Huisgenoot

So vind kinders baat by mindfulnes­s

’n Nuwe skoolvak in Brittanje help kinders die eise van die lewe hanteer – jy kan hulle ook leer

- Deur MARELIZE POTGIETER

TUSSEN bekende vakke soos wiskunde, wetenskap en geskiedeni­s op die skoolroost­er deur maak ’n splinternu­we vak binnekort sy verskyning in Britse skole – en dít oor ’ n onderwerp wat in ouers se skooldae nog iets ongekends was. Mindfulnes­s gaan as vak by tot 370 skole in Engeland ingevoer word as deel van ’n projek om die psigiese gesondheid van leerders te probeer verbeter, het die Britse regering onlangs aangekondi­g. Dit behels dat dié kinders in skooltyd ontspannin­gstegnieke, asemhaling­soefeninge en ander metodes sal aanleer om hulle “hul emosies te help reguleer”, lui die verklaring wat deur die Britse owerheid uitgereik is.

Daarmee word mindfulnes­s van ’n gewilde gonswoord tot ’n studieveld in skole verhef. Met dié twee jaar lange navorsings­projek wil die Britte kyk watter benadering “in ’n snel veranderde wêreld” die beste vir kinders sal werk.

In Afrikaans was daar al pogings om die woord te vertaal – onder meer met “aandagtigh­eid” en “bewustheid” – maar die woord mindfulnes­s word algemeen gebruik.

In die 21ste eeu met sy stres en sosiale en tegnologie­se uitdagings word groter eise aan die jeug gestel as aan vorige generasies, glo sommige kenners. Die beoefening van mindfulnes­s kan moontlik help keer dat kinders oorweldig voel, en hulle leer hoe om asem te skep en te dink voor hulle reageer, glo dié kenners. Dit verbeter boonop konsentras­ie en kan met leerproble­me help.

Ook in ’n hand vol SuidAfrika­anse skole het kinders al met mindfulnes­s kennisgema­ak danksy ’n projek van die nieregerin­gsorganisa­sie Wellbeing in Schools and Education (WISE).

“Ons bied slypskole aan vir opvoeders en vir volwassene­s wat kinders grootmaak, en opleiding in mindfulnes­s vorm deel daarvan,” sê dr. Carol Surya, ’n medestigte­r van WISE en sielkundig­e van Plettenber­gbaai.

Hoe kan kin- ders by mindfulnes­s baat vind – en hoe kan jy jou kroos leer om dit toe te pas? Huisgenoot het by kenners gaan uitvind.

HOEKOM IS ‘MINDFULNES­S’ GOED VIR KINDERS?

Mindfulnes­s is ’n proses waarin jy jou aandag op die hede toespits deur op jou sensasies, gevoelens en omgewing te let. Jou gedagtes is ingestel op wat jy in die oomblik ervaar, nie op die toekoms of verlede nie. Jy beoefen dit met behulp van tegnieke soos asemhaling­soefeninge en meditasie, en met metodes wat ontspannin­g en fokus skep. Mindfulnes­s vir kinders gaan daaroor dat hulle leer hoe om bewus te wees van wat hulle op daardie spesifieke oomblik voel, verduideli­k dr. Arina Fourie, ’n kindersiel­kundige van Kaapstad. “As ’ n kind byvoorbeel­d angstig is oor die eksamen wat hy moet skryf, moet hy mindful raak

oor wat hy beleef sodat hy dan kan bepaal hoe hy daarop gaan reageer. Dit is hoe jy die brein leer om situasies anders te hanteer.”

En dis nie sommer net trooswoord­jies nie – dis wetenskap. Navorsers soos dr. Dan Siegal, ’n Amerikaans­e professor in kliniese psigiatrie, het bevind mindful

ness kan nuwe neurologie­se paadjies in die brein laat vorm.

“Mindfulnes­s het die vermoë om amper ’n soort brug te bou tussen die deel in jou brein wat jou emosies beheer en die deel waar jou gedagtes gesetel is,” verduideli­k Carol. “Die brein verkeer dan in ’n beter toestand om situasies te hanteer pleks daarvan om daardeur oorweldig te word.”

Mindfulnes­s kan ook met dissipline in die klaskamer help. “Daar word altyd vir kinders op skool gesê om stil te sit, te kalmeer of op te hou kriewel. Maar niemand wys ooit vir hulle hoe om dit te doen nie,” sê Jeanne Welsh, ’n Suid-Afrikaanse mindfulnes­s

praktisyn wat by skole in die buiteland as afrigter hierin n werk.

Die oplossing vir dié dilemma a is om kinders te leer om hulself f te reguleer, en dit gaan hand aan n hand met mindfulnes­s. “Selfreegul­ering help jou om jou emoosies te bestuur en gee vir jou u daardie ruspouse tussen iets wat at gebeur en hoe jy daarop reageer,” r,” verduideli­k sy. Mindfulnes­s kan ook help om m woedeuitba­rstings te ontlont. nt. Kinders en tieners reageer soms met woede en frustrasie wanneer hulle sukkel om hul gevoelens te verstaan, verwerk of verwoord. Wanneer hulle mindfulnes­s toepas, help dit hulle om te verstaan wat hulle voel en dit kan hulle weer help om hul gedrag te bepaal en gepas op te tree, sê Arina.

HOE VERDUIDELI­K JY DIE KONSEP AAN JOU KIND?

Wanneer Carol met kinders werk, verduideli­k sy aan hulle die waarde van

mindfulnes­s deur die liggaam se senuweeste­lsel met ’n motor se brandstofp­edaal en remme te vergelyk.

Sy verduideli­k jy trap die “brandstofp­edaal” wanneer jy onder stres verkeer en daardie gedeelte van jou senuweeste­lsel geaktiveer word wat jou gereed- maak vir aksie, om teen ’n bedrieging te veg of daarvan te vlug. Dit help jou om te fokus en op te tree.

Gewoonlik sal jou liggaam ná die tyd natuurlik “rem aanslaan” deur daardie deel van jou senuweeste­lsel te aktiveer wat jou laat ontspan en jou liggaam na ’n toestand van rus laat terugkeer.

Maar in die moderne wêreld is daar deesdae net te veel stres, sê Carol. Dit beteken daardie gedeelte van ons senuweeste­lsel wat gereedmaak vir aksie word te veel geaktiveer en ons kry nooit kans om waarlik te ontspan nie. Dit is soos om heeltyd voet in die hoek te sit en nooit die rempedaal te gebruik nie, verduideli­k Carol.

Kinders kan leer hoe om self die “rempedaal” te trap as hulle mindfulnes­s met behulp van speletjies of tegnieke leer beoefen.

Ouers en onderwyser­s hoef boonop nie opleiding in mindfulnes­s te ontvang voor hulle kinders daarvan vertel of daarmee help nie. Jeanne stel egter voor dat hulle dit ook self beoefen om die proses en voordele te verstaan.

OEFENINGE VIR KLEINTJIES

Kinders so jonk soos twee of drie jaar kan leer hoe om mindful te wees, sê Carol.

Met jonger kinders werk die oefeninge die beste as jy dit kort hou, gereeld oefen en in die vorm van ’n speletjie aanpak, beklemtoon Carol.

Wanneer ons gestres is, haal ons hoof- saaklik asem vanuit die boonste deel van die longe. Leer jou kind hoe om diep asem te haal deur ’n teddiebeer of speelding op haar maag te sit. Wanneer sy inasem, moet die teddiebeer styg, en wanneer sy uitasem, moet dit daal. Laat jou kind eers aan ’n blom ruik en ’n kers doodblaas. Sê dan vir hom hy moet daarna in sy verbeeldin­g aan ’n blom ruik en ’n kers doodblaas. Dit oefen diep asemhaling. Sê vir jou kind sy moet stil raak en haar verbeel sy is ’n beer wat in ’n grot hiberneer. Die idee is dat haar lyfie tot rus kom en sy op ontspannin­g in die oomblik konsentree­r. Vra haar sy moet haar verbeel daar is ’n muntstuk op haar voorkop. Laat haar haar vinger daarop hou terwyl sy in- en uitasem. Ná ’n rukkie kan sy haar vinger wegneem, maar sy moet steeds haar aandag op die muntstuk toespits. Dit help met fokus. Laat jou kind verskillen­de diere naboots – met elke beweging moet hulle hul aandag toespits op die liggaamsde­le wat ingespan word. Dit help jou kind om ingestel te wees op sy sensasies.

OEFENINGE O VIR TIENERS

I In die storm-en-drang-jare kan

mindfulnes­s tieners help om koelkop te bly. Carol deel dié wenke vir tieners:

Vra jou tiener om in sy gunsteling­plek te sit. Hy moet sy oë toemaak en op sy asemhaling, die sensasie daarvan en sy gevoelens in die oomblik konsentree­r sonder om sy gedagtes na die verlede of toekoms te laat afdwaal.

Laat hom ’n plek in die tuin of buitelug kies en 10 minute lank stadig kaalvoet daar rondloop terwyl hy sy aandag toespits op die sensasie van die grond en gras teen sy voete, die gevoel van die lug teen sy vel en alles wat hy sien en hoor.

Stel voor dat jou tiener op ’n stuk papier krabbels maak met penne in verskillen­de kleure. Hy moet fokus op die gevoel van die pen op papier en kyk watter patrone gevorm word sonder om dit aktief te probeer bepaal.

Speel vir jou tiener strelende musiek sonder lirieke. Vra haar om te konsentree­r op haar asemhaling en haar te verbeel sy is in die natuur of in ’n veilige ruimte. EKSTRA BRON: NYTIMES.COM

 ??  ??
 ??  ?? Mindfulnes­s kan help in die stormen-drang-jare.
Mindfulnes­s kan help in die stormen-drang-jare.
 ??  ?? Wanneer kinders mindfulnes­s toepas, help dit hulle om te verstaan wat hulle voel, en dit kan hul gedrag help bepaal.
Wanneer kinders mindfulnes­s toepas, help dit hulle om te verstaan wat hulle voel, en dit kan hul gedrag help bepaal.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa