Bisarre moord in Alaska deur SA man
’n Suid-Afrikaner in Alaska word van ’n bisarre moord aangekla. ’n Familielid vertel van sy naastes se skok
SY EERSTE gedagte toe hy die skoknuus hoor, was iemand het êrens ’n baie groot fout gemaak. Want hoe kan dit wees dat sy familielid – wat hy so goed ken – verdink word van ’n grusame moord anderkant die waters; ’n moord so bisar en skokkend dat dit wêreldwyd opslae maak . . .
Die Brian Steven Smith wat hý ken, is ’n man “wat nooit sy hand vir enigeen sou lig nie”, vertel William Barnes (’n skuilnaam).
Net twee dae voor die 48-jarige SuidAfrikaner se inhegtenisneming in Anchorage, Alaska, waar hy die afgelope vyf jaar woon, het William nog telefonies met hom gesels.
Brian en sy Amerikaanse vrou, Stephanie Bissland (68), was toe met vakansie in Virginië.
“Daar was niks vreemds aan hom nie,” vertel William, wat ingestem het om namens Brian se familie eksklusief met Huisgenoot te praat. Uit vrees vir viktimisering wil hy egter anoniem bly.
“Brian was opgewonde om terug te gaan huis toe omdat hy daardie week met ’n nuwe werk by ’n hotelgroep sou begin. Sy droom was om eendag sy eie gastehuis oop te maak.”
Maar nou worstel sy familie in die OosKaap, waar Brian op Queenstown grootgeword het, met verskriklike vrae waarop hulle geen antwoorde kry nie. Dit voel vir hulle “soos ’n nimmereindigende nagmerrie”, sê William.
William kon dit nie glo toe hy vroeg verlede maand ’n oproep van ’n suster van Brian kry en sy in trane vertel hy word van twee moorde in Alaska aangekla nie.
“Maar toe lees ons hy het skuld op ’n moord beken en word daarvan aangekla dat hy ’n vrou verwurg en vermoor het, terwyl hy daaroor lag. Dit is nie die Brian wat ek ken nie – dit is nie die Brian wat enigeen van ons ken nie,” sê William.
Brian se inhegtenisneming volg nadat ’n vrou in ’n woonbuurt van Anchorage ’n rekenaargeheuekaart op straat opgetel het. Soos in ’n swak moordriller was dit gemerk “Homicide at midtown Marriott”. Daarop was foto’s en video’s met verdoemende getuienis oor ’n moord op ’n vrou in ’n hotelkamer.
Ironies genoeg sou haar aanvaller se swaar Suid-Afrikaanse aksent die polisie op Brian se spoor sit. Hy was toe reeds glo ’n verdagte in ’n ander misdaad.
Maar nóg sy familie in Suid-Afrika nóg sy vrou in Alaska het die geringste vermoede gehad dat alles nie pluis is nie.
“Ek het nooit iets gesien van die dinge waarvan die mense hom nou beskuldig nie,” het Stephanie, ’n beroepsmusikant en voormalige staatsamptenaar, aan ’n nuusagentskap in Anchorage gesê.
Die twee het mekaar ontmoet toe hulle
aanlyn videospeletjies gespeel het. Ná ’n internetromanse is Brian in 2014 Amerika toe om met Stephanie te trou.
William beskryf haar as “’n wonderlike vrou”. Die familie het haar ontmoet toe sy en Brian in 2016 hier kom kuier het.
Dan vertel William hoe swaar die moordklagte teen haar man Stephanie tref. Boonop kry sy heelwat haat-e-pos.
“Sy probeer sin maak van alles wat gebeur het, maar sy sukkel.”
DIE onbekende vrou van Anchorage wat die geheuekaart op 30 September op straat opgetel het, was waarskynlik net so onvoorbereid op die grutonele wat op haar rekenaarskerm opgedoem het. Stomgeslaan het sy gesien hoe ’n kaal vrou met lang donker hare genadeloos geslaan word terwyl sy in ’n hotelkamer op die vloer lê. Bebloed en met ’n opgeswelde gesig probeer sy terugbaklei toe haar aanrander haar probeer verwurg. In Engels met ’n swaar Suid-Afrikaanse aksent sê hy dan: “My hand word moeg.”
Twee dae nadat die geheuekaart gevind is, het die polisie menslike oorskot sowat 20 km buite Anchorage langs die Seward-hoofweg gevind. Dit was vermoedelik die lyk van die slagoffer in die moordvideo’s – ’n hawelose vrou, Kathleen Henry (30).
Toe Brian op 8 Oktober ná sy en Stephanie se vakansie in Virginië na Anchorage terugkeer, is hy op die lughawe in hegtenis geneem. Kort daarna het hy gebieg oor ’n moord byna ’n jaar tevore op Veronica Abouchuk (53), ook ’n hawelose vrou. Ewe ysingwekkend was sy bekentenis dat hy seks met haar lyk gehad het.
Nou word daar gegis: Was dit die gruweldade van ’n reeksmoordenaar in wording? En hoe sou ’n man wie se familie hom as “skaam” en “lojaal” beskryf tot sulke wreedhede in staat kon wees?
William onthou Brian as ’n skaam en eenkantkind. Hy het saam met ’n ouer en jonger suster op Queenstown grootgeword.
“Sy pa en oupa het saam ’n steengroef besit, en sy ma was ’n huisvrou. Brian het sy pa verafgod, maar toe hy agt was, het sy pa gesterf – vermoedelik aan ’n bloedsiekte. Ek dink nie Brian kon ooit heeltemal oor sy dood kom nie.
“Sy ma het toe in die kleinhandel begin werk om die pot aan die kook te hou.”
Al was Brian intelligent, het hy niks van skool gehou nie. “Eers jare later het hy eindelik vertel hoe die kinders hom gespot en geboelie het,” vertel William en verduidelik: “Hy het nooit oor dinge gepraat wat hom pla nie.”
In st. 8 (nou gr. 10) het Brian die plaaslike seunskool Queen’s-kollege verlaat en sy skoolloopbaan aan ’n tegnikon voltooi. Ná sy twee jaar militêre diensplig wou hy graag rekenaarwetenskap studeer, maar hy het te min geld gehad vir verdere studie. Hy het eers in OosLonden en later Port Elizabeth rekenaarherstelwerk gedoen.
In party mediaberigte word Brian as “’n baie koue mens” beskryf, maar William meen dis ’n wanindruk. Brian is skaam en onttrek hom maklik, verduidelik hy. “Brian is ’n baie lojale mens. Hy haat skinder en het ’n baie droë sin vir humor. Hy kan die snaaksigheid in enige situasie sien en jou laat lag,” hou William vol oor die vermeende moordenaar.
Nadat Brian en sy destydse meisie Natal toe getrek het, het hy in die gasvryheidsbedryf begin werk. In dié tyd het hy aanlyn videospeletjies begin speel en Stephanie daardeur ontmoet.
Toe hy in 2014 emigreer, was dit sy eerste oorsese reis. Hy en Stephanie is in dieselfde jaar in ’n Christelike plegtigheid in Anchorage getroud. Dit is albei se eerste huwelik en nie een van hulle het kinders nie.
“Brian het nooit gesê hy wil pa word nie, maar was ’n wonderlike oom vir sy susters se kinders,” vertel William.
Dit het gelyk asof Brian gelukkig in Alaska is en die natuurskoon daar geniet.
Aanvanklik het hy hom in Anchorage met huishoudelike take en houtwerk besig gehou, maar later het hy in die gasvryheidsbedryf werk gekry.
“Ons het gereeld met mekaar op Skype gesels. As daar enige huweliksprobleme was, het ons nie daarvan geweet nie,” sê William.
“Al waaroor Brian gekla het, was die lang, donker wintermaande. Hy het gesê ná ’n ruk kry hy verskriklike cabin fever en selfs depressie. Die afgelope jaar het Brian hom begin onttrek. Ons het net af en toe ’n boodskap gekry waarin hy sê hy is besig.”
Tog was daar met hul laaste gesprek, twee dae voor sy inhegtenisneming, geen rede tot kommer nie.
Dink hy Brian wou dalk gevang word met dié dat hy sy beweerde gruweldade op video en foto’s vasgevang en dit op ’n geheuekaart gebêre het? “Ja,” sê William, maar hy wil nie daarop uitbrei nie.
“Ek weet nie wat gebeur het nie. Net Brian kan daardie vrae beantwoord. Glo my, ek het ons korrespondensie en gesprekke oor en oor nagegaan net om van alles te probeer sin maak . . .”
Sedert Brian aangekeer is, kommunikeer die familie met hom deur Stephanie, wat glo haar man bystaan.
“Ons is familie en sal agter Brian staan,” sê William, “maak nie saak waarheen die pad ons lei nie . . .” ■
B Sedert die begin van sy hofsaak op 21 Oktober ontken Brian skuld op een van die twee moorde – dié op Kathleen Henry. As hy aan albei moorde skuldig bevind word, kan hy tot 99 jaar gevangenisstraf in Amerika opgelê word.