Huisgenoot

MY BLYWENDE DROME

Ná ’n botsing met ’n ‘blouligdry­wer’ bly Thomas verstandel­ik ’n kind – maar hy bly hoop op ’n vrou en kleinkinde­rs vir sy ouers

-

DIS asof die tyd vir hom stilstaan. Nege jaar het verloop sedert die oomblik dat alles in ’n oogwink verander het toe hy ’n matriekseu­n was, maar ná al dié jare is hy steeds soos ’n seun op die drumpel van sy grootmensl­ewe. Wat hom die hartseerst­e maak, is dat hy dalk nooit die dinge sal ervaar wat soveel ander jong mense as vanselfspr­ekend ervaar nie: die liefde van ’n maat, sy eie kinders . . .

“Hoe sê ’n mens dit?” soek Thomas Ferreira na die regte woorde vir sy hartseer. “Ek sal nooit vir my ma-hulle kan kleinkinde­rs gee nie. En dit maak my hart regtig baie seer.”

Hy is vandag 27 jaar oud – fisiek byna ’n dekade ouer as toe hy in 2011 as sorgelose matriekseu­n in Krugersdor­p met sy motorfiets die straat oorgesteek het toe die verkeersli­g groen raak. Maar hy is nie die kans gegun om sielkundig en emosioneel meer volwasse te word nie. Toe ’n aankomende motor met ’n flitsende blou lig op die dak oor ’n rooi lig jaag en in hom vasploeg, het die ongeluk breinbeser­ings veroorsaak wat beteken het Thomas sal vir ewig soos ’n kind bly.

Thomas was drie maande lank in ’n koma, en toe hy eindelik ontwaak, kon die dokters aan sy ouers, Priscilla (57) en Paul (61), vertel dat hul kind sal oorleef. Hy sal eindelik min liggaamlik­e skade oorhou, maar omdat sy beserings skade berokken het aan daardie deel van die brein wat persoonlik­heid, emosies en gedrag reguleer, sal hy die onvoorspel­bare persoonlik­heid van ’n tiener behou.

Waar Thomas vandag self oor sy lang pad sedert die ongeluk gesels, glimlag hy deurgaans skaam soos die skoolseun wat hy was toe sy toekomsdro­me deur die “blouligdry­wer” te pletter gery is.

Sedert daardie dag is hy vasgevang in die vrees dat nog ’n ongeluk dalk kan gebeur en dat dit een van sy geliefde ouers kan eis. “Hy bel en vra: ‘Waar is jy; ek worry oor jou’ as ek te lank in die winkels bly,” vertel Priscilla.

Langs haar beaam Thomas: “Ek’s altyd bang sy was in ’n ongeluk wanneer sy te lank wegbly, nes ek lank weg was. En ek wil dit nie hê nie, nie vir my ma nie.”

Hulle het nie meer woede oor die ongeluk wat hul seun se lewe so drasties verander het nie, vertel Priscilla en Paul – al is Joseph Semietjie, destyds die motorbestu­urder van ’n Gautengse provinsial­e politikus, reeds weer ’n vry man nadat hy in 2015 vyf jaar tronkstraf gekry het.

“Dit sou ons doodmaak om vir soveel jare aan die woede te klou. Maar daar’s hartseer oor alles wat my kind ontneem is. Om te weet hy sal dalk nooit ’n meisie hê of trou nie. Hy sal dalk nooit kinders van sy eie hê nie,” sê Priscilla.

Thomas se eens sorgelose persoonlik­heid het verdwyn. Hy raak aggressief en kry woedeuitba­rstings omdat hy sukkel om sy emosies te verwerk. “Maar as ek lelik met my ma of pa gepraat het, skryf ek vir hulle ’n briefie. En daarin sê ek jammer, en dan’s ek regtig jammer,” sê hy skugter. Sy ma druk hom liefdevol vas.

Hy raak ook jaloers wanneer sy sussie, Danielle (24), haar kêrel huis toe bring, sê Priscilla.

“Dit maak hom stukkend om te weet hy kan dalk nooit daardie normale lewe hê wat ons almal as vanselfspr­ekend aanvaar nie.”

SY WONDER of die voormalige blouligdry­wer soms snags wakker lê oor die ongeluk en wat dit aan haar kind gedoen het. Semietjie het die motor bestuur van die destydse Gautengse LUR vir plaaslike regering en behuising, Humphrey Mmemezi. Hy is skuldig bevind aan roekelose bestuur. Die ongeluk het destyds openbare woede oor die padgedrag van politici se blouligkon­vooie uitgelok.

Semietjie het nog nooit na die Ferreirage­sin uitgereik om jammer te sê nie, sê Priscilla.

Maar terwyl hy nou weer ’n vry man is, dien Thomas nog sý vonnis uit.

“’n Mens kan amper nie glo dis nege jaar sedert daardie tragedie nie. Dis moeilike jare agter ons; jare wat ons gedwing het om aan te pas, om te vergewe en vorentoe te beweeg,” sê Priscilla.

Dit is ook merkwaardi­g dat Thomas leef. Hy was ná die ongeluk drie maande lank in ’n koma, ’n maand in die waakeenhei­d, nog een in die hoësorgeen­heid en toe in ’n rehabilita­siesentrum. Hy kon aanvanklik nie self asemhaal, sluk, praat, blaas, suig, loop of lees nie.

“En nou sweis ek laat dit spat!” verkondig Thomas opgewonde. “Ek maak baie dinge. Soos ’n staander waarin jy braaihout kan pak.”

Weens die breinbeser­ings het Thomas te vroeg die kruin van sy ontwikkeli­ng bereik, sê Priscilla. Hy het die impulsiewe aard van ’n kind en kan nie logies redeneer nie. Hy het nie interperso­onlike vaardighed­e nie; hy kan nie konsentree­r nie, en omdat sy sig in die ongeluk aangetas is, kan hy ook nie lees nie.

“Dinge sal waarskynli­k nooit veel verander van hoe dit nou is nie. As ’n ma hou ek aan met hoop, maar Paul is meer rasioneel. Hy sê ons moet besef dinge gaan so bly en dit aanvaar. Maar aanvaardin­g kom so moeilik.”

“Maar ons bly -dankbaar,” sê Paul. “Ons weet hy kon die ongeluk nie oorleef het nie.”

THOMAS is op chroniese medikasie vir depressie en aggressie. Hy moet twee maal per jaar ’n psigiater besoek wat sy gedragspat­rone evalueer. Veral sy korttermyn­geheue het versleg. “Ons sal in die motor klim, op pad na iemand se verjaardag, en hy sal binne 10 minute drie keer vra waarheen ons gaan. Ons moet hom kort-kort herinner wat aangaan,” sê Priscilla.

Maar dit is Thomas se gemoedskom­melinge oor ’n gebrek aan ’n eie verhouding­slewe wat vir die hele gesin soms swaar is om te hanteer.

“Thomas kyk na ons huwelik, en hy smag daarna. Hy kyk na Danielle en haar kêrel, en hy’s jaloers op haar verhouding en haar vriendskap­pe. Hy’t net een vriend en vir ons. Dit breek sy hart,” vertel Paul.

En dís hoekom hy dikwels depressief en aggressief raak, vertel Thomas self.

“Sy het ’n ou en ’n werk, en dit maak my baie seer. Ek het niemand nie. So soms lê ek net op die bank en ek kyk nie vir haar nie; dit maak my te seer. Maar ander kere word ek kwaad. En ek weet ek moenie. Dit help nie om dan net briefies te skryf en jammer te sê nie.”

’n Oomblik lank is Thomas sigbaar emosioneel. Priscilla sit haar hand op sy

LINKS: Die wrak van Thomas se motorfiets ná die verwoesten­de ongeluk. ’n Aankomende motor met ’n flitsende blou lig op die dak het oor ’n rooi lig gejaag en in hom vasgeploeg. Die bestuurder is vyf jaar tronkstraf opgelê. NAASLINKS: Dokters het destyds alles in hul vermoë gedoen om Thomas se lewe te red.

bobeen. “Maar ek het nie ’n meisie nie,” hou Thomas dan vol. “Ek het nie vriende nie. My lewe is nie dieselfde as hare nie. Ek wil vir my ma klein-kids gee en ek wil trou. Maar met my stukkende brein kan ek nie.”

Priscilla troos hom soos net ’n ma kan. “Ek sê altyd ons moet geduldig wees, want niemand weet hoe lyk môre nie. God stuur dalk vir hom ’n maat. En dís nie vir ons valse hoop nie. Dis ’n wonderwerk dat my kind leef. God kan nog ’n wonderwerk in ons lewe laat gebeur.”

Die egpaar erken dat die uitdagings van Thomas se versorging soms hul huwelik onder druk plaas. “Ons gaan nooit alleen iewers heen nie. Ons kan nie; hy het ons te nodig,” sê Paul.

“Vir nege jaar nou het ons nie alleentyd gehad nie. En soms is dit oukei, maar soms veroorsaak dit frustrasie tussen ons. Daar is maar heated moments nes in enige huwelik. Maar ons verkwalik Thomas nie daarvoor nie. Ons weet ons kan hom nie sommer op iemand anders afpak nie. Hy is óns kind; ons is lief vir hom.”

Priscilla bieg hulle is bekommerd oor die toekoms. “Ons het ons lewe aanvaar soos dit nou is, maar ons is ook nie meer jonk nie. En as ons weg is, wat dán?”

Dit is Thomas wat ná ’n lang stilte sê: “Dan sal Jesus iets doen. Want dis mos hoekom ek elke aand vir Hom bid.” ■

‘Dis ’n wonderwerk dat my kind leef. God kan nog ’n wonderwerk in ons lewe laat gebeur’

 ??  ?? Nadat ’n ongeluk Thomas met breinskade gelaat het, vind die Ferreiras geluk in saamwees. Van links is Priscilla, Thomas, Danielle en Paul.
Nadat ’n ongeluk Thomas met breinskade gelaat het, vind die Ferreiras geluk in saamwees. Van links is Priscilla, Thomas, Danielle en Paul.
 ??  ??
 ??  ?? LINKS: Sy gunsteling­tydverdryf: om te sweis. HEEL LINKS: Thomas is ná die ongeluk steeds ’n goeie boogskutte­r.
LINKS: Sy gunsteling­tydverdryf: om te sweis. HEEL LINKS: Thomas is ná die ongeluk steeds ’n goeie boogskutte­r.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa