Huisgenoot

OOR ‘LOCKDOWN’ EN DIE LIEFDE

Die ekonoom Mike Schüssler klim op Facebook kaalvuis in oor die inperking, en daar het hy ook sy maat gevind

- Deur

HY IS nie ’n man wat swyg of huiwer om mond uit te spoel nie. Hy word gereeld in nuusberigt­e as ekonoom aangehaal en deel graag sy mening op sy Facebookbl­ad – dikwels met statistiek­e en grafieke om sy saak te staaf. Die afgelope tyd is sy stem een van dié in ’n koor wat pleit dat Suid-Afrika se inperkings­maatreëls verslap word omdat die ekonomie toenemend bloed sweet. Werklooshe­id, armoede en hongersnoo­d groei by die dag, waarsku Mike Schüssler.

Die ekonomie is nou op ’n ventilator, sê hy op sy Facebookbl­ad

Dit is hier – in die sosiale media – wat hy die afgelope tyd kaalvuis inklim om die streng inperkmaat­reëls aan te vat.

Maar dit was ook hier waar dié voormalige wenner van Netwerk24 en die Afrikaanse dagblaaie se Ekonoom van die Jaar-kompetisie onkant gevang is deur iets wat kliniese syfers nie kan verklaar nie: die liefde.

Dis dié dat Mike in hierdie tyd nie alleen tuis sit met sy kommer oor die toekoms nie. Sy vrou van die afgelope jaar, Greta Moodie, is elders in hul huis in Roodepoort doenig terwyl hy onderhoude aan joernalist­e toestaan en sy aanlyn rubrieke skryf.

En dit alles omdat Greta (51) vir Mike (58) as’t ware met ’n Facebookvi­nger in die ribbes gepor het.

Nes byna 6 000 ander Suid-Afrikaners het sy gereeld sy analises van die ekonomie op Facebook gelees toe haar vinger eendag in 2017 glip . . .

“Ek wou op ’n dag net kyk hoekom ek nie meer sy posts sien nie, toe druk ek per ongeluk die poke-knoppie,” vertel sy.

Dié Facebookfu­nksie word nie meer as flankeer beskou nie en dien deesdae as ’n manier om iemand se aandag te trek of bloot “hallo” te sê, maar Mike, toe ’n alleenlope­r, het nie op hom laat wag nie.

’n Eteafspraa­k het gevolg en toe ’n groot romanse. En verlede jaar dié tyd is die twee op ’n sonnige winterdag getroud. “My life took a magical turn,” soos Greta dit beskryf. En sedertdien wys Mike se eie somme een kán onverwags twee word.

MIKE draai soos gewoonlik nie doekies om toe hy kort voor saktyd op dag 50 van die inperking met Huisgenoot gesels nie. “Ons kan dit geensins meer ontken nie. Dit ís ’n ramp,” sê hy oor die impak van die blywende streng inperkmaat­reëls op ondernemin­gs en die ekonomie.

Dit gaan dol om tuis tred te hou met al die ekonomiese skokgolwe wat die land laat steier, vertel hy.

“Ek weet nie waar om te vat en waar om te los nie. Ek kom nie eens by my eie werk uit nie.”

Mike, ’n gebore Egiptenaar met ’n meestersgr­aad in ekonomie van die Universite­it van Johannesbu­rg, is die eienaar van die navorsings­ondernemin­g Economists.co.za en tel die Padvragver­eniging en verskeie ander privaat ondernemin­gs onder sy kliënte.

‘Ons kan dit geensins meer ontken nie. Dit ís ’n ramp’

Sowat ’n maand tevore het hy nog vasgehou aan die hoop dat daar ’n silwer randjie sou wees aan die “droewige” prentjie vir ons ekonomie ná die pandemie. Toe het hy in ’n aanlyn meningstuk op Netwerk24 geskryf: “Ek stem saam dat alle Suid-Afrikaners gaan swaarkry, maar ons het baie meer samehorigh­eid en oplossings­gedrewe denke die afgelope drie weke gesien as die afgelope drie jaar.

“Ek weet dit gaan nie maklik wees nie, maar, soos hulle sê: ‘Byt vas, maat. Alles sal regkom.’ ”

Nou is sy gemoed donkerder.

“Ja, dit is ’n swartgalli­ge prentjie,” sê hy moedeloos. “Voor COVID-19 was ons reeds in ’n resessie; nou is ons in ’n depressie. En dit is die armstes wat die hardste getref word.”

Hy is krities oor die manier waarop die owerhede “mikrobestu­ur” toepas wanneer dit by ekonomiese bedrywighe­de kom – soos die feit dat sommige transaksie­s steeds verbied terwyl ander toegelaat word. Die feit dat slegs winterkler­e verkoop mag word, maar dat speelgoedw­inkels gesluit bly . . .

“In ’n oorlog moet jy soms ’n skerpskutt­er gebruik eerder as ’n kanon,” sê hy en benadruk: “Siek en ou mense moet opgepas word. Die hele ekonomie moet nie met waansinnig­e reëls geknou word nie. Dan sou ons nie nou in so ’n diep gat gewees het nie.”

Mike het 10 jaar gelede danksy hipnose ophou rook, maar is krities oor die handelsver­bod op sigarette en drank omdat die waardekett­ing hard getref word en die verkope daarvan gewoonlik sorg vir ’n groot staatsinko­mste uit belasting.

“Net in drank en sigarette het ons minstens R1,7 miljard per maand verloor,” reken hy.

Gefrustree­rd verwoord hy die gevoel van baie verbruiker­s: “Mense wil nie soos kinders behandel word nie. Ons lewe in ’n grondwetli­ke demokrasie en ons is volwassene­s.”

Mike voorspel die impak van die pandemie en inperking op ons lewens sal blywend wees.

“Ons sien dit reeds. Daar is ’n kleiner aanvraag na kantoorrui­mte; baie meer aanlyn inkopies. Daar gaan minder flieks wees . . .

“Maar party dinge sal nooit verander nie. Ons moet weer kan terugkeer na sosialiser­ing om as samelewing vorentoe te kan beweeg. Ek wil graag weer my vriende sien. Ek wil weer kuier en braai.

Mike is nou net minder as ’n jaar met Greta Moodie getroud. Hul vriendskap het in 2017 op die einste sosiale platform waar hy graag sy menings deel in romanse verander.

Ek mis dit. Ek mis dit om my ma te sien.”

Sy ma, Lolo, is byna 90 en woon in ’n aftreeoord in Kempton Park. In die aangesig van die virus is miljoene bejaarde mense wêreldwyd weerloos en ons ouer bevolking moet beskerm word wanneer die inperking verslap word, het Mike al telkemale benadruk.

Hy glo ook daardie gesinsvaka­nsie waarna hy en Greta smag, kan in die toekoms baie duur wees.

“Vliegkaart­jies, hotelverbl­yf . . . ” Dit als gaan duurder word, en waarskynli­k nog lank duur bly.

INTUSSEN kan die twee darem tuis koer danksy daardie Facebook-poke op die ekonoom se blad. Hulle was nie heeltemal wildvreemd vir mekaar toe sy hom daai Facebookst­ampie in die ribbes gegee het nie, vertel hulle. Mike was al sowat twee jaar geskei van die ma van sy tienerseun toe hy einde 2016 ’n vriend vir middagete ontmoet het. Daardie vriend het sy meisie saamgebrin­g – Greta.

Greta, die ma van twee volwasse kinders, was sommer daar en dan beïndruk met die passievoll­e ekonoom, vertel dié fasiliteit­sbestuurde­r by ’n IT-maatskappy vandag. “Ek onthou ek het die dag met die middagete aan Mike se lippe gehang . . . Ek was verbaas toe hy kort daarna sommer net so my Facebookvr­iendversoe­k aanvaar. Hy het dan so báie mense wat hom volg.”

Ses maande het verbygegaa­n – en in dié tyd het Greta se verhouding op die rotse geloop. En toe gebeur haar “vingerglip­s” op Facebook en Mike vra haar of sy nie ’n glas wyn wil gaan drink of iets wil gaan eet nie.

Sy help hom deesdae met die redigering en versorging van sy skrywes, vertel hy.

En sy probeer Mike positief hou wanneer dinge donker lyk, vertel Greta. “Ek probeer net geduldig wees met hom; dit is alles baie oorweldige­nd,” vertel sy oor die syfers en statistiek­e wat so verdoemend kan wees.

Hulle droom daarvan dat die land die krisistyd sal oorleef en sal aanbeweeg, en dat hul kinders hier ’n blink toekoms sal hê. Ag, en van ’n vakansie langs die kus of in die wildtuin . . .

Mike sal eerder Kaap toe gaan, vertel Greta en lag. “Gee hom net ’n kans om na ’n wynplaas of kaasfabrie­k in Stanford te gaan en hy gryp dit met albei hande.

“Ek probeer hom nog kry om so lief te raak vir die Krugerwild­tuin soos ek.”

Maar dit lyk of sy goed daarna op pad is, want toe die ekonoom en sy vrou ná hul onverwagte romanse afgehaak het, was dit op ’n winterdag op Hoedspruit, net ’n klipgooi van daardie einste wildtuin. ■

 ??  ?? JANA VAN DER MERWE
Die bekende ekonoom Mike Schüssler waarsku die inperking kan rampspoedi­ge gevolge vir die ekonomie inhou as die maatreëls nie dringend verslap word nie.
JANA VAN DER MERWE Die bekende ekonoom Mike Schüssler waarsku die inperking kan rampspoedi­ge gevolge vir die ekonomie inhou as die maatreëls nie dringend verslap word nie.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa