Huisgenoot

Twee Oscar-voorlopers op die silwerdoek

VERMAAK | OP DIE SILWERDOEK

- – SANDRA VISSER

Komediedra­ma. Met Olivia Colman, Emma Stone en Rachel Weisz. Regie: Yorgos Lanthimos. 16DTNSG.

Waaroor gaan dit?

In 1708 sit die brose koningin Anne (Colman) op die Britse troon. Maar dis haar vriendin Sarah Churchill, hertogin van Marlboroug­h (Weisz), wat so te sê die land bestuur. Toe Sarah se niggie Abigail (Stone) opdaag op soek na werk, sien dié ’n kans om Anne se guns te wen.

Is dit die kyk werd?

Hierdie onkonvensi­onele historiese rolprent deur die Griekse kunsfliek- regisseur Lanthimos (The The Lobster), wys die paleislewe nes dit is. Dis ’n blik op die adellikes in al hul verdorwe glorie – en hoe lelik dinge kan raak wanneer hulle om die guns van die monarg meeding.

Baie historiese dramas verromanti­seer dié tydperk as ’n goue era van verfyndhei­d, maar hier is geen vleiende beligting, grimering of pogings om historiese modes aantreklik­er te maak vir moderne kykers nie. Veral die mans lyk belaglik met hul enorme gepoeierde pruike.

Die rolprent het ’n surrealist­iese, onwerklike gevoel: Almal dra swart en wit met ’n paar spatsels rooi, die hofdanse bevat hip-hop-passies, en Anne hou 17 konyne as troeteldie­re aan om al die kinders te simbolisee­r wat sy verloor het. Die koningin gooi vloermoere, howelinge hou eendwedren­ne, en naakte mense word met lemoene bestook.

Die dialoog is pittig en Abigail en Sarah se onderduims­heid vermaaklik. Al drie aktrises verdien hul Oscarbenoe­mings vir hierdie rolprent wat lof toekom vir sy komplekse vrouekarak­ters.

The Favourite begin as ’n klug, maar ’n onderstrom­ing van melancholi­e kom geleidelik na vore tot die humor verdof en dit op ’n verontrust­ende, kriptiese noot eindig. Die rolprent, wat vir 10 Oscars benoem is, is dalk vreemd, maar diegene wat iets anders soek, kan dit gerus op die proef stel.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Olivia Colman is briljant as die brose Anne. ONDER: Rachel Weisz as Sarah, wat haar wonde verbloem.
HOOFFOTO: Olivia Colman is briljant as die brose Anne. ONDER: Rachel Weisz as Sarah, wat haar wonde verbloem.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa