Huisgenoot

ROCKER VAN UITERSTES

Little Richard het sterre soos Jimi Hendrix en Elton John beïnvloed, maar kon sy seksualite­it en wilde lewe en musiek moeilik met sy geloof versoen. Met sy dood op 87 jaar het aanhangers aan dié baanbreker van rock ’n’ roll hulde gebring

-

HY HET die liedjie met ’n wilde kreet aangehef, sy klavier gemoker en met ’n skril, plofbare stem gesing, skynbaar voortduren­d op die rand van histerie. Dit was in 1955, en met sy eerste treffer, “Tutti Frutti”, het Little Richard ander vroeë rockers soos Bill Haley en Elvis Presley sowaar hondmak laat klink.

Hoe belangrik die Amerikaans­e legende in die geskiedeni­s van popmusiek was, kan nie oorbeklemt­oon word nie. Toe die musiektyds­krif Rolling Stone hom agtste plaas op ’n lys van die grootste vermaakkun­stenaars in die geskiedeni­s, was al sewe in die posisies bo hom sterk deur hom beïnvloed.

Vir Paul McCartney was hy bloot “die koning van rock ’n’ roll”. Vir Keith Richards van die Rolling Stones was dit die grootste oomblik van sy lewe toe hy in 1963 saam met hom op die verhoog verskyn het. ’n Jong Bob Dylan het in sy skooljaarb­oek geskryf sy ambisie is “om by Little Richard aan te sluit”.

David Bowie het ’n saxofoon gaan koop nadat hy ’n plaat van hom gehoor het. Hy het Elton John geïnspiree­r om klavier te speel. En Jimi Hendrix, wat as groentjie in Richard se agtergrond­orkes gespeel het, het gesê hy wil “met my kitaar doen wat Little Richard met sy stem doen”. Ook Michael Jackson en Prince het van sy invloed op hul musiek getuig.

Toe die nuus daarom bekend geword het dat Little Richard op 87 aan beenkanker dood is, het aanhangers aan die groter-as-lewensgroo­t pionier hulde gebring.

Sy teatrale en passievoll­e styl het baie te danke gehad aan gospel en die Suidelike evangelist­e wat hy in sy jeugjare hul gehore hoor opsweep het. Maar hy het die preekstyl byna ’n demoniese byt gegee deur sonder enige inhibisies te sing.

As kind wou hy predikant word, en op die hoogtepunt van sy sukses het hy oortuig geraak hy stuur op die verdoemeni­s af. Om daarvoor te vergoed het hy by ’n teologieko­llege ingeskryf en sekulêre musiek gelos om met ’n godsdienst­ige vertoning te toer. As deel daarvan het hy

’n preek afgesteek ook: “Hoekom ek die vermaakbed­ryf verlaat het.”

Toe hy in die vroeë 1960’s daarna terugkeer, was populêre musiek aan die verander. Maar die ritmegroep­e wat gou die eerste geslag rocksterre sou oorskadu, het almal groot ontsag vir hom gehad. Tydens sy Britse toer in Oktober 1962 het hy die Beatles na die tweede plek op die trefferlys laat afskuif.

Paul McCartney het die geleenthei­d aangegryp om sy sangtegnie­k te bestudeer en na te boots.

“Dis soos ’n buiteligga­amlike ervaring,” het hy gesê. “Jy moet wat jy nou voel, agterlaat en sowat ’n voet bo jou kop styg om dit te sing.”

Die volgende jaar het die Rolling Stones hom ondersteun. Ook Mick Jagger was vol bewonderin­g vir hom.

“Hy het die hele gehoor totaal rasend gemaak. Ek het elke aand sy bewegings dopgehou en by hom geleer hoe om die gehoor te vermaak en betrek.”

Richard het later graag gespog: “Mick Jagger het altyd gekyk hoe ek optree. Waar dink jy het hy daardie stappie gekry?”

AL HET hy nooit weer soos in die 1950’s die trefferlys­te oorheers nie, het Richard eindeloos aanhou toer. Hy het sy ou treffers gesing, ’n gerespekte­erde figuur wat as ’n geordende predikant ’n goue middeweg tussen die verkondigi­ng van die evangelie en rock gevind het deur Bybelse literatuur onder sy gehore te versprei.

Toe hy in 1998 saam met Chuck Berry en Jerry Lee Lewis by ’n Legends of Rock ’n’ Roll-vertoning in Londen opgetree het, het hy glo ’n groot deel van die geld vir sy optrede daaraan bestee om te sorg daar is ’n Bybel op elke sitplek in die arenateate­r.

Hy het in 2013 eindelik ophou toer. “Ek dink my nalatenska­p sal wees dat

LINKS: In 1957 tydens ’n vertoning saam met sy groep. NAASLINKS: Little Richard in 1962 terwyl hy in ’n kerk preek. Hy was verskeur oor sy geloof en sy lewe as rockster. Hy het in ’n stadium gesê: “Ek sou van ’n orgie af opstaan en my Bybel gaan optel.”

daar nie so iets soos rockmusiek bestaan het toe ek in die vermaakbed­ryf begin het nie,” het hy gesê. “Eers toe ek met ‘Tutti Frutti’ begin het, het rock werklik begin rock.”

Hy het nie grootgepra­at nie; hy dit bloot as feit gestel.

Hy het eenkeer gesê as Elvis die koning van rock was, was hy die koningin, en beweer hy’s “omniseksue­el”. Tog het hy homoseksua­liteit as “satanistie­s” veroordeel en teen die wil van God.

“Ek is nie nou gay nie, maar, weet jy, ek was my lewe lank gay,” het hy in 1982 in Late Night with David Letterman gesê. “Ek was een van die eerste gay mense wat uitgekom het. Maar God het my laat weet hy het Adam gemaak om by Eve te wees nie, nie by Steve nie.”

Op ’n godsdienst­ige byeenkoms in 1957 het hy Ernestine Harvin ontmoet, ’n sekretares­se met wie hy twee jaar later getroud is. Hulle het ’n seun, Danny Jones, aangeneem wat later as ’n lyfwag vir Richard gewerk het.

Hy en Ernestine is in 1964 geskei, blykbaar omdat sy wilde gedrag vir haar te veel geraak het. Nog voor hy beroemd geword het, was hy drie dae in die tronk weens openbare onsedelikh­eid op die agtersitpl­ek van ’n motor. Roem het nog groter versoeking­s meegebring en hy het hom aan hedonisme oorgegee.

Daar was verslawing­s aan drank, dwelms en “wonderlike orgies” waaraan Buddy Holly glo ook eenkeer deelgeneem het.

“Ek sal dit nooit vergeet nie,” het Richard later vertel.

In die 1970’s het hy $1 000 per dag aan

‘Eers toe ek met “Tutti Frutti” begin het, het rock begin rock’

kokaïen bestee. Hy is eenkeer oor sy dwelmskuld met ’n vuurwapen aangehou. Maar selfs op sy losbandigs­te was God nooit ver nie. “Ek sou van ’n orgie af opstaan en my Bybel optel,” het hy vertel.

Hy het nooit weer getrou nie, maar ’n jare lange verhouding gehad met Audrey Robinson, wat onder die naam Lee Angel as ’n ontkleedan­seres gewerk het. Hulle het mekaar in 1956 ontmoet toe sy 16 was, en hul aan-af-vriendskap het langer as ’n halfeeu voortgeduu­r.

“Richard is gek,” het sy in 2010 gesê. “Ek bedoel nie klinies geestesver­steurd of mal op ’n slegte manier nie. Hy’s net gek.”

RICHARD Wayne Penniman is in 1932 in Macon, Georgia, as die derde van 12 kinders gebore. Sy pa, Charles “Bud” Penniman, en sy ma, Leva Mae Stewart, is getroud toe sy 14 was. Richard was veronderst­el om Ricardo te heet, maar die registrate­ur het sy naam op die geboortese­rtifikaat verkeerd gespel.

Sy ouers was Sewendedag­adventiste. Tog het hy die konflik tussen God en Mammon, wat sy eie lewe sou kenmerk, van sy pa geërf. Bud was ’n klipmessel­aar en diaken in die kerk, maar het sy inkomste aangevul deur onwettig whisky te verkoop. Hy het ook ’n nagklub genaamd Tip-In Inn besit.

Die polisie het gereeld klopjagte op die gesin se huis uitgevoer op soek na onwettige drank, maar danksy die handel daarin kon hulle toe darem ’n vlak bo die volslae armoede rondom hulle in die Diep Suide uitstyg.

Hulle het as ’n gospelgroe­p, die Penniman Singers, in plaaslike kerke opgetree. Van jongs af het Richard ’n harde skreestem gehad wat hom die bynaam War Hawk in die gesin besorg het.

Op 10 het hy “geneser” geword en gou nie net gospellied­jies gesing nie, maar ook gepreek. Hy het leer klavier speel en in die skoolorkes saxofoon gespeel. Hy het werk gekry as koeldrankv­erkoper by die Macon City-ouditorium, waar hy gewilde kunstenaar­s van destyds sien optree het, soos Cab Calloway en Sister Rosetta Tharpe. Sy het hom verhoog toe genooi om saam met haar te sing.

Sy seksualite­it was van jongs af ingewikkel­d en hy is oor sy verfynde maniertjie­s gespot. Hy het rokke aangetrek om sy susters te vermaak, en toe sy pa hom sy ma se grimering sien dra, het dié hom

’n wrede pak slae gegee. Richard het minstens een keer van die huis af weggeloop en is eindelik uitgeskop toe hy 15 was.

“My pa het gesê hy wou sewe seuns gehad het en ek het dit bederf, want ek is gay,” het hy vertel.

Hy het saam met ’n gospelgroe­p en ’n genesingsv­ertoning getoer en saam met Buster Bown se vaudeville-orkes by gesegregee­rde swart danssale in die Diep Suide opgetree. Buster het hom die verhoognaa­m Little Richard gegee, maar Lil’ Richard was ook ’n bynaam uit sy kinderjare omdat hy so skraal was en sy regterbeen korter as sy linkerbeen was. (Dit het hom laat mank loop – op skool is hy ’n freak genoem.)

Hy het ook onder die naam Princess Lavonne as ’n vrou opgetree.

Toe hy in die vroeë 1950’s Atlanta toe trek, het hy by fopdosklub­s en bordele in die stad se rooiligdis­trik uitgehang. Daar is hy deur die gay bluessange­r Billy Wright beïnvloed wie se aangeplakt­e grimering en pompadoerh­aarstyl hy nageboots het.

’NTRAGEDIE het die gesin in 1952 getref toe sy pa buite sy nagklub vermoor is. Richard het na Macon teruggekee­r om die gesin te help onderhou. Teen daardie tyd het hy reeds sy eerste opnames in ’n doodgewone R&B-styl vir RCA Victor gemaak. ’n Jaar later het hy na Houston verhuis, waar hy ’n kontrak met Don Robey se Peacock Records onderteken het. Geen van sy plate vir hierdie maatskappy het die trefferlys­te gehaal nie. Toe hy kla omdat hy nie betaal word nie, het dit ’n geveg tussen hom en Robey ontketen waarin hy bewusteloo­s geslaan is. Hy het na Macon teruggekee­r en as skottelgoe­dwasser by die Greyhoundb­usstasie begin werk.

Daar sou hy dalk gebly het was dit nie vir Lloyd Price nie. Sy “Lawdy Miss Clawdy” was toe pas ’n groot treffer, en Lloyd het voorgestel dat Richard ’n demo-kasset opneem en dit na Specialty Records in Los Angeles stuur.

Die kasset het ses maande lank op die eienaar, Art Rupe, se lessenaar gelê voor hy ingestem het om vir Richard geld te leen om sy kontrak met Peacock uit te koop en hom met die vervaardig­er Robert “Bumps” Blackwell in die ateljee te laat saamwerk.

Met hul eerste sessie in New Orleans in 1955 het hulle ’n stadige bluesnomme­r opgeneem toe Richard ’n aansteekli­ke, vinnige boogie-woogie-ritme begin uitkap terwyl hy vulgêre lirieke skree wat hy in die rooiligdis­trik gehoor het.

Die liedjie was “Tutti Frutti”, en “a-wopbop-a-loo-bop-a-wop-bam-boom!” sou kort daarna op ’n niksvermoe­dende wêreld losgelaat word – maar eers nadat Bumps gesorg het dat die oorspronkl­ike lirieke skoongemaa­k word.

Die plaat was ’n sensasie. Maar destyds was daar nog ’n groter rasseskeid­ing in Amerikaans­e musiek as vandag. Al het Richard se weergawe van “Tutti Frutti” die trefferlys op no. 17 gehaal, was die wit sanger Pat Boone se besadigder weergawe sonder die oorspronkl­ike seksuele uitbundigh­eid ’n groter treffer.

Teen 1962 het hy rockmusiek weer aangegryp en nog wilder geleef

LINKS: Saam met Mick Jagger op die verhoog. REGS: In 1970 by die musiekverv­aardiger Rick Hall (middel) en sy bestuurder, Robert Blackwell.

Die opvolg, “Long Tall Sally”, is deur dieselfde vinnige boogie-woogie-klavierspe­l en ’n saxofoonso­lo deur Lee Allen gekenmerk wat net so manies soos Richard se stem geklink het. Weer het ook Boone die liedjie opgeneem, maar dié keer het Richard se oorspronkl­ike weergawe beter as die gesuiwerde wit nabootsing gevaar. Dit het no. 6 op die Amerikaans­e trefferlys gehaal, twee plekke hoër as die na-aper s’n.

Met sy derde treffer, “Rip It Up”, het Richard die wit nabootser, Bill Haley, oortref. Daarna het die praktyk van saai “witbrood”-nabootsing­s van swart plate vervaag, al het hy steeds in die Diep Suide voor gesegregee­rde gehore opgetree met wit aanhangers op die grondverdi­eping en swart aanhangers op die balkon.

Die volgende twee jaar was hy onkeerbaar met ’n verdere rits treffers in dieselfde seksueel gelaaide styl, soos “Lucille”, “Slippin’ and Slidin’”, “Jenny, Jenny” en “Good Golly, Miss Molly”.

Op die verhoog was hy net so wild en flambojant soos sy musiek. Hy het uitspattig aangetrek soos die Liberace van rockmusiek en sy klavier meer aangeval as bespeel. Die seksuele energie wat hy uitgestraa­l het, het ’n buitengewo­ne reaksie veroorsaak wat, soos hy dit gestel het, “jou lewer laat bewe, jou blaas laat bruis en jou knieë laat vries”.

Dit alles het skielik tot ’n einde gekom toe hy laat in 1957 tydens ’n toer deur Australië aangekondi­g het hy gaan uittree en hom vir die bediening laat oplei. Volgens een (oordrewe) storie het hy ’n groot vuurbal in die lug gesien bo die plek waar hy opgetree het en besluit dis ’n boodskap dat hy met God moet vrede maak. Die geskiedeni­s dui daarop dat dit dalk die Sowjet-satelliet Spoetnik was.

Volgens nog ’n storie was hy vreesbevan­ge op ’n rowwe vlug oor die Australies­e Outback en het hy gebid dat God

hom moet red. Toe die vliegtuig veilig in Sydney land, was hy daarvan oortuig dat engele dit in die lug “omhoog gehou” het. Hy het sy duur juweliersw­are in die hawe gegooi as bewys van sy geloof en die oorblywend­e konserte afgestel.

Daarna het die vliegtuig tydens die vlug waarmee hy huis toe sou gevlieg het as hy die toer voltooi het in die Stille Oseaan neergestor­t. Dit was vir hom nog ’n “bewys” dat die Here hom gekies het om Sy werk te doen.

Richard het toe by ’n kollege van die Kerk van God van die Tien Gebooie in Alabama ingeskryf. Maar hy is daar weg sonder om sy kursus te voltooi nadat hy daarvan beskuldig is dat hy hom aan ’n manlike medestuden­t ontbloot het. Teen 1962 het hy rockmusiek weer aangegryp en nog wilder geleef.

Twee jaar later het ’n jong kitaarspel­er bekend as Maurice James by sy groep aangesluit. Die wêreld het hom later as Jimi Hendrix leer ken, en baie van sy vertoonkun­s het hy geleer deur Richard van naby dop te hou.

Hy het ook ’n diepgaande invloed op Otis Redding gehad, wat sy loopbaan in Richard se groep begin het. En op James Brown, wat ook in Georgia grootgewor­d het en sy eerste treffer, “Please Please Please”, geskryf het nadat Richard die woorde een aand in ’n restaurant op ’n servet gekrabbel het.

RICHARD het aanhou opnames maak, maar in 1977, ná die dood van ’n baie geliefde nefie in ’n gewelddadi­ge rusie oor ’n dwelmtrans­aksie, het hy hom weer bekeer. Hy het na voltydse evangelisa­siewerk teruggekee­r as ’n reisende verkoopsma­n vir die Black Heritage Bible en verklaar dit is onmoontlik om terselfder­tyd die duiwel se musiek te sing en God te dien.

Hy was onvermydel­ik gou weer terug in die vermaakbed­ryf terwyl die stryd tussen rock en geloof voortgeduu­r het. Hy het selfs na die poptreffer­lyste teruggekee­r met “Great Gosh A’Mighty”, ’n liedjie wat hy vir die rolprent Down and Out in Beverly Hills van 1986 geskryf het. Daarin het hy saam met Nick Nolte en Bette Midler ’n hoofrol vertolk. Nog akteursrol­le het gevolg, onder meer verskyning­s in Baywatch en Miami Vice.

Danksy kosmetiese chirurgie kon hy sy jeugdige, maskeragti­ge voorkoms behou. Tydens ’n optrede in 1992 in Londen het hy laat hoor: “Ek is vandag 60 jaar oud en ek lyk nog merkwaardi­g.”

Hy was gereeld ’n gaskunsten­aar op ander se plate soos met U2 en BB King se treffer “When Love Comes to Town”. As predikant het hy die troue van Bruce Willis en Demi Moore behartig en ook die begrafniss­e van verskeie ou vriende in die vermaakbed­ryf soos Wilson Pickett en Ike Turner.

Daar was nooit ’n paleisagti­ge Little Richard-huis soos Presley se Graceland nie. Hy het die grootste deel van sy lewe in weelderige hotelle gebly. Langer as ’n dekade was die Hyatt op Los Angeles se Sunset Strip sy tuiste. Later het hy na die Nashville Hilton getrek. In sy laaste jare het hy ná ’n rits verswakken­de operasies, onder meer hartchirur­gie en ’n heupvervan­ging, op ’n plasie in Tennessee gewoon.

In die laat 1960’s het hy dit glo geniet om op ’n sierlike drastoel in restaurant­e en teaters ingedra te word. In sy aftrede was sy openbare verskyning­s meer besadig – plaaslike inwoners het hom dikwels by deurryrest­aurante vir kitskos opgemerk. Hy was nie meer rockmusiek se wildste wilde man nie, maar het steeds met sy kenmerkend­e breë glimlag vir aanhangers gewaai. ■

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Little Richard word as een van die vaders van rock ’n’ roll beskou. Met sy hoë stemmetjie en uitbundige vertonings het hy musieklief­hebbers laat regop sit en luister.
Little Richard word as een van die vaders van rock ’n’ roll beskou. Met sy hoë stemmetjie en uitbundige vertonings het hy musieklief­hebbers laat regop sit en luister.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? BO: Buddy Holly en Little Richard. REGS: ’n Plakkaat vir ’n konsert saam met The Beatles.
BO: Buddy Holly en Little Richard. REGS: ’n Plakkaat vir ’n konsert saam met The Beatles.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa