Hond se gedagte: ’n Rugbyroman uit jou wildste drome
’n Rugbyroman uit jou wildste drome
HOND SE GEDAGTE Deur KERNEELS BREYTENBACH (Human & Rousseau,
R229*) Dis moeilik om ’n onderhoud oor Hond se gedagte te doen, want jy mag niks oor die hoofkarakter skryf nie. As jy dit doen, verklap jy die mees onverwagte geheim sedert die ontmaskering van die anonieme skrywer van Die dao van Daan van der Walt.
Jy vra die skrywer Kerneels Breytenbach dus na die beste van jou vermoë uit oor sy jongste roman.
Jy vra hoe hy name in sy boek aan eerstejaars sou verduidelik as die boek aan hulle voorgeskryf word.
“Knife, Pedrovene, Neef, Frommel en Diepte is almal gekies na analogie van bestaande byname in die rugbywêreld, hoewel ek moet beken dat Diepte Zuma se bynaam met heeltemal ander motiewe gekies is. Katstert Nel is die seun van Flip Nel, ’n rugbyheld oor wie John Miles ’n roman geskryf het.
“Ek het John gevra of ek maar vir Flip ’n seun kan gee, en hy was te vinde daarvoor. Katstert is deels ’n verwysing na John se plaas se naam. Lektriek was die bynaam van een van my vriende se wetenskaponderwyser – ek wag al jare om dit te gebruik. Slapogie is die streeknaam vir ’n penis in die Vanwyksvlei-kontrei, waar hy vandaan kom. Plas Johnson was die saxofoonvirtuoos wat die temalied uit The Pink Panther so gedenkwaardig gemaak het. In die musiekwêreld word die tromslaners altyd as die dom lede van die groep beskou, terwyl die saxofoonblasers bekend is as mense met diepe insigte en goed weggesteekte verslawings. Plas is diep.” Maar is die boek hoegenaamd geskik vir eerstejaars? “Ek sou nie kon sê nie. Die impuls om die boek te skryf kom van die effek wat Van Wyk Louw se ‘Die hond van God’ en die Grootinkwisiteur-gedeelte uit Dostojewski se Die Karamazof-broers op my gehad het. Op watter ouderdom tref godsdiensvertwyfeling ’n mens? En op watter ouderdom bekering?”
En as daardie eerstejaar sy boekbekendstelling sou bywoon, hoe antwoord hy as sy/hy hom vra om dié sin te verduidelik: “Jy gil soos ’n Drawwertjie met ’n bos wortels in die hand”? Hulle is seker te jonk om te weet waarna hier verwys word.
“Ek sal hulle na Pharos se aanlyn woordeboek verwys om te gaan kyk wat ’n Drawwertjie is. Die opmerking het ek die eerste keer gehoor by ’n goeie vriendin wat met albei voete in die joernalistiek gestaan het. Ek het deur die jare aantekeninge gemaak oor dinge wat mense sê en wat jy altyd in die een of ander vorm kan gebruik. Hond se gedagte wemel daarvan.”
Die grootste tema is rugby, maar ek vra Kerneels watter van die kleineres die meeste navorsing geverg het.
“Ek moes heelwat naleeswerk doen oor Dok Craven, Emsie Schoeman, die TV-reeks Van de schoonheid en de troost, ’n massa gospelliedjies en J.M. Coetzee se rugby-opvattings, maar die meeste tyd is in beslag geneem deur die leeswerk oor wegraping en die verskillende teologiese reaksies daarop.
“’n Mens sou moeilikheid soek en kry as jy met ’n flentergathouding ’n boek skryf wat in wese handel oor godsdiens en die maniere waarop mense skielik van ongeloof na gelowigheid swaai. Ek het spesifiek aangesluit by dr. Jannie Hofmeyr se sogenaamde ‘conversion model’ en probeer wys watter soort wonderwerk dit in ons era sal verg om iemand tot bekering te bring. Daar is natuurlik baie ander dinge ook, maar dit is alles ligter van aard. Ek probeer altyd hoge erns met humor balanseer.”
En watter karakter toon die meeste ooreenkomste met hom?
“Met ’n boek soos dié saai jy by verskillende karakters ietsie van jouself. By Fleur de Villiers, sekerlik, maar ook by haar minnaar, Craig Haughterbaul-Ross. En ek voel skoon verantwoordelik vir Didier van der Spuy omdat sy pa, Harry van der Spuy, my jeugheld was. Dis net jammer dat Didier die pad so lelik byster geraak het. Dis maar seker hoe dit in alle Afrikaanse families gaan. Gelukkig is Didier se broer, Gaylord, so ’n rots en steunpilaar.” Wie is sy teikenmark?
“Ek het dit doelbewus so geskryf dat mense wat niks van rugby weet of hou nie dit ook sal geniet. Ek dink enigiemand wat in Suid-Afrika woon, sal daarby aanklank vind – en ja, ek weet dat ek ’n mond vol moeilikheid kwytraak wanneer ek dít sê.”