugomgewi­ngsprogram EcoVision was. “In 1996 het ek verlief geraak op die verhoog toe ek die rol van een van die hoofkarakt­ers (Velma Kelly) in die musiekspel Chicago in die Kunstekaap­teater losslaan,” sê Jolene.

Toe sy in 1998, die jaar nadat sy gematrikul­eer het, in dieselfde teater die hoofrol in die musiekspel Grease vertolk, was die skrywer en regisseur Janice Honeyman in die gehoor. Sy was so beïndruk met Jolene se spel dat sy haar gevra het om Johannesbu­rg toe te trek met die oog op ’n loopbaan as aktrise.

“Ek is in 1999 Johannesbu­rg toe, waar ek en Janice twee toneelstuk­ke gedoen het. Ek het toe besluit ek wil die vermaakbed­ryf ’n kans gee,” sê Jolene, wat geen formele toneelople­iding het nie.

Later het sy om die beurt in die Goudstad en Moederstad gewoon en gewerk. Die SABC2-sitkoms Fishy Fêshuns en Scoop Schoombie waarin sy gespeel het, is in die Kaap geskiet. Vir haar werk as aanbieder van die Lottoprogr­am Powerball en Coca Cola Mega Millions, ’n speletjies­program op SABC1, moes sy in Johannesbu­rg voor die kameras wees.

Die rol van Beatrice, die voormalige onderhoof van die fiktiewe Hoërskool Arendsvlei, is die eerste “eerlike rol” wat sy vertolk, sê Jolene.

“Arendsvlei is vir my spesiaal, want ek vind aanklank by die karakter. Ek sien baie van myself in Beatrice, die sterk vrou wat nie foutloos is nie. Dit is moeilik om te sien waar sy eindig en ek begin.”

Dit het emosioneel baie van haar geverg om weer in die vel van ’n mishandeld­e vrou te klim. Sy het haar verlede Mei vier dae lank op die oudisie voorberei.

“Ek moes teruggaan na daardie gemoedstoe­stand van ’n vrou wat mishandel word. Ek moes die kere herleef dat ek ’n nikswerd genoem en gekarnuffe­l is en daarna ’n dapper glimlag op my gesig moes plak en my werk gaan doen,” onthou sy haar jare van swaarkry.

“Dit was moeilik om die donker tye weer te besoek, maar ek was sterk en het dit gedoen sodat ek die storie van vroue soos ekself in Arendsvlei kon vertel.”

Partykeer het sy ná ’n toneel saam met Oscar in die rol van Beatrice se gewelddadi­ge man in trane uitgebars.

“Dan het die regisseur my vasgehou, Oscar het my ’n drukkie en ’n sneesdoeki­e gegee en die klankman het soms my arm gevryf.”

Vandag is haar raad aan vroue wat hulle in dieselfde bootjie bevind: “Vertel iemand daarvan en doen dit gou; dan sal hulle onmiddelli­k kan help. Beatrice het te lank geneem om iemand daarvan te vertel en Jolene ook.”

DIE grootste struikelbl­ok wat sy deesdae moet oorkom, is die tik van haar “biologiese klok”, sê sy. “Ek word in September 40 en het nog nie kinders nie; ek het seker eers ’n man nodig voor ek kinders kan kry,” skerts sy.

Sy is sedert Desember weer ’n alleenlope­r toe ’ n verhouding van vyf jaar beëindig is. Die verhouding waarin sy destyds mishandel is, was lank voor dit.

Wanneer sy nie voor die TV-kameras is nie, doen sy agter die skerms navorsing vir ’n dokumentêr oor die Khoi-mense en haar Khoi-herkoms wat sy later vanjaar in samewerkin­g met die Nasionale Filmen-videostigt­ing wil verfilm.

In haar vrye tyd ontspan sy met ’n lekker boek en goeie musiek of sy bring ure agter die kospotte deur.

Dit is deesdae vir haar byna onmoontlik om net gou ’n draai in die winkelsent­rum naby haar woonstel te maak sonder om in ’n Arendsvlei-kyker vas te loop wat ’n foto saam met haar wil hê.

“So hoor ek wat die kykers van my karakter dink en hoe belangrik die reeks vir hulle is,” sê sy.

As ’ n voormalige “Beatrice” in die werklike lewe weet sy hoe belangrik dit vir vroue is om te sien hoop bestaan wel anderkant die seer.

“Om daardie gevoel dat jy ’n mislukking is af te skud was ’n groot stap vir my,” sê die aktrise. “Ek het heelwat uit daardie les geleer, maar dis ’n les wat ek nooit weer wil leer nie.”

 ??  ?? Jolene Martin sê sy vertolk vir die eerste keer ’n “eerlike rol”. Sy speel in die Afrikaanse telenovell­e Arendsvlei, wat op kykNET & kie uitgesaai word.
Jolene Martin sê sy vertolk vir die eerste keer ’n “eerlike rol”. Sy speel in die Afrikaanse telenovell­e Arendsvlei, wat op kykNET & kie uitgesaai word.
 ??  ??
 ??  ?? BO: Jolene as die gefolterde Beatrice by haar TV-man, David (Oscar Petersen). REGS: Die twee in nog ’n toneel uit Arendsvlei.
BO: Jolene as die gefolterde Beatrice by haar TV-man, David (Oscar Petersen). REGS: Die twee in nog ’n toneel uit Arendsvlei.
 ??  ?? BO: Jolene se pa, Joseph, het haar bygestaan toe sy in ’n verhouding was waarin sy mishandel is. REGS: Haar suster, Lynette, en broer, Rowan, by die aktrise. INSTAGRAM/@JOLENEINST­AGRAM
BO: Jolene se pa, Joseph, het haar bygestaan toe sy in ’n verhouding was waarin sy mishandel is. REGS: Haar suster, Lynette, en broer, Rowan, by die aktrise. INSTAGRAM/@JOLENEINST­AGRAM
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa