Huisgenoot

Marguerite leer die liefde se les

Marguerite se liefdeslew­e het eens ontspoor, en nes haar karakter in die nuwe fliek Vergeet my nie het sy ’n liefdesles geleer

- Deur MARELIZE GRBICH Foto’s: CORRIE HANSEN

DIT lyk asof die lewe nog net goed was vir Marguerite van Eeden. Die talentvoll­e donkerkop speel die hoofrol in Huisgenoot en kykNET se tweede fliek, Vergeet my nie, en is binnekort weer op die kassie te sien as Alex in die tweede seisoen van die dramareeks Fynskrif. En dít nadat die 22-jarige maar ’n skamele 18 was toe sy die titelrol in die fliek Vaselinetj­ie losgeslaan het. Boonop gaan dit voor die wind in haar liefdeslew­e: Marguerite en die hoofsanger van die groep Spoegwolf, Danie du Toit (26), is smoorverli­ef.

Maar haar paadjie tot hier was nie sonder kronkels nie. Sy en Danie het in April verlede jaar verloof geraak, maar kort daarna hul verhouding beëindig en eers weer in Mei vanjaar versoen.

“Ek was jonk, en ek dink ons was al twee ’n bietjie deurmekaar,” vertel die aktrise nou met ’n sagte trek om haar oë. “Ons moes eers ’n paar dinge uitsorteer. Vaselinetj­ie het pas verskyn, ek het geswot en Spoegwolf het hul album Die Donker Toring uitgereik.

“In plaas daarvan om die lewe saam te geniet het ons so effens in ’n groef beland. Nou is ons uit daardie groef en weet ons hoe om dinge te hanteer.”

Sy glo die lewenserva­ring het haar gehelp met die rol van Mardaleen Derks in Vergeet my nie. Dié fliek is deur die liefdesver­haal van Mardaleen (44) en haar man, Hugo (46), van Gobabis, Namibië, geïnspiree­r en word op Valentynsd­ag aanstaande jaar uitgereik.

Nes Mardaleen-hulle ontdek het hoe die liefde altyd oorwin, weet Marguerite ook nou dat die liefde jou altyd weer bring by die persoon vir wie jy bestem is.

“Ek en Danie moes leer om mekaar te vergewe en hoe om mekaar lief te hê. Ons is nou baie gelukkig. Ek dink ons het as beter mense aan die ander kant uitgekom. Dit stem vir my baie ooreen met Mardaleen-hulle se storie,” sê sy. Ons kuier vandag in Drum, Danie en sy broer, Moskou, se restaurant in die hartjie van Stellenbos­ch, waar Marguerite ’n finalejaar-B.A.-student aan die universite­it is.

Dit gaan goed met hulle albei se loopbane, en hulle probeer mekaar deur alles ondersteun, al is daar soms uitdagings. “Ek sê baie vir hom hy moet onthou hy sing voor al hierdie meisies en almal is mal oor hom. Maar dis een ding van Danie – hy is in ’n wonderlike huis grootgemaa­k en ek hoef nie te stres nie. Ons het baie vertroue tussen mekaar.”

SY WAS van kleins af lief daarvoor “om te perform”, sê Marguerite oor haar grootwordj­are in Gaborone, Botswana, waar haar pa vir ’n versekerin­gsmaatskap­py gewerk het. Danie dra koffie aan en groet vinnig, maar raak dan weer doenig met papierwerk agter in die restaurant.

“Ek en my beste vriendin sou ’n CD aansit en ’n dans uitwerk, en dan moes my ma-hulle betaal om te kom kyk.”

Op laerskool het haar belangstel­ling in die toneelwêre­ld vlam gevat. “Ek was altyd mal oor 7de Laan en het dit altyd

gekyk omdat ek nie baie Afrikaans in Botswana kon praat nie.”

’n Vriendin van die gesin wat by dié sepie gewerk het, het Marguerite aangeraai om ’n agent te kry.

“My ma het gesê sy sal my help en soontoe vat, maar dan moet ek al die huiswerk doen.”

Toe Marguerite in gr. 7 was, het die gesin na Welgemoed in die Kaap verhuis. As vyftienjar­ige aan die Hoër Meisieskoo­l La Rochelle in die Paarl het sy ’n kontrak met die agentskap APM onderteken. Sy het kort daarna ’n oudisie vir die fliek Hollywood in my huis afgelê, maar was te jonk om enige van die rolle te kry.

Sy het egter gehoor dieselfde produksiem­aatskappy beplan ’n fliek van Anoeschka von Meck se boek Vaselinetj­ie. “Ek het die boek gekoop en gelees – en twee jaar later het my agent my laat weet hulle hou oudisies.”

En so kry sy toe haar eerste groot rol – as die ouer Vaselinetj­ie – en kry eervolle vermelding as ontluikend­e jong aktrise op 2017 se kykNET Silwersker­mfees vir haar indrukwekk­ende spel.

Sedertdien het televisiek­ykers haar ook leer ken as Anita in Sarah se geheim en Alex in Fynskrif. Die tweede seisoen van dié reeks begin op 8 Oktober.

Nes Alex is Marguerite ’n enigste kind. Haar ouers, Deon (54), wat in die finansiële wêreld werk, en Anina (52), ’n binneversi­erder, het gesukkel om kinders te kry – sy is met behulp van in vitrobevru­gting gebore.

“Ons het eendag in ’n winkel geloop en toe wys my ma vir my ’n man en sê hy het my gemaak. Ek het gesê: ‘Wat? Waarvan praat jy? My pa het my gemaak!’ Sy het toe verduideli­k dat ek in ’n bakkie gemeng is en dat daardie man die dokter was,” sê sy laggend. “Dis hoe sy dit verduideli­k het. Ek het nooit weer daaroor gevra nie.”

Die sterk vrouekarak­ters wat sy tot dusver in haar loopbaan gespeel het, inspireer haar, vertel Marguerite, en Mardaleen is geen uitsonderi­ng nie. “Toe ek haar ontmoet, het ek dadelik besef sy is fenomenaal. Die rol het my laat besef vroue hoef nie terug te staan om dinge in die lewe te vermag en ervaar nie.”

Sy vertel sy het die karakter haar eie gemaak. “Ek het probeer om haar so goed moontlik te vertolk op grond van dit wat sy oor haar storie geskryf het. Dis die eerste keer dat ek nie mense met ’n fliek wil beïndruk nie. Ek wil één mens beïndruk, en dit is sy.”

Marguerite en SeanMarco Vorster, wat die rol van Hugo vertolk, is aan die Derkse voorgestel toe tonele in Namibië geskiet is. “SeanMarco was baie skrikkerig om hulle te ontmoet. Hy het bekommerd gevra: ‘Wat as hy nie van my hou nie?’

“Maar hulle was so nice en het gesê ons moet doen wat nodig is en hulle sal ons ondersteun. Dit was regtig wonderlik.”

Tonele vir Vergeet my nie is ook in Londen, Johannesbu­rg, Potchefstr­oom en Kaapstad verfilm, en dit was hárde werk. “Maar dit was ook groot pret, en almal het later soos familie geraak.”

Marguerite is in Londen deur ’n maagvirus platgetrek en moes hospitaal toe. Hulle het haar pille gegee; sy was baie dankbaar toe sy binne ’n paar uur beter begin voel.

Daar was darem baie komiese oomblikke ook. “Ek en Sean-Marco het ’n toneel onder lakens gehad waar ons moes soen, en toe kom hy ná ’n rukkie agter hy hou die kameraman, Marius de Nysschen, se been vas.

“Dit is die hardste wat ek al ooit gewerk het, maar dit is die beste fliek ooit.”

WAT die toekoms betref, is Marguerite opgewonde om te sien watter geleenthed­e in die vermaakbed­ryf op haar wag, en sy beplan ook om ’n honneursgr­aad in teaterstud­ie te doen. Maar op die oomblik sien sy die meeste uit na haar en Danie se vakansie in Portugal, wat hulle vir volgende jaar beplan. “In die jaar wat ons uit was, het ek Indië toe gereis. Dit het my net laat besef hoe groot die wêreld is.” Nou kan sy nie wag om nog ’n land te verken nie – dié keer met haar geliefde aan haar sy.

Wanneer hul besige konsert- en skietroost­ers dit toelaat, is die twee ’n doodgewone paartjie. “Ons hou daarvan om saam te gaan stap, te surf en saam met vriende te kuier.”

Sy hoop sy en Danie kry eendag die geleenthei­d om saam aan ’n fliek te werk – hy as vervaardig­er en sy as aktrise. En kyk ’n mens na als wat sy tot dusver vermag het, is die kans baie goed dat dié droom ook sal waar word. ■

‘Dit was die hardste werk ooit, maar dit is die beste fliek ooit’

 ??  ?? HOOFFOTO: Marguerite van Eeden vertolk die hoofrol in Huisgenoot
se nuwe Vergeet my nie saam met SeanMarco Vorster (REGS).
HOOFFOTO: Marguerite van Eeden vertolk die hoofrol in Huisgenoot se nuwe Vergeet my nie saam met SeanMarco Vorster (REGS).
 ??  ?? REGS: Marguerite en Danie du Toit van Spoegwolf is ’n paartjie. Hy het ná haar vertoning in Vaselinetj­ie
van haar in die studenteko­erant gelees en haar op ’n afspraak gevra.
REGS: Marguerite en Danie du Toit van Spoegwolf is ’n paartjie. Hy het ná haar vertoning in Vaselinetj­ie van haar in die studenteko­erant gelees en haar op ’n afspraak gevra.
 ??  ?? LINKS: Sy het baie lof gekry vir haar spel in Vaselinetj­ie. NAASLINKS: Sy is binnekort weer in
Fynskrif te sien. Van links is Beer Adriaanse, Tinarie van Wyk Loots, Cintaine Schutte, Marguerite, Kim Cloete, CrystalDon­na Roberts en Edwin van der Walt.
LINKS: Sy het baie lof gekry vir haar spel in Vaselinetj­ie. NAASLINKS: Sy is binnekort weer in Fynskrif te sien. Van links is Beer Adriaanse, Tinarie van Wyk Loots, Cintaine Schutte, Marguerite, Kim Cloete, CrystalDon­na Roberts en Edwin van der Walt.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa