Huisgenoot

Ds Tienie se Ester oor “onsigbare” vroue

Henriëtta Gryffenber­g vertel hoe sy haar met haar karakter in die nuwe fliek Dominee Tienie kon vereenselw­ig

- Deur CYRIL BLACKBURN Foto: PAPI MORAKE

SY KEN daardie gevoel van “onsigbaar” wees soos talle ander vroue van haar jare – vroue soos Ester, die predikants­vrou in die nuwe rolprent Dominee Tienie. “Wanneer ’n vrou bo 50 is, weet jy jy’s nou onsigbaar. Dit word moeiliker en moeiliker om werk te kry,” sê Henriëtta Gryffenber­g (54), die aktrise wat dié rol met soveel oortuiging vertolk.

Sy was verbaas toe die rolprentma­ker Sallas de Jager haar bel en haar die rol van die sagmoedige mevrou dominee aanbied. Henriëtta was immers in 2015 laas voor die kameras toe sy ’n rol losgeslaan het in die kortfliek Domineetru­uks, wat daardie jaar op die kykNET Silwersker­mfees in Kaapstad vertoon is.

“Ek het al soos ’n Ester gevoel,” erken sy. “Die meeste van ons het maar in ’n stadium van ons lewe onsigbaar gevoel, of gemarginal­iseer – of verneder. Daarom het ek Ester se hart van die begin af verstaan; haar frustrasie dat sy as mevrou dominee ’n onsigbare wese langs Tienie geword het.”

Al het die rolle deur die jare ál skaarser geword en sy ál meer agter die skerms gewerk – onder meer as draaiboeks­krywer van die SABC2-reeks Erfsondes – is Henriëtta allermins die toonbeeld van “’n onsigbare vrou”.

Waar ons in ’n restaurant in Centurion gesels, laat die lewenslust­ige aktrise steeds die koppe draai. Haar blou oë is nog net so vonkelend as toe sy in die 1990’s naam gemaak het as die feeks Karen in die TV-reeks Die Sonkring.

Sy lyk wêrelde verwyder van die gedienstig­e Ester. Daarby lag Henriëtta kort-kort uit haar maag. “En ek praat nog terug ook,” sê sy met ’n stoute glimlag om haar mondhoeke – so anders as haar karakter in die rolprent.

Dominee Tienie is gegrond op die verhoogstu­k Die Klaagliede­re van ds. Tienie Benade uit die pen van die skrywer en voormalige Huisgenoot­joernalis Dana Snyman. Frank Opperman vertolk die naamrol. Hy het dit die afgelope twee jaar ook as eenmanstuk op meer as 250 verhoë oor die hele land opgevoer.

In die fliek word ds. Tienie ná 16 jaar in sy gemeente met ’n skerp daling in kerkganger­s gekonfront­eer en wroeg hy oor sy rol as leraar in ’n moderne samelewing. Hy bereik ’n keerpunt toe sy vrou, Ester, aan hom die vraag stel: “Wie is jy?”

Dit lei hom tot die besef dat die kerk nie die gebou is waar hy Sondae preek nie; die kerk is sy mense. En dat hy as “herder van die kudde” eers weer homself moet vind voor hy ’n kudde kan lei.

Die verhaal van ’n vuisvoos dominee wat sy gemeente probeer red, maar homself aanvanklik in die proses verloor, het uit verskillen­de oorde – van resensente en uit kerklike kringe – lof ingeoes, maar ook ’n bietjie omstredenh­eid ontlok.

Een Kaapse kyker het ’n klag teen die fliek by die teatergroe­p Ster-Kinekor ingedien en meen: “Die fliek is beledigend teenoor Christene en die kerk en moet verbied word.”

Maar nog ’n kyker kap terug: “Hierdie verhaal sal my nog lank laat nadink oor die wel en wee en die lief en leed van ’n lewe in die pastorie.”

’n Ander een sê prontuit: “Dalk ontstel die fliek sommige omdat dit so na aan die waarheid is . . .”

DIE rolprent speel af in ’n wêreld wat vir talle Afrikaanse fliekgange­rs sedert kindsbeen bekend is: die gedreun van ’n ou kerkorrel, die gekraak van houtbanke en die skerp oggendson wat deur loodglas skyn.

“Die meeste van ons se vroegste herinnerin­gs aan die kerk is in Dominee Tienie vervat,” sê Henriëtta en som dit op: “Jy sit stil – en bly stil . . . en jy vra nie vrae nie.”

Sy het self in die kerk grootgewor­d, vertel Henriëtta. Haar oorlede pa, Emil, ’n Afrikaanso­nderwyser, was ’n ouderling in die NG kerk Randburg. Elke Sondag het sy vyf kinders, van wie Henriëtta die middelste is, saam met ma Molly die kerkbank vol gesit.

Henriëtta het aan daardie dae teruggedin­k toe sy haar vir die rol van Ester begin voorberei het. “Toe ek die dialoog lees, het ek ook onthou hoe ek as jong meisie in die kerkbanke gesit het; hoe ek die predikants­vrou gesien het.”

Om in die vel van so ’n onsigbare mevrou dominee te klim was vir haar ’n uitdaging. “Ek was ongeloofli­k senuagtig – en baie bewus van die feit dat ek lank laas voor ’n kamera was.

“Ek was moeg, emosioneel uitgeput. Twee weke voor ons met die verfilming begin het, het my pa van 80 jaar oud ’n lang stryd teen siekte verloor,” sê sy. “Dalk het ek ook ’n bietjie van myself toe in Ester gesit – ek kon haar afgemathei­d verstaan.”

Sy praat met lof van Sallas, die vervaardig­er, regisseur en draaiboeks­krywer, dat hy die onderwerp aangepak het sonder om aanvallend te wees. “Ons het van die begin af geweet ons neem ’n tree op die spreekwoor­delike heilige grond.”

Die rolprent is in 2017 binne minder as ’n maand in Sinoville anderkant die Moot in Pretoria verfilm. Een toneel bly haar veral by: Ester het haar “lelik vererg” vir haar predikantm­an.

“Ons het die toneel oor en oor en oor gespeel, tot Frank vir my sê ’n mens kry verskillen­de soorte kwaad, en wat Ester voel, is nie ’n lelike kwaad nie. Ek moenie dink aan hoe ek as Henriëtta sou voel nie, maar hoe Ester sou. Dit het wonderlik gehelp en was uitstekend­e leiding.”

Sy het nooit verwag haar karakter sou soveel reaksie ontlok nie.

“Ons gaan kyk na die fliek Dominee Tienie. Dit gryp my aan die hart. Nee, nie die dominee nie, maar sy vrou, Ester,” skryf ’n leser aan Huisgenoot. “Ek is ook ’n Ester. ’n Predikants­vrou. Al 37 jaar lank. Ons Esters is daardie onsigbare wesens langs die predikant. Hoeveel keer het ek nie al langs my man gestaan as iemand kom groet nie. My hand uitgesteek net om later weer my leë hand te laat sak. Want ek is mos onsigbaar . . .”

Haar karakter het nou vir sulke Esters hoop gebring, glo Henriëtta. “Nou die dag loop ek in die winkel in en ’n bejaarde egpaar keer my voor. Hulle vertel hulle het die vorige aand die fliek gekyk en wil net dankie sê. Die tannie het niks gesê nie, maar iets in haar oë het gesê sy sien nou vir die eerste keer regtig.”

“Want hoeveel Esters is nie daar buite nie? En vir almal van hulle het ons nou gewys: Praat. Vra vrae. En moenie flippen bang wees nie.

“En dis nie net vroue en kerkgemeen­skappe nie. Ons as nasie is so gesegmente­er dat ons ná 25 jaar van demokrasie steeds nie na mekaar uitreik nie.

“Die boodskap is eenvoudig maar treffend. Dit is ’n skoot yskoue water in die gesig wat sê: Hei, jou vrese om te verander staan in die pad van jou eie groei. Jy verdrink in jou eie vrese; jy verloor jouself.

“En dís wat Tienie en Ester wil sê: Gaan verder as jouself. Begin by jou gesin,” sê Henriëtta, self ’n wederhelf en ma. Sy en haar man, die Oostenryks gebore sakeman Robert Plattner, het twee seuns, Emile (22) en Benjamin (19).

En wat sê die regisseur agter die fliek wat mense so aan die praat het?

Die boodskap daarvan in ’n snel veranderen­de wêreld is eenvoudig, sê Sallas. “Om deurlopend vas te hou aan die goeie en nooit bang te wees vir die veranderin­gs nie.”

 ??  ?? Die aktrise Henriëtta Gryffenber­g sê sy is verbaas oor die reaksie op haar rol in die fliek Dominee Tienie en bly dit kry mense aan die praat.
Die aktrise Henriëtta Gryffenber­g sê sy is verbaas oor die reaksie op haar rol in die fliek Dominee Tienie en bly dit kry mense aan die praat.
 ??  ?? Henriëtta en Frank Opperman in ’n toneel uit Dominee Tienie.
Henriëtta en Frank Opperman in ’n toneel uit Dominee Tienie.
 ?? YOUTUBE ?? Henriëtta het bekend geword as die feeks Karen van Die Sonkring – hier is sy saam met Anna-Mart van der Merwe (links), Chantell Stander en Philip Moolman.
YOUTUBE Henriëtta het bekend geword as die feeks Karen van Die Sonkring – hier is sy saam met Anna-Mart van der Merwe (links), Chantell Stander en Philip Moolman.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa