Ingeperk op ’n klein dorpie ontdek hy opnuut die vriendskap van Huisgenoot
DIE huis voel leeg, want ’n jare lange vriend is skielik nie meer hier nie. ’n Vriend wat uiterlik elke week ’n ander baadjie gedra het, maar steeds dieselfde, getroue vriend was.
Baie dinge het verander weens die onverwagte inperking. Ons bly op ’n klein Oos-Kaapse dorpie. Hier verloop dinge nou nog stadiger as gewoonlik. Soms wonder ek wat my besiel het om hier te kom woon! Dan stap ek maar na buite.
Ek loop deur die tuin en sien die vars groente. Die hen skrop om haar kuikens te wys waar hulle moet kom eet. Ek gooi ’n handjie vol mielies in hul rigting. ’n Klompie tortelduiwe en ander voëltjies swerm uit die niet nader om hulle te kom help eet. Twee jong katjies stoeispeel met mekaar. My Jack Russell volg my al stertswaaiende soos ’n skaduwee. Ek sien die liefde in haar oë.
Dit laat my dink: Sê nou ek moes êrens in ’n woonstelletjie deur ’n venster na die omringende betonoerwoud sit en staar? En ek onthou van al die vergete bejaardes wat in tehuise ingehok sit en na ’n besoek smag wat weens die inperking nou beslis nie sal kom nie. My gedagtes gaan ook uit na die mense in informele nedersettings wat so op mekaar moet woon en meer as ooit sukkel om iets te ete te kry.
Ek kyk hemelwaarts en dank die Liewe Heer dat ek hier op my Oos-Kaapse dorpie kan woon en vir my daaglikse brood. Ek vra ook dat Hy my wys wat ek kan doen om ’n verskil te maak.
Ek stap na binne, haal ’n ou Huisgenoot uit die kas en blaai daardeur. En skielik is my ou vriend weer terug in die huis. Baie dankie, Huisgenoot, vir jul jare lange vriendskap.
GERHARD GOOSEN, PEARSTON