Huisgenoot

MICHAEL DE LUCCHI

-

NAN staan met ’n hark voor hom. “Ek kry skaam, Gustav. Nie ’n kriesel fudge hier nie, net ’n tuin vol onkruid!” “Ek het nie vir fudge gekom nie, Nan. Ek is net dankbaar ek het oor die Oranjerivi­er gekom.” “Hoe op aarde het jy dit reggekry?” “Sê maar ek het met die een hand aan die agterkant van ’n taxi vasgeklou, Ouma. Hulle het die taxi nie voorgekeer nie, toe seil ek ook verby.”

Sy kom met die hark nader. “Ek dank die Vader in die hemel dat jou motorfiets juis hier ’n fout moes optel. Dat jy saam met Ouma ingeperk gaan wees.”

“Dalk tot Donderdaga­and, Ouma. Vrydagogge­nd moet ek ry.” “Waarheen? Waarvoor?” “Opleiding, Ouma.” Hy kan haar nie in die oë kyk nie. Hy kan haar nie vertel nie.

“Opleiding? Kan dit nie aanlyn gedoen word nie? Buitendien: Daar mag mos nie groepe mense saamkom nie?”

Soos altyd is daar niks waarvan Nan nie weet nie. Behalwe die een ding wat hy van haar weerhou.

“Daar’s net twee van ons in opleiding.” Die wind lig haar grys hare en waai haar mou teen haar arm. Haar boarms is net kieriedik. Gustav kry haar geur weer so intens soos op die winterdag toe hy die eerste keer begin wonder het oor die ding wat liefde genoem word. En oor hoe dit is om verlief te wees. In love.

Hy was 10, soos Blackie Swart, Paula en Hannie. Sy bynaam was Erdwurm.

Juffrou Ahlers het tydens die eerste periode ’n deelsom op die swartbord geskryf. Hy het sy hande teen mekaar probeer warm vryf en die suisgeluid van vel teen vel gehoor. As ’n likkewaan sy pote teen mekaar sou skuur, sal dit ook so klink, het hy gedink. My hande is so koud soos ’n reptiel se pote. Maar sy naels was tot in die lewe afgekou; sy vingers het darem nog soos mensvinger­s gelyk.

Omdat hy aandagafle­ibaar gebore is, het hy ook talle ander geluide gehoor, geluid op geluid. Die bordkryt wat kliks! middeldeur breek, die klank van die stukkie wat op die plankvloer val en eers drie spronge spring voor dit bly lê. Die geknetter van die vuur in die klaskamerk­aggel, want die skool is in 1947 gebou en kort ná die Tweede Wêreldoorl­og het arm mense nog soetdoring­boomstompe en -takke vir die kaggelvure uit die veld gebring. Die hout, het Nan vertel, is elke Vrydagogge­nd per donkiekar by die skool aangebring. Sodra hulle hul betaling uit die geldtromme­l in die hoof se kantoor gekry het, is die houtmense dan dorp toe om mieliemeel, sopbene, drank, roltwak, suiker en sout te gaan koop.

Toe hy, Gustav, 10 was, was die kaggelhout maar net daar. Net die Skotse faktotum, Mister Finlay, het geweet waar dit vandaan kom. So sou dit bly. Mister Finlay het meisies ghirrils genoem, en boeke bhiks. “Ghirril, is this jir bhik?” Geen kind kon hom verstaan nie, en daarby het hy ’n swart oogklap gedra. Almal het draaie om sy kamer op die skoolterre­in geloop.

Hoeveel geluide was daar in die klaskamer daardie winterogge­nd toe die ding wat liefde genoem word hom soos ’n vuishou teen die bors getref het? Hy het skoensole op die vloer onder die skoolbanke hoor skuur. Boekbladsy­e wat omgeblaai word. Asems. Loopneussn­uiwe. Snuite in lapsakdoek­e. Hoese. Hy kon die kieme uit sy klasmaats se boonste lugweë oor die klaskamerm­eubels hoor trippel. Bo hul getrippel uit het hy Paula de Bruin reg voor hom hoor fluister: “Blackie sê hy is in love met my.”

Sy het “love” as “laaaaf ” uitgespree­k. Vier a’s bo haar tong en teen haar verhemelte.

“Blackie?” Hannie Tredoux se stywe vlegsels het saam na regs geswaai. Haar klein-klein mondjie het oopgegaan asof Paula ’n lepel na haar uithou en haar iets voer. ’n Teelepel. Want Hannie was snaaks aanmekaarg­esit: klein voorkop, harde hare in stywe vlegsels en dié klein mondjie waardeur net ’n teelepel vol mieliepap of poeding kon gaan. Paula het ’n rits knikke gegee. Hannie het in Blackie Swart se rigting geloer en gou weer teruggekyk, want Blackie het haar sien omkyk.

Later die dag het Paula en Hannie weer daar voor hom gefluister: “Hy sê ek het mooi hare en ek ruik vir hom lekker.” “Is jy ook in love met Blackie?”

“Ek weet nie. Maar ek dink so.” Paula het gebloos.

“Hoekom?”

“Oor hy . . . Ag, dis sommer net magic. ’n Magic moment, jy weet?”

Dit het hom verstom dat sy soos ’n

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa