IN DIE OOG VAN DIE STORM
Die krisis in die Kaap hou die premier dag en nag besig – maar hy dink reeds vooruit
’NSTORMWIND tier vandag so erg om die hoeke van die historiese Wes-Kaapse premierswoning, Leeuwenhof, dat die vensters eintlik in hul rame ratel. Maar dit is ’n storm van ’n ander aard wat Alan Winde bedags besig en snags uit die slaap hou.
As premier van die provinsie wat as die episentrum van die COVID-19-pandemie in Suid-Afrika beskou word, moet hy die Wes-Kaap deur die storm probeer stuur. Teen druktyd is meer as 65% van die COVID-19-gevalle in die land in die Wes-Kaap aangemeld, oftewel 15 396 van die 23 615 infeksies landwyd.
Die verwoesting wat die coronavirus wêreldwyd en tot hier aan die suidpunt van Afrika kom saai het, lê nie net vir hom in statistieke opgesluit nie. Alan is tydens sy onderhoud met Huisgenoot al byna twee weke in selfisolasie nadat die virus op 13 Mei die lewe van die eNCAkameraman Lungile Tom geëis het nadat dié kort tevore ’n TV-onderhoud met hom gevoer het.
Maar al is die 55-jarige premier as tipe 2-diabeet in ’n hoërisikogroep, het die idee dat hy self ’n slagoffer van die virus kan word nog nie by hom opgekom nie. “Ek het nog nie regtig daaroor gedink nie,” erken hy versigtig. “Miskien is dit een van die probleme, dat so baie van ons dink ons sal dit nie kry nie . . .”
Dit is Maandagoggend en die 60ste dag van die landwye inperking. Suid-Afrikaners het die vorige aand gehoor die hele land beweeg van 1 Junie af na vlak 3.
“Dit is ’n baie goeie ding,” sê Alan in ’n video-onderhoud uit Leeuwenhof, die imposante dubbelverdiepinggewelhuis aan die voet van Tafelberg waar hy en sy gesin onlangs ingetrek het.
“Ons het die inperking gebruik om die gesondheidstelsel gereed te kry en die verspreiding van infeksies te vertraag. Wanneer die gesondheidstelsel reg is, moet jy dit met ’n humanitêre aanslag balanseer. As dit net oor die gesondheidstelsel gegaan het, sou ons almal ses maande ingeperk kon bly, en dan was die probleem opgelos. Maar daar sou niks van die ekonomie oorbly nie en dit sou tot verhongering en die dood gelei het.”
Hy het vooraf gewaarsku hy kan net ’n onderhoud van 20 minute in sy bedrywige rooster inpas, maar soos dit ’n gesoute politikus betaam, rol die woorde vinnig en gemaklik van sy tong af.
Toe hy presies ’n jaar gelede die leisels as Wes-Kaapse premier by die DA-veteraan Helen Zille oorgeneem het, het Alan aan Huisgenoot gesê “dit is reuseskoene daardie” om vol te staan. Die werk sou nie maklik wees nie, maar hy sou nooit kon voorspel wat die omvang van 2020 se uitdagings sou wees nie. Die coronakrisis, die ekonomiese impak van die inperking, werkloosheid en hongersnood wat toeneem, die toerismebedryf wat doodbloei . . .
“Ek het ’n boodskap aan my kabinet gestuur en gesê: Wie sou ooit ’n jaar gelede kon dink ons sou hierdie uitdaging hê?” vertel hy. “Dis ’n ernstige uitdaging, seker die grootste nog, maar niemand in die wêreld sou dit kon voorspel nie.”
ADie Wes-Kaapse premier, Alan Winde, is maar slegs ’n jaar lank in dié pos, en niemand kon voorspel wat 2020 sou inhou nie. Hy glo dis nou die tyd om innoverend te dink om die provinsie se ekonomie weer op die been te kry.
L BEVIND hy hom as die Wes-Kaapse premier in die oog van die COVID-19storm, lyk die gryskopman op die selfoonskerm in beheer en gemoedelik. Jy sal skaars raai hy skrik snags ná net twee uur se slaap wakker en probeer dinge uitpluis en beplan.
“Dan is alles stil en niemand pla my nie. Dan kan ek na verslae kyk oor wat in ander lande gebeur en by e-pos uitkom. Dit ergste is wanneer jy daardie tyd van die nag e-pos stuur en die persoon antwoord jou,” sê hy en glimlag oor sy span se toewyding.
Alan vertel dit is ongelooflik hoe hy en sy span daarin kan slaag om hul werk uitsluitlik op digitale platforms te doen.
“Dit is die een onderhoud en vergadering ná die ander, en soms is ek op een slag in twee vergaderings. Almal het van die vierde nywerheidsrevolusie gepraat, maar ons is behoorlik daarby ingedwing.”
Hulle begin almal soggens sesuur werk, en teen elfuur saans is hulle nog aan die gang. “Dit is uitputtend, maar ons dink nie te veel daaroor nie,” sê hy.
Hy bespreek die provinsie se hoë infeksiesyfer weekliks met ’n groot span kundiges en epidemioloë.
“Ons toetsing was van die begin af baie gefokus. As een mens in ’n winkel siek geword het, het ons die hele winkel getoets en so meer mense opgespoor. Meer onlangs het dokters ook begin sê die hoë infeksiesyfer kan weens ’n vroeë verspreiding van die virus hier wees. Die provinsie het baie internasionale byeenkomste en geleenthede gehou; ons het hordes internasionale toeriste hier gehad.”
Op die oomblik is sy grootste kommer dat openbare en privaat laboratoriums nie kan voorbly om COVID-19-toetse te verwerk nie. “Sonder die data kan ons nie die situasie bestuur nie.”
Die coronavirus het ook al sy eie lewe kom omvergooi. Dit is al die tweede keer dat Alan veiligheidshalwe twee weke in selfisolasie tuis bly, al het hy geen simptome
BO: Alan en sy kabinet doen tans die meerderheid van hul werk vanaf digitale platforms. REGS: Hy en sy vrou, Tracy. van COVID-19 ontwikkel nie. Die eerste keer was kort voor die amptelike inperking in Maart, ná sy ontmoeting in Kaapstad met die konsul-generaal van Frankryk, Laurent Amar, wat daarna positief getoets het. Die Winde-gesin het toe nog in hul huis in die suidelike voorstede gewoon.
“Ons was baie lief vir ons huis in Claremont. Maar dit is heel lekker hier, en dit is naby die kantoor wanneer ek moet ingaan. Dit is net ’n bietjie raserig met die wind wat die ou vensters laat kraak,” sê hy. “Dis nog ’n lekker ding van Leeuwenhof: Hier is baie ruimte.”
Sy vrou, Tracy (54), wat mense in mindfulness oplei, is tydens die inperking gereeld in die kombuis doenig saam met hul matriekdogter, Lauren (18). Hul seun, Jason (21), ’n musikant, het in dié tyd verskeie projekte saam met ander musikante aangepak, vertel Alan trots.
Al is tipe 2-diabetes op 44 by hom gediagnoseer, sê Alan hy is “oor die algemeen gesond en fiks”. Hy volg ’n lae-GIen minkoolhidratedieet om sy bloedsuiker te bestuur. Hy is ook ’n kranige fietsryer wat vroeër getrou geoefen het. “Met die streng inperking aan die begin was dit nie moontlik nie en tans is daar net nie tyd nie. Dis ’n bietjie sleg.”
Hy maak wel tyd om nie net op die huidige gesondheidskrisis te fokus nie, maar ook “uit te pluis hoe die provinsie postcorona gaan lyk. Wanneer die ergste verby is, gaan die uitdagings wees om die Wes-Kaap as ’n plek met beleggingsgeleenthede aan die wêreld voor te hou.
“Ek glo landbou gaan groot geleenthede inhou. Ons is reeds die provinsie in Suid-Afrika wat die meeste landbouprodukte uitvoer; ons is mededingend en ons het wonderlike kundiges in die veld.”
Hy voorspel ook groot veranderings wat die verhuring van kantoorruimte betref. “Dis makliker as ooit om van die huis af te werk. Ons het ’n massiewe behoefte aan behuising, en omdat daar geen ekonomiese waarde in kantoorruimte gaan wees nie, kan dit dalk in wooneenhede omskep word.
“Toerisme sal weer opstaan, maar mense gaan innoverend moet wees en planne moet maak om mense na hulle te lok. Dalk gaan hulle mense moet vertel waarom dit veilig by hulle is, of ontbyt in kamers voorsit en nie op ’n gemeenskaplike plek nie.”
SOU hy hierdie werk aanvaar het as hy geweet het wat alles op hom wag? “Ja, ’n mens voel hierdie dinge in jou binneste.” Tog erken hy laggend: “Party dae wil ek weghardloop en op ’n eiland gaan wegkruip. “Gelukkige hou ek van uitdagings. En ons het reeds voor reuseuitdagings gestaan. Daar was die droogtes en hoë werkloosheidsyfers. Nou is daar ’n hele vlaag uitdagings bygevoeg, maar hoe ons dit hanteer en wat aan die ander kant uitkom, gaan ons definieer.” ■
KLOKSLAG om sesuur kom mense een vir een in oefenklere uit hul wonings. Party stap teen ’n stewige pas; ander draf vinnig verby. Ma’s met stootwaentjies probeer ’n geselsie van agter ’n masker met ’n buurvrou aanknoop. Honde, klein en groot, hardloop getrou saam met hul base op die breë wandelpad al langs die koue see tot hul tong begin uithang.
Soggens tussen ses- en negeuur begin die hart van Seepunt in Kaapstad weer klop – al is dit net vir die skamele drie uur per dag wat Suid-Afrikaners nog in Mei mag bene rek. Op 1 Junie sal mense weer landwyd enige tyd van die dag mag oefen, maar hier in die laaste week van die herfs is Suid-Afrikaners wat buite wil oefen nog weens die inperking beperk tot net die drie uur rondom sonsopkoms.
Teen agtuur hoor jy wieletjies vinnig oor die keisteenpaadjie hier in Seepunt aangerol kom. Woer-woer-woer.
“Daar kom die tannie,” sê iemand agter ’n sonbril en wys na die oorkant van die straat.
By ’n vierrigtingstopstraat waar die verkeersligte reeds groen is, bly die motors doodstil staan. Dan sien jy die grys kop van tannie Yamina Oliver (90) beweeg terwyl sy met haar donkerrooi loopraam oor die straat stap en see se kant toe mik.
Sy loop vinnig. Woer-woer-woer voor die motors verby voor hulle weer stadig begin ry. En woer-woer-woer draai sy die loopraam skerp na regs tot op die wandelpad.
Skielik gaan sy staan. Sy lig die swart leerstoeltjie op en haal ’n gesigskerm uit die mandjie. Want soos almal rondom haar probeer sy veilig bly te midde van die COVID-19-pandemie.
Sy sit die gesigskerm versigtig op haar grys hare, gryp die handvatsels van die loopraam stewig vas, en die wieletjies begin weer vinnig al langs die see woer – ’n volle 1,5 km ver tot anderkant Drieankerbaai.
Daar gaan sy elke oggend vir 10 minute op ’n bankie onder groot palmbome sit met ’n eersteklas uitsig op die see om ’n rukkie te rus voor die terugtog.
Yamina se daaglikse wandeling verloop nie sonder onderbrekings nie. Want elke paar treë keer ander stappers haar voor om te groet.
“Sy het in 1962 vir my skoolgehou, en
ek onthou morah (Hebreeus vir “onderwyseres”) Oliver nog baie goed,” vertel Laurence Sachs (50), ’n ander stapper, met ’n glimlag.
“Ek was in die Hebreeuse kleuterskool hier anderkant,” vertel hy. “En as morah Oliver vir jou klas gegee het, sal jy haar nie maklik kan vergeet nie.”
DIT is dag 57 van die inperking toe Huisgenoot Yamina ontmoet om ’n bietjie saam met haar te stap. Sedert 1 Mei, toe die land van vlak 5 na vlak 4 oorgeskakel het en daagliks drie uur oefentyd gegun is, gaan Yamina elke oggend op Seepunt se promenade stap. Sy is ’n bekende gesig onder inwoners.
“Dit is hel om so vroeg op te staan,” sê sy agter haar gesigskerm. “Party oggende is dit yskoud en donker en wil ’n mens net in die bed bly. Dan moet jy maar op, maak nie saak hoe jy met jouself stry nie.
“Soms vat ek te lank en stap ek nog tot ná negeuur. Dan is ek die enigste een wat nog hier stap,” vertel sy.
“Nou die dag het die polisie met die vangwa hier langs die pad stilgehou. Hulle vra toe waarheen ek op pad is. Ek sê toe my huis is daar in die straat af. Ek was net daardie dag ’n bietjie stadig, want soms sukkel ek met my rug.
“Hulle sê toe vir my hulle sal my elke oggend by my woonstelkompleks kom oplaai om te gaan stap. En ek sê toe nee, nee,” en sy skud haar kop.
“As hulle my in daardie vangwa kom oplaai, gaan die mense in my kompleks dink ek het iets gesteel.”
Skielik steek sy vas. “Dit is die begin van baie stoppe,” sê sy en lag. Sy gaan nie net stilstaan om met mense te gesels nie, maar ook om eers ’n bietjie te rus.
“Ek was bang ek kon nie vanoggend kom stap nie,” vertel sy. “Vanoggend vroeg het dit baie gereën. En in al die boeke wat ek lees, sê hulle jy moet net nie nat word nie. Want hoe ouer jy word, hoe groter is jou kans om dood te gaan.”
Ná ’n geselsie van vyf minute gryp sy weer haar loopraam asof sy hernude energie het. “Kom, kom, laat ons gaan!”
En weer begin die wieletjies vinnig oor die paadjie rol.
Sy stap baie, vertel sy. Winkels toe, na vriende toe en kerk toe.
“Ek het nou die dag oor die draadloos gehoor die dokter sê as ou mense gereeld stap en hulle hou skielik op, sal hulle
Nóg die inperking nóg haar ouderdom keer haar om daagliks te gaan stap.
daarna agterkom hulle kan nie meer so lekker loop nie. Hierdie is ou bene – hulle verander nie maklik nie.”
“Hallo, Tannie!” groet ’n vrou in ’n stywe pienk oefenbroekie in die verbystap.
“Wie groet ek?” vra Yamina en draai om sodat sy kan sien.
“O, hallo, Magda; baai, Magda,” sê sy en gesels verder, so in die loop.
“Voor die lockdown het ek ook saans met my loopraam gaan stap. Ek kan nie net stilsit en niks doen nie. Een aand het ek alleen by ’n restaurant gaan eet. Toe ek klaar is, staan ek op en loop huis toe. Ek hoor toe ’n kelner roep my terug. Ek het my loopraam in die restaurant vergeet,” sê sy en die wieletjies woer voort.
“Ag, ek sou nie ver kom sonder hom nie. Ek sal iewers val.”
Sy woon die afgelope 20 jaar alleen op die vyfde verdieping van ’n woonstelkompleks. Uit een venster sien sy die see; uit ’n ander Leeukop.
“Wanneer ek klaar gestap het, maak ek vir my ’n koppie Vyf Rose-tee. Dan gaan slaap ek tot ek wakker word, so moeg is ek,” vertel sy.
“Wanneer ek wakker word, maak ek vir my ’n eiertjie en ek eet baie groente en vrugte. Ek kyk nie televisie nie; dit is gemors daardie. Ek lees baie, nie romantiese boeke nie. Weet jy romanse vlieg uit die venster hoe ouer jy word? Nee, ek lees net geskiedenisboeke. Ek is ’n Jood en wil alles oor die Tweede Wêreldoorlog lees. Ek het seker 6 000 boeke in my huis.”
’n Tree of twee verder bereik ons die bankie waar Yamina elke dag haar tweede asem kom skep.
“Sjoe, lekker!” sê sy met die sitslag. So in die stap dink sy baie aan haar oorlede man, Morris, ’n fisioterapeut, vertel sy, en oor hoe die lewe moeiliker geraak het sonder hom. Hulle was 25 jaar getroud toe hy op 63 aan ’n aneurisme dood is. Sy dink ook aan haar drie aantreklike seuns wat nooit getrou het nie en sy wonder hoe mooi haar lewe met kleinkinders sou gewees het.
Sy woon alleen in Kaapstad en sien haar seuns ’n paar keer per jaar. Een is in Engeland, een in Burundi en een in Durban.
“Die oudste is 60, die jongste is 53 en die middelste een is iewers tussenin,” vertel sy.
“Die laaste keer dat ek hulle gesien het, was toe ek in September 90 geword het. Hulle het vir my ’n groot partytjie in ’n Indiese restaurant daar in Kloofstraat gehou. Dit was die eerste keer dat ek sjampanje uit so ’n lang glas gedrink het,” sê sy en wys met haar vingers in die lug hoe lank daardie sjampanjeglas was.
“Ons het heelaand gedans en gesing; dit was so lekker.”
Sy het nooit gedink sy sou so oud word nie, want haar ma is reeds in haar laat 70’s oorlede.
“My ma was ook lief vir stap. Sy het altyd so na die see gekyk en gesê: ‘Kyk hoe pragtig is die wêreld; dis net jammer die mense is nie so mooi nie,’ ” vertel Yamina.
Sy dink nie sy gaan nog veel ouer word nie, sê sy toe.
“Ek is ook bang om die coronavirus op te doen. Maar wat moet ek doen? By die huis bly en ophou stap? Ek sal so ook mos doodgaan.”
Skielik loer sy na die wit horlosie aan ’n leerbandjie om haar linkerpols.
“Kom,” sê sy ferm en staan op. Sy gryp weer die handvatsels van haar loopraam vas. “En weg is ons!” ■
‘Wat moet ek doen? By die huis bly en ophou stap?’