Huisgenoot

Aktrise-susters Trix en Lea beste maats

Vir die susters Trix en Lea het die toneelgogg­a vroeg gebyt – en hul hegte verhouding laat hul loopbaan gedy

- Deur MARISA FOCKEMA Foto’s: JACQUES STANDER

SOOS Rooi Rosie en Wit Rosie in die sprokie lyk hulle; soos Anna en Elsa in Frozen. Die een ’n beeldskone brunet; die ander ’n pragtige blondine. Mooier as mooi, albei van hulle – en ewe bekend. Lank voor hulle albei as aktrises naam gemaak het, was hulle al vir mekaar ’n vriendin en beskermer, ’n luisteraar, raadgewer en vertroueli­ng. Trix en Lea Vivier is immers susters.

Deesdae kry ons heelwat van die twee op die kassie te sien met Trix wat ’n tawwe tienie, Flea, in die reeks Trackers op M-Net speel, terwyl Lea se karakter, Lilani, in die tweede seisoen van die kykNETregs­drama Fynskrif vir ’n wipwarit van emosies sorg.

“Dis vir my interessan­t hoe ’n suster gesien kan word as iemand wat soos ons is en in dieselfde asem glad nie soos ons is nie,” sê Lea (27) oor die ooreenkoms­te en verskille tussen haar en haar ousus, Trix (31).

Van kleins af het hulle al ’n liefde vir toneelspel gedeel en saam konsert gehou. “Ons het vertonings gelewer waar ons kamstig vir ons ouers ontbyt in die bed voorsit. Dan verskyn ons van agter die gordyn en maak asof ons koffie skink en suiker ingooi. Alles was altyd ’n konsert,” vertel Trix van hul kinderjare in Melkbosstr­and buite Kaapstad as deel van ’n kroos van vier.

Hul kleinsus, Meije (21), is ’n mediese student in haar derde jaar aan die Universite­it Stellenbos­ch en hul ouboet, Hermann Vivier (34), het sy eie toerismeon­derneming op Mosselbaai.

Al is Trix en Lea nou bekende gesigte op die kassie, was daar geen televisies­tel in hul ouerhuis nie.

“My ma glo sterk in die kreatiewe ontwikkeli­ng van ’n kind en om ’n verbeeldin­gswêreld te skep waar enigiets moontlik is,” sê Trix oor hul ma, Adri (59). Die twee susters se talent vir toneelspel het hulle duidelik van ma Adri geërf, want sy het haar eie dramaskool gehad. Pa Pieter (60) is ’n senior advokaat.

“Ons het ure aaneen buite in die tuin gespeel of met papierpopp­e in die huis, en ons verbeeldin­g gebruik om vir mekaar stories te vertel,” onthou Lea.

“Die kreatiewe fondament was reeds vroeg daar. Die besluit was net op watter manier ons dit wou navolg. Ek onthou my pa se gunsteling­sêding was: ‘Doen wat jou gelukkig maak.’ ”

Met dié dat die toneelbedr­yf so mededingen­d is, vra mense dikwels of daar nie kompetisie – en selfs jaloesie – tussen hulle is nie.

Ja, hulle het al voor groot uitdagings te staan gekom, erken hulle. En ja, dit het al gebeur dat hulle om dieselfde rol meegeding het. Trix het ’n oudisie afgelê vir die rol van Salomé, wat Lea in die kykNET-komedieree­ks Mense mense vertolk het, terwyl Lea ook na die rol van Flea in Trackers gemik het.

“Natuurlik is daar kompetisie en natuurlik is daar geleenthei­d vir jaloesie, maar as ons verhouding skeefloop, is daar baie meer op die spel,” sê Lea. “Ons sal liewer deur die moeilike gevoelens en gesprekke werk omdat ons verhouding as susters vir ons baie belangrike­r is.”

WAAR die twee talentvoll­e susters met die groen oë vandag in ’n prettige fotosessie vir Huisgenoot op die Seepunt-promenade in Kaapstad poseer, is dit duidelik hulle is sielsgenot­e en beste maats. Hulle deel herinnerin­gs uit hul kinderdae terwyl hulle op fietse baljaar en mekaar se sinne voltooi.

As klein meisietjie was Trix vir Lea

soos ’n spieël wat ’n wêreld van moontlikhe­de na haar terugkaats. Lea onthou hoe haar ousus gedurende hul jeugjare saam met vriendinne tot ’n groep behoort het wat hulself die Razz Girls genoem het.

“Dit was Melkbosstr­and se weergawe van die Spice Girls,” spot Trix. Hulle het by oorslaappa­rtytjies opgetree, gedans en gemaak of hulle sing. “Ek wou so graag deel van die groep wees,” onthou Lea. Min het sy toe geweet sy sou later in haar ousus se spore volg en soos sy naam maak in die vermaakbed­ryf.

“Ek dink die manier waarop ons grootgemaa­k is, was ’n hoofbestan­ddeel in die rigting wat ons gekies het,” sê Trix. Hul kinderlewe was gelukkige, sorgelose jare propvol dansklasse, konserte, kunswedstr­yde en flieks. Hul ma het vir hulle musiekinst­rumente uit bamboes gemaak en vir kostuumkom­petisies vir hulle kreatiewe uitrusting­s soos malvalekke­rs opgetower.

Aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad het albei in toneelspel en dans uitgeblink. Hulle beskryf hulself as “pliggies” wat ook akademies goed presteer het. Lea was hoofmeisie en Trix ’n prefek. Vandag nog is hulle uiters “gedrewe”, sê die twee susters byna uit een mond.

Ná matriek het Trix aan die Waterfront-teaterskoo­l ’n diploma in vertoonkun­s verwerf. Sy het in die begindae harde bene gekou en haar hand aan alles gewaag – van kinderteat­er tot dans vir ’n Duitse geselskap wat in Turkye gebaseer was. Ondanks die uitdagings het sy deurgedruk en eindelik rolle in kykNET-reekse soos Sterlopers en Waterfront losgeslaan.

Lea het eers tale aan die Universite­it van Kaapstad studeer, maar gou besef sy is sielsongel­ukkig omdat sy eintlik op die verhoog wou wees. Sy het toe drama as vak geneem terwyl sy haar B.A.-kursus aan die Rhodes-universite­it in Makhanda (toe Grahamstad) voltooi het.

Dié Wonderlus-ster het tot verlede jaar die rol van Lika in die kykNET-sepie Binnelande­rs vertolk. Verlede November het sy ná drie jaar in Johannesbu­rg teruggetre­k Kaap toe, waar haar ouers, susters en ook haar akteur-kêrel, Ludwig Binge (30), woon.

In Fynskrif is Lea se karakter ’n klerk, Lilani, wat ná ’n jaar in ’n inrigting terugkeer na die regsfirma Van Wyk en Vennote. Sy en Corné (gespeel deur Beer

Adriaanse) het ’n donker geskiedeni­s.

Lilani is kompleks, mededingen­d en het geen wag voor haar mond nie – anders as Lea, wat sê sy’s eintlik oorsensiti­ef vir mense se gevoelens.

Tog was sy gek oor die karakter. “Jy weet nooit regtig wat om van haar te verwag nie. Die een oomblik is sy rustig en die volgende oomblik loop haar onderdrukt­e emosies oor en ontplof sy.

“Sy het eintlik ’n ongeloofli­ke klein hartjie, maar omdat sy sensitief is, bou sy mure om haarself.”

In Trackers speel Trix ’n ewe komplekse rol. Sy het Deon Meyer se topverkope­rboek Spoor, waarop die minireeks gegrond is, gefynkam om insig oor Flea, ’n veearts, se agtergrond­storie te kry.

“Ek wou haar vind en leer ken. Ek wou nie net oppervlakk­ig na haar kyk as iemand wat diamante smokkel nie. Flea se hele menswees spruit uit waar sy vandaan kom, wat sy deurgemaak het, die trauma en vewerping wat sy ervaar het.”

Om die rol te vertolk in die reeks wat onder meer oor renosterst­ropers handel, moes Trix leer hoe om met renosters te werk.

“Dit was skrikwekke­nd, want die diere is groot en sterk en kan aggressief reageer selfs wanneer hulle onder verdowing is,” vertel sy oor die renosters wat tydens die verfilming vir mediese redes verdoof is.

Die tonele is by ’n oord vir renosters in Limpopo verfilm, maar daar mag weens veiligheid­sredes nie bekendgema­ak word waar presies dié plek is nie.

Trix het saam met veeartse en wildbewaar­ders gewerk om die diere se doen en late dop te hou. Vir dié rol is sy ook opgelei om vuurwapens te hanteer.

DIE twee aktrisesus­ters dien as klankbord vir mekaar. Hulle kyk gereeld na mekaar se video-oudisies en gee dan vir mekaar wenke. “Dis ’n groot voordeel om te kan afpak by iemand wat heeltemal begrip het wanneer jy nie vir ’n rol gekies word nie,” sê Trix.

Jy hoef dit nie aan mekaar te verduideli­k nie, want die begrip is reeds daar,

voeg Lea by.

Sy weet Trix deel in haar vreugdes en ook in haar swaarkry.

“Ek kan oop en eerlik met haar wees wanneer iets my ontstel, en heeltemal veilig voel,” sê Lea.

“Omdat ons jaloesie en kompetisie al op so ’n diep susterlike vlak moes konfrontee­r, word ons nie deur jaloesie geraak wat ander mense dikwels in die bedryf ervaar nie. Dit kom nie op ons radar nie,” vertel Trix.

“Ek dink in die bedryf swaai mense se lojaliteit dikwels in verskillen­de rigtings. Maar ons lojaliteit sal altyd eerste teenoor mekaar wees. Ons liefde deur dik en dun is die belangriks­te,” voeg sy by.

Hulle gesels altyd openlik oor hul gevoelens en skram nie weg van konflik nie. “Ons praat oor wat seer en moeilik was en hoe ons gaan aangaan. Die gesprekke dwing jou om eerlik te wees oor jou eie onsekerhed­e en weerlooshe­id. Daardeur leer jy nie net die ander persoon beter ken nie, maar ook jouself,” meen Lea.

“Hoe meer ons in ons verhouding en onsself delf, hoe meer ontwikkel ons ’n eie unieke styl. Ons albei weet goed wie en wat ons is,” sê Trix. “Ons loop parallel eerder as gekruis.’’

Lea beskryf Trix as ’n regte ousus wat altyd sal inloer en organiseer. “Hulle raak geïrriteer­d met my, want ek stuur altyd lysies vir almal,” lag Trix.

Lea spot weer dat sy soms middelkind­sindroom ervaar. “Ek is die een wat drama veroorsaak.”

Wanneer hulle nie by hul ouerhuis in Melkbosstr­and kuier nie, kom die drie susters graag by Trix en haar man, Frans Hiemstra (32), ’n bedryfshoo­f van die taxidiens Uber, se huis in Vredehoek in die Kaapse stadskom bymekaar. Die susters maak dan saam kos en drink wyn.

“Frans verskoon homself gewoonlik ná ’n ruk en sê dis nou sussietyd. Ons kan ’n handvol wees, luidrugtig en intens,” vertel Trix. In hul jonger jare het ouboet Hermann in sulke tye met sy branderpla­nk strand toe ontvlug.

“Wanneer ek en Lea saam is, vra my broer dikwels: ‘Kan julle nie langer as drie minute oor een onderwerp praat nie?’ Niemand kan by ons gesprekke bybly nie, maar ons twee weet altyd presies wat die ander een sê.”

Ook Lea se kêrel, Ludwig, het al ná ’n kuier saam met die Vivier-susters laat hoor: “Sjoe, dit was nou rof !”

Vir Lea is dit lekker dat hy ook toneelspee­l. Ludwig, seun van die rolprentve­rvaardiger en regisseur Herman Binge en sy aktrisevro­u, Joanie Combrink, was al op die silwerdoek te sien in Johnny is nie dood nie en Kanarie. Hy en Lea het vroeër vanjaar saam in die kykNETgruw­elreeks Die spreeus verskyn – nogal as ’n paartjie. Hulle was saam op skool, hoewel hul liefde eers sowat ’n jaar en ’n half gelede begin blom het.

Al verskil Trix se werkomgewi­ng weer hemelsbree­d van haar man s’n, vul hulle mekaar goed aan. “Die groot ding wat hy in my lewe bring, is perspektie­f,” sê sy oor Frans, met wie sy al ses jaar getroud is.

“Hy herinner my altyd dat daar nie lewe en dood op die spel is wanneer iets nie uitwerk of ek nie ’n rol kry nie. Uit die aard van sy werk reis hy gedurig oor die hele wêreld, en in ons huis is daar altyd begrip dat die wêreld ’n groot plek is waar almal hul eie struweling voer.”

Die twee susters het saamgespan om hul eie produksiem­aatskappy, Gertrude Gosh, op die been te bring. Hulle werk reeds saam met die dramaturg Marina Albertyn en die regisseur Ilse-Lee van Niekerk aan hul eerste toneelstuk. Hulle sal ook albei volgende jaar in twee episodes van die kykNET-dramareeks Projek Dina te sien wees.

Vir Trix en Lea is die grootste lekkerte daarvan om susters te wees dat woorde en gesels nie altyd nodig is nie. “Dis daai gevoel wanneer jy by iemand wil wees, maar jy nie soseer wil sosialisee­r nie,” sê Lea.

“My susters voel amper soos ’n verlenging van myself,” sê Trix oor Lea en Meije. “Dis soos drie verskillen­de harte waarvan die wortels almal verweef is. Dis iemand wat elke lewensfase saam met jou beleef het.”

Dis amper soos ’n goue draad tot die sin van die lewe, meen Lea. “Daar is ’n verstaan, ’n begrip en samesyn wat in jou menswees sit.” ■

B Trackers word Sondae om 20:00 op M-Net uitgesaai.

B Fynskrif is Dinsdae om 20:00 op kykNET te sien.

 ??  ?? Lank voor die susters Trix (links) en Lea Vivier as aktrises naam gemaak het, was hulle al beste vriendinne, en in ’n mededingen­de bedryf dien hulle as klankbord vir mekaar.
Lank voor die susters Trix (links) en Lea Vivier as aktrises naam gemaak het, was hulle al beste vriendinne, en in ’n mededingen­de bedryf dien hulle as klankbord vir mekaar.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Lea en Trix deel van kleins af ’n liefde vir toneelspel en het graag vir hul ouers opgetree.
Lea en Trix deel van kleins af ’n liefde vir toneelspel en het graag vir hul ouers opgetree.
 ??  ?? Vir Trix en Lea is een van die grootste lekkertes van susters wees dat woorde en gesels nie altyd nodig is nie. Hulle is mekaar se sielsgenot­e en beste maats.
Vir Trix en Lea is een van die grootste lekkertes van susters wees dat woorde en gesels nie altyd nodig is nie. Hulle is mekaar se sielsgenot­e en beste maats.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa