My vriendskap met Freddie Mercury
DELE van my lewe het in die fliekteater voor my verbygeflits. Twee betowerende minute lank sit ek vasgenael terwyl die lokprent vir Bohemian Rhapsody speel en my ou vriend Freddie Mercury uit die dood terugkeer.
Die fliek vertel die verhaal van rockmusiek se flambojantste sanger nog, en sy onstuimige privaat lewe wat feitlik van hom ’n kluisenaar gemaak het. Dit beeld alles uit van die treffers wat die kollig by die Live Aid-konsert gesteel het tot die wilde partytjies, die bitter geskille, die hartverskeurende affair met die enigste vrou wat hy ooit liefgehad het, en die tragedie wat die wêreld geruk het.
Ek het Freddie dwarsdeur hierdie tyd- perk goed geken en kan met gesag sê Rami Malek, wat hom in die fliek speel, het die kombinasie van windmakerigheid en kwesbaarheid wat van Freddie die mens gemaak het wat hy was briljant vasgevang. Met ons eerste ontmoeting in 1975 het ek al gesien hoe temperamenteel hy kon wees. Dit was toe hy ná ’ n konsert in Manchester sy kleedkamer binnestorm waar ek wag om ’n onderhoud met hom te voer, ’n strykyster gryp en dit na ’n spieël slinger wat aan skerwe spat. Wel, het ek gedink, hy is duidelik nie bygelowig nie. Die rede vir sy uitbarsting was ’n stukkende mikrofoon, en al was die gehoor salig onbewus daarvan, was Freddie woedend. Toe hy kalmer word, vra ek hom of dit die moeite werd is om so ontsteld te raak oor iets waarvan niemand weet nie. “Party mense kan tweede beste aanvaar, maar nie ek nie,” het hy gesê. “As jy dit geniet om no. 1 te wees, is no. 2 nie goed genoeg nie. As iets verkeerd loop, is dit nie goed om dit op te krop nie. Daarom skree ons op mekaar en breek ’n paar stoele om dit uit ons gestel te kry. “My mikrofoon het vanaand gedurig afgeskakel. Dis asof iemand jou heeltyd met ’n speld prik – irriterend.”
Ondanks sy woede het ek en Freddie dadelik gekliek en het ek ’n hele paar onderhoude met hom gevoer – in Amerika, Ibiza, München, Parys en Londen. Al was hy soos ’n orkaan op die verhoog, het ek hom as ’n heel ander mens beleef.
Agter die skerms was hy ’n skaam man wat vreemdelinge met agterdog bejeën en streng oor sy privaatheid gewaak het. Hy was bang mense sou teleurgesteld wees as hulle uitvind hy’s nie die groter as lewensgroot karakter wat hulle op die verhoog sien nie.
“Ek wil nie die illusie verbreek nie,” het hy aan my verduidelik. “Ek is ’n bietjie van ’n verkleurmannetjie. Ek het buie. Ek is ’n mens van uiterstes.”
FREDDIE is as Farrokh Bulsara op Zanzibar gebore waar sy pa in die Britse koloniale kantoor gewerk het. Albei sy ouers was Parsi-Indiërs. Ná die revolusie op die eiland het die gesin Engeland toe getrek.
As tiener het Freddie kuns bestudeer en klere op die Kensingtonmark verkoop terwyl hy ’ n loopbaan in die musiekbedryf uitgekerf het. Hy en Brian May het mekaar die eerste keer ontmoet toe hy na Brian en Roger Taylor se groep, Smile, gaan kyk het.
Toe hul sanger die groep verlaat, het Freddie by hulle aangesluit, en die legende is gebore. Hy het met die naam Queen vorendag gekom en hul eerste no. 1-treffer, Bohemian Rhapsody, geskryf.
Die liedjie was amper ses minute lank – iets amper ongehoords – en die platemaatskappy het gedink geen radiostasie sou dit speel nie. Freddie het geweier om dit te verkort en het sy vriend die platejoggie Kenny Everett ’n eksemplaar gegee voor dit uitgereik is.
Kenny was mal daaroor en het dit oor en oor gespeel – dit sou later die derde beste verkoper onder enkelsnitte in die Verenigde Koninkryk word. Toe die miljoene begin inrol, het Freddie sy pragtige herehuis in Kensington gekoop.
Hy het uitspattige partytjies gehou, en toe ek eers in sy kring aanvaar is, is ek ook daarheen genooi. Een van die onvergeetlikste partytjies, die Black and White Drag Ball, is in Duitsland gehou.
Die mans moes soos ’n vrouester aantrek en die vroue soos ’n beroemde man, maar almal moes net swart en wit dra. Hy het al sy vriende uit Londen oorgevlieg en ons in die München Hilton
laat bly. Voor die partytjie begin het, het twee grimeerkunstenaars opgedaag om die gaste te omskep. Daarna is hulle met ’n koets na die makietie geneem.
Freddie, in ’n harlekynkostuum en militêre baadjie, het almal by die nagklub ingewag wat hy gehuur en met swart-enwit muurpapier laat versier het.
Sy assistent, Peter Free stone, wat voorheen as kostumier vir die Royal Ballet gewerk het, onthou nog ’n partytjie in New York waar modderstoeiers die gaste vermaak het. Op nog een, in Londen, was die personeellede poedelnakend afgesien van lyfverf.
Ek was op nog ’n verjaardagpartytjie in die byderwetse Pikes Hotel op Ibiza, waar Wham! se video vir Club Tropicana verfilm is. Freddie het die plek oorgeneem. Om dit nog prettiger te maak, het hy al die uitspattige transvestiete in die stad Ibiza daarheen genooi.
Honderde het opgedaag! Selfs toe die hotel se grasdak aan die brand slaan en die brandweer opdaag, het die partytjie voortgegaan, al was party kamers – myne inkluis – in rook gehul.
IETS wat vir Freddie ’n groot teleurstelling was, was dat hy gesukkel het om ’n liefdevolle verhouding te hê. Op die kruin van sy roem in die 1980’s het hy vertroulik vir my gesê: “In hierdie stadium wil niemand hul lewe met my deel nie. Ek wil iemand hê, maar ek dink nie dis maklik om met my saam te leef nie. Ek is ’n romantikus, maar terselfdertyd is dit moeilik vir mense om tot my deur te dring.”
Geld en roem het dit nie makliker gemaak nie.
“Ek lok al die verkeerde soort mense,” het hy erken. “Die paar keer dat ek mense na aan my toegelaat het, is ek verraai; of sodra hulle die Gucci-horlosie gekry het, het hulle verdwyn. Eerlikwaar, hoe meer geld jy maak, hoe ongelukkiger word jy.’’
Toe Freddie in 1985 die verpletterende nuus kry dat hy MIV-positief is, het hy sy leefstyl heeltemal verander.
“Ek was voorheen uiters losbandig,” het hy vir my gesê, “maar ek het dit alles gestaak. Jy weet, die woord ‘vertroosting’ kom by jou op; jy kan nie vertroosting soek én rond*** nie.”
Maar regdeur sy hoogte- en laagtepunte was een mens altyd in sy lewe. Mary Austin was sy sielsgenoot – al mens vir wie Freddie ooit werklik lief was.
Hulle het mekaar in 1970 ontmoet toe sy 19 was. Sy het eendag toevallig oorgestap na Freddie en Roger se stalletjie op die Kensingtonmark. Freddie het haar na ’n optrede genooi – dit was die begin van ’n lewenslange verhouding.
“Ek onthou Freddie se welige swart haredos wat hom soos ’n kavalier laat lyk het,” vertel sy. “Hy was anders as enigiemand wat ek al ooit ontmoet het. Hy was vol selfvertroue, en ek het nooit soveel selfvertroue gehad nie. Ons het saam gegroei. Dit het my drie jaar geneem om werklik op hom verlief te raak.”
Mary het deur die jare dikwels haar hart teenoor my uitgepraat oor haar band met Freddie, oor hoe sy hom op sy siekbed verpleeg het en hoe moeilik dit was om met sy dood vrede te maak.
Freddie het sy huis in Kensington vir haar nagelaat asook ’n 50%-aandeel in al sy rykdom en toekomstige verdienste uit plate en ’n uitgewery – ’n fortuin ligjare weg van haar omstandighede as kind.
Haar ouers was albei doof en het in ’n beskeie huis in Fulham, Londen, gewoon. Sy en Freddie het destyds in ’n klein skakelhuis in Kensington ingetrek.
“Ons het so min geld gehad dat ons net een paar gordyne kon bekostig, en ons het dít in die slaapkamer gehang. Ons moes die badkamer en kombuis met ’n ander paartjie deel,” onthou sy.
Twee jaar later het hulle na ’n groter woonstel getrek. Hul lewe was skynbaar dolgelukkig, maar Mary – wat in die fliek deur Lucy Boynton gespeel word – het begin voel iets skort. “Toe laat hy my eendag in die kombuis sit en sê hy wil gesels. Hy het net uitgeblaker: ‘Ek dink ek is biseksueel.’ Ek het gesê: ‘Nee, Freddie, ek dink jy’s gay.’ Dis al wat ons gesê het; ons het mekaar net omhels.”
Sy het besluit om uit te trek, maar Freddie het daarop aangedring dat sy nie te ver wegtrek nie. “Op die ou end het ons ’n plek daar naby gekry. Ek kon Freddie se huis van my badkamer af sien. Ek het gedink: ‘O, ek gaan nooit wegkom nie.’ Maar ek het nie omgegee nie.”
Nog ’n manier om Mary naby te hou was om haar die sekretaresse van sy maatskappy te maak wat hy van die huis af bestuur het. Dit het beteken sy moes omtrent elke dag daarheen gaan om boekhouwerk te doen.
Sy het later twee kinders by die skilder Piers Cameron gehad. Freddie was in sy noppies toe haar eersteling, Richard, gebore is. Hy het die seuntjie sy eerste woorde – “tractor” en “guitar” – leer sê en ingestem om sy peetpa te wees.
“Daar was ’n deel van Freddie wat dit sou geniet het om ’n gesin, ’n gelukkige huis en kinders te hê,” meen Mary.
Freddie het vir haar gesê hy is MIVpositief lank voor hy dit vir sy groeplede vertel het. Toe hy sieker word, was sy elke dag by hom.
“Toe hy sy sig begin verloor en sy liggaam so verswak het dat hy nie uit die bed kon opstaan nie, het Freddie besluit om ’n einde aan alles te maak deur te weier om sy medikasie te neem. Dit was Freddie se besluit,” onthul sy. “Hy was so ongelooflik dapper. Hy het die dood in die oë gekyk en gesê: ‘Goed, ek aanvaar dit nou; ek sal gaan.’ Dit was vreedsaam en hy het met ’n glimlag op sy gesig gesterf.” Sy dood het haar in rou gedompel. “Ek moes eerste gegaan het – ek sou eerder wou hê dat hy na my verlang as ek na hom.”
Toe hy vir Mary sê hy wil sy huis aan haar nalaat, was skok haar eerste reaksie. Sy was vreesbevange om so ’ n groot verantwoordelikheid te aanvaar en het daarop aangedring dat hy die huis as ’n museum in ’n trust plaas. Freddie het dit oorweeg, maar besluit hy wil hê Mary moet iets permanents in haar lewe hê.
‘Eerlikwaar, hoe meer geld jy maak, hoe ongelukkiger word jy’
“As dinge anders was, sou jy my vrou gewees het en dan sou dit in elk geval joune gewees het,” het hy aan haar gesê.
Hy het ook die taak aan haar opgedra om sy as te hanteer en haar laat beloof sy sou nooit verklap waar dit versteek is nie.
“Hy wou nie gehad het enigeen moes hom probeer opgrawe soos wat met mense soos Charlie Chaplin gebeur het nie,” verduidelik sy. “Hy wou gehad het dit moet ’n geheim bly. En dit sal.”
Mary het ná sy dood in sy huis ingetrek, maar dit het vyf jaar geduur voor sy so ver kon kom om in sy kamer te slaap.
“Daar was soveel herinnerings in daardie kamer. Herinnerings van hom wat ly. Ek het net hierdie verswakte man in sy bed gesien en onthou hoe ek sy hare gekam het, want as hy net agteroor gelê het, was dit deurmekaar.
“In daardie tye het ek soveel liefde vir hom gevoel. Ek het elke dag ses uur lank langs sy bed gesit. Hy sou wakker skrik en sê: ‘O, dis jy, ou staatmaker.’ ”
Een herinnering uit daardie tyd is veral aangrypend. Terwyl sy lewe weg- gesypel het, het Freddie na DVD’s van sy vertonings gekyk.
“Eenkeer het hy na my gedraai en gesê: ‘Om te dink ek was so aantreklik.’ Ek het opgestaan en moes uitstap,” vertel Mary. “Dit was te ontstellend.”
KATTE was Freddie se ander groot liefde. Hy het ses gehad. Partykeer het al die katte op sy koningsgroottebed lê en spin. Daar was Tiffany, ’ n langhaarkat – ’n geskenk van Mary; Delilah, die inspirasie vir die Queenliedjie; die gemmerkat Oscar; Romeo; Miko en die spierwit Lily.
Toe ek hom eenkeer vra of hy graag ’n baba sou wou hê, het hy geantwoord: “Ja, maar ek sou eerder nog ’n kat wou hê.”
Die herskepping van Live Aid, waar hulle die kollig met ’ n optrede van 20 minute gesteel het, is betowerend. Die span het ’n replika van die Wembleystadion op ’n vliegveld gebou, en ons sien hoe Freddie voor 72 000 aanhangers op die verhoog storm.
Ek het die ware Jakob gesien; ek was al joernalis wat daardie dag agter die skerms toegelaat is. Freddie het ’n skoon wodka weggeslaan en stemoefeninge gedoen. Peter het sy klere vir hom reggesit, en ná ’n laaste trek aan ’n sigaret het hy verhoog toe genael.
Dié dag het hy geskree: “Kom ons doen dit!” toe hy uithardloop. Hy het die skare aan sy voete gehad.
MIV was toe al by Freddie gediagnoseer. Natuurlik het hy gehoop daar sou betyds ’n kuur ontdek word, maar ná ’n besoek aan Switserland in 1991 om nuwe liedjies op te neem het Freddie besluit om die medikasie te staak.
“Ons het hom soggens en saans vol tablette gepomp,” het Peter vir my vertel, “en toe sê hy vir ons: ‘Ek is klaar daarmee. Ek het besluit wanneer ek gaan groet.’ Hy wou self daardie laaste besluit neem.” Dit was tipies Freddie. Wat sou hy gedink het van hierdie heerlik opgewekte fliek wat sy loopbaan vier? Ek dink hy sou heeltemal versot daarop gewees het.