Donker vooruitsigte vir Eskom?
Suid-Afrika gaan onverwags onder die ergste graad van beurtkrag gebuk – en kenners meen dit kan nog lank ons voorland wees. Hoe het ons hier beland, en is daar uitkoms?
DIT was een van die donkerste weke nog – letterlik. En dit het almal onkant betrap, selfs die president. Nie eens toe kragonderbrekings in 2008 die neerdrukkende orde van die dag was, het Suid-Afrikaners fase 4 – die ergste graad van beurtkrag – beleef nie. Maar nou het dit die land getref.
“Dit is ’n groot skok,” het pres. Cyril Ramaphosa erken. “Dis uiters kommerwekkend en ontstellend.”
Volgens Eskom het dié donkerte ons oorval omdat sewe kragopwekkingseenhede op verskeie plekke in die land onverwags onklaar geraak het. Die beleërde rand het so ’n kwaai knou gekry dat dit die plek ingeneem het as die onstabielste geldeenheid ter wêreld, en kenners het verklaar die kragvoorsiener sal teen April vou as daar nie ingegryp word nie.
Die stand van sake by Eskom is nie volhoubaar nie, meen die energiekenner Chris Yelland. “Hul huidige skuld van R420 miljard sal binne ’n paar jaar tot R500 miljard styg. Eskom leen geld om sy skuld af te betaal. Dis soos om jou kredietkaart te gebruik om jou huisverband te betaal.”
HOEKOM DIE DONKERTE?
Beurtkrag oor die feestyd, toe die aanvraag eintlik laag was, was die eerste aanduiding van die naderende ramp, meen Chris. Toe die aanvraag weer ná die vakansietyd toeneem, het dit Eskom se verskaffingsvermoë oorskry.
“Beurtkrag is ingestel omdat aanlegte onklaar geraak het en nie weens sabotasie nie,” het die Eskomwoordvoerder Khulu Phasiwe volgehou. Maar Chris is nie so seker dat die kragvoorsiener self weet wat skeefgeloop het nie. “Die fase 4-beurtkrag op Maandag 11 Februarie was ’n groot skok,” sê hy.
Die Sunday Times het berig polisie- en intelligensiebeamptes is ontplooi om ’n oog oor kragaanlegte te hou. Die ANCwoordvoerder, Zizi Kodwa, het die kragkrisis as ’n “bedreiging vir nasionale sekuriteit” bestempel.
’N BERG SKULD
Teen druktyd sou Tito Mboweni, die minister van finansies, ’n finansiële inspuiting vir die kragvoorsiener in sy begrotingsrede bespreek het.
Eskom voorsien ’n verlies van R20 miljard vir die finansiële jaar wat in Maart eindig en nog ’n R20 miljard-verlies vir die volgende finansiële jaar – met die gevolg dat beleggers in die land op ’n streep hul tassies wil pak.
“Eskom sê óf vir maatskappye wat in Suid-Afrika wil belê daar is nie krag nie óf kwoteer vir miljarde rande, wat dit onbekostigbaar maak,” verduidelik Chris.
’n Navorsingsverslag wat die Wêreldbank in 2016 gepubliseer het, het getoon twee derdes van Eskom se werknemers is oorbodig en die energiekenner Ted Blom stem saam.
Die 48 000 werknemers kos R31 miljard per jaar en Ted glo “minstens 5 000” is spookwerkers. “Eskom benodig ’n goeie skoonmaak en iemand met genoeg durf om dit te doen,” voeg hy by.
Eskom se skuld is soveel dat net die rente sowat R45 miljard per jaar beloop, sê die ekonoom Azar Jammine.
“Tog genereer dit net R27 miljard in kontant,” sê hy. “Dis hoekom mense sê dit moet geprivatiseer word – dis een manier om met daardie skuld klaar te speel.
“Beurtkrag soos dit tans toegepas word, kos Suid-Afrika sowat R2 miljard per dag.”
DIE REDDINGSBOEI WAT IN ’N RAMP ONTAARD HET
In 2008 is bouwerk aan die reuse- steenkoolaangedrewe kragaanlegte by Medupi en Kusile begin. Dit moes teen einde 2014 elektrisiteit verskaf en is destyds as die
oplossing vir Suid-Afrika se kragkrisis voorgehou.
Die aanlegte sou Suid-Afrika se opwekkingskapasiteit met 25% verhoog, maar albei word nog gebou en skadebeheer oor vakmanskap van swak gehalte neem toe.
“Dis waarskynlik die enkele grootste ramp in Suid- Afrika se ekonomiese geskiedenis,” sê Rod Crompton, direkteur van die African Energy Leadershipsentrum by die Wits-sakeskool en ’n nieuitvoerende direkteur van Eskom.
Chris sê soos sake nou staan, sal Medupi en Kusile waarskynlik eers in 2020 of 2021 – ses of sewe jaar laat – ten volle in werking wees.
“As daar nie onderbrekings was nie, sou Suid-Afrika nie beurtkrag ervaar het nie, want ons sou 10 000 ekstra megawatt van aanlegte gehad het wat goed werk.”
In forensiese ondersoeke is vasgestel die werk van die vervaardigers van oorspronklike toerusting by Medupi was nie op standaard nie, het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, in Desember gesê.
Intussen sê Azar dat transformasie by Eskom geïmplementeer is sonder dat vaardighede en bevoegdheid in ag geneem is. “Nou stel ons ten duurste Italiaanse kenners aan om te kom help.”
Pravin het aan die parlement se openbareondernemingskomitee gesê topingenieurs van die Italiaanse kragmaatskappy Enel is op pad na SuidAfrika om Eskom se instandhoudingsprobleme te takel.
LIG AAN DIE EINDE VAN DIE TONNEL?
Ted voorspel ons sal nog minstens die volgende vyf jaar met beurtkrag moet saamleef. “Tot Eskom ’n steenkoolvoorsieningsooreenkoms op lang termyn bewerkstellig, gaan ons in die duister bly.”
Boonop presteer Eskom se kragstasies swak, sê Chris.
“Hoewel hulle genoeg opwekkingskapasiteit het, is baie daarvan stukkend of besig om instandhoudingswerk te ondergaan; daarom is hul kapasiteit nie altyd beskikbaar nie.”
Hy glo ons kan nog beurtkrag verwag wanneer een of meer opwekkers onverwags onklaar raak. “Dis ’n lukrake proses en ’n mens kan nie voorspel wanneer ’n opwekker sal breek nie.”
Op kort termyn moet Eskom sy opwekkingsaanlegte aan die gang kry. Hulle kan dit doen deur instandhouding te verbeter en meer moeite en tyd aan mense, vaardighede en ontwikkeling te bestee, sê Chris.
Op medium termyn het ons meer opwekkingskapasiteit nodig. “Die vinnigste manier om dit te doen is om die kliënt toe te laat om deel van die oplossing te word,” sê hy.
Dit kan gedoen word deur kliënte wat hul eie sonpanele op dakke en batteryberging in huishoudelike en kommersiële instellings installeer.
Op lang termyn moet hernubare kragvervaardiging versnel word. “Ons moet kyk na gas en ander opsies, insluitend steenkool en kernkrag,” sê Chris.
Bekwame mense is onontbeerlik om Eskom reg te bestuur, sê Ted. “Om instandhouding te skrap is die laaste ding wat jy moet doen, want dis kritiek om die onderneming aan die gang te hou.”
Ted sê Eskom moet sy getal werknemers, instandhouding, direksie en steenkoolverkrygingsproses regruk.
DEEL DIT IN DRIE . . .
Om Eskom in drie staatsbeheerde eenhede te verdeel of ontbondel is in die beste belang van die voorsiener en die land, het Ramaphosa in sy staatsrede aan die parlement gesê. Maar hy het benadruk: “Dis nie ’n pad na privatisering nie.”
Om Eskom te herstruktureer, sal dit af- skaal, koste verminder en vir elkeen van die drie entiteite ’n verantwoordelikheid gee – opwekking, transmissie en verspreiding – onder Eskom Holdings.
Maar vakbonde soos NUM en Numsa meen dit is die regering se plan om ondernemings in staatsbesit te privatiseer; hulle het oorlog verklaar omdat hulle glo dit sal tot die verlies van werke lei.
Chris stem saam ontbondeling is die beste pad vorentoe.
“As dinge dieselfde by Eskom bly, sal dit binne ’n jaar misluk en al daardie werkers sal sonder werk sit. Die hele land sal misluk en miljoene sal daaronder ly.”
Hy glo die herstrukturering van Eskom is noodsaaklik omdat dit te groot is om behoorlik bestuur te word.
Maar Ted hou nie van die ontbondelingsplan nie. “Dis ’n kosmetiese gebaar,” sê hy. “Tensy Ramaphosa die voorsieningsbedryf herstruktureer, is dit ’n vermorsing van tyd. Die plan sal nie geld genereer of Eskom se probleme oplos nie. Dit behandel die simptoom pleks van die oorsaak.”
Ontbondeling sal koste verhoog, sê hy verder. “Dit sal beteken jy het drie direksies, ouditeurs, sekretariate, menslikehulpbronneafdelings, ensovoorts.”
Azar sê ontbondeling maak sin, maar die probleme by Eskom is “diepgewortel”, en om die maatskappy in drie te verdeel sal nie die probleem laat verdwyn nie.
“Korrupsie en ’n oorbesetting van personeel is sleutelkwessies wat aangepak moet word.”
SKAAL AF
Ontleders sê dis ’n geval van wanneer – en nie óf nie – Eskom se personeelkorps besnoei sal word.
Deur rolle te kombineer het Eskom sy uitvoerende bestuur van 21 tot nege gesny. Uitvoerende beamptes het aan beleggers gesê hulle hoop om personeelgetalle geleidelik met ’n derde te verminder, lui ’n Reutersverslag.
Ramaphosa sê daar is nie “een regte antwoord” vir Eskom se probleme nie.
“Nie herstrukturering, herfinansiering, kostebesnyding, tariefverhogings of beter aanleginstandhouding sal afsonderlik ’n uitwerking hê nie.
“Ons moet al hierdie maatreëls beproef en gelyktydig op ’n gekoördineerde wyse en met doelgerigtheid die aanleg omswaai. “En ons sal dit omswaai,” het hy gesê. Die land kan maar net hoop dis waar. EKSTRA BRONNE: NEWS24, FIN24, MG.CO.ZA, TIMESLIVE, REUTERS, DPE.GOV.ZA, THECONVERSATION