MY EIE WONDERWÊRELD
Marianne se verbeelding was allesbehalwe ingeperk toe sy tydens die krisistyd haar vierverdiepingpophuis gebou het
DIS nie sommer enige miniatuurpophuis nie; dis ’n kunswerk. Dié vierverdiepinghuis is byna 2 m lank, meer as 1 m hoog en spog met 15 volledig gemeubileerde vertrekke – alles in die Victoriaanse styl. En wanneer ’n mens dit van naderby bekyk, sien jy die besonderhede: ’n goue kandelaar met sy kersie, ’n kaggel in die musiekkamer, ’n spieël teen die slaapkamermuur, koperketels én ’n gesnyde brood in die kombuis, ’n riempiesbank en selfs ’n klein naaimasjien.
Die naam? Corona House 2020. Dis immers danksy die coronaviruskrisis dat die huis vandag hier in haar sitkamer staan, vertel Marianne Basson (64). Toe die regering aan die einde van Maart die inperking aankondig, het Marianne, wat op die Vrystaatse dorpie Bethulie woon, vinnig ’n plan beraam om besig te bly.
“Niemand sal ooit my verbeelding kan inperk nie. Ander word ingeperk, maar ek het vrye teuels!” sê sy.
Die idee vir die pophuis is egter al vroeg vanjaar gebore toe die coronavirus nog net anderkant ons land se grense versprei het. Sy het in haar garage na ’n stuk PVC-plafonpaneel staan en kyk – dié het oorgebly ná herstelwerk aan haar huis.
“Toe dink ek: Maar jy kan mos eendag sommer ’n pophuis word?”
Met die aanbreek van die inperkingstyd het Marianne begin bou – vyf weke lank, sommige dae tot agt uur per dag, tot haar rug weens ’n ou werwelprobleem te seer raak.
Dit gons op die dorp oor haar pophuis, maar dis nét hare, niemand anders s’n nie, sê sy beslis.
“Nou die dag bel iemand my van iewers af en sê hy sal my R35 000 gee daarvoor, toe sê ek nee. Hierdie een gaan ek nie verkoop nie. Dit is my eerste pophuis, en dit is historical. En wat as ’n nuwe eienaar dit vir hul kinders gee om mee te speel? Dit gaan mos breek, man.”
TOE die planne eers opgetrek is, moes Marianne heel eerste “’n massiewe klomp Bostik” by die dorpswinkel gaan koop om die huis aanmekaar te sit. “Toe sê die man hy kan nie soveel aan my verkoop nie, want dit is lockdown en dis is nie ’n medical essential nie.
“Maar ek sê vir hom: ‘As jy my nou kranksinnig wil sien, moet jy my dit weier, want dit is vir mý ’n essential.’ Eindelik is ek met R600 se gom daar uit.”
Omdat sy nooit iets sommer weggooi nie, het sy heelwat boumateriaal vir haar projek gehad. Dit wat sy nie gehad het nie, het sy by die dorpswinkel gekry. Krale wat aanmekaargeplak is, het tafelpote of ’n swierige afwerking vir traprelings en deure geword. Uit klei het sy ’n piepklein
brood en vrugte gevorm. Die meubels is uit roomysstokkies gebou, en prentjies uit tydskrifte het ’n raam gekry en skilderye geword. En daardie knoop? Dit sal mos perfek werk as ’n bord!
Toe was dit tyd vir die binnenshuise versiering: Stukkies lap, kwilt, gordynhake, geskenkpapier en ornamentjies is ingespan om die prentjie af te rond.
So ’n swierige huis moet mos inwoners ook hê: In die musiekkamer sit ’n porseleinman en -vrou, en kyk mooi: Daar woon ook drie katte en ’n hond (almal van klei gemaak) in Corona House 2020.
Wanneer sy nou voor haar pophuis sit, begin stories daarbinne afspeel, sê Marianne.
“Ek was as kind al stil en eenkant – en het myself teruggetrek in my eie fantasiewêreld waar feetjies, dwergies en drakies in my kop ’n lewe van hul eie gekry het.”
Sy het weer lewe in die einste kindertydkarakters geblaas en ’n kinderboek oor van hulle geskryf – A Magic Voyage het verlede jaar as e-boek verskyn – maar sy het nog nooit iets kunstigs gebou nie.
Op hoërskool op Vredenburg in die Wes-Kaap het Marianne wel by haar pa,
Hermias, leer houtwerk doen, en sy kon van dié vaardighede nou inspan.
Ná skool het sy “hier en daar en oraloor in die land” gewerk – onder meer as ’n hulpverpleegster, ’n toergids op ’n volstruisplaas, ’n administratiewe klerk by die polisie, ’n joernalis en ’n fotograaf.
“As iets my nie uitdaag nie, dan raak ek verveeld,” verduidelik sy.
In 1994, toe sy 39 jaar oud was en in Pretoria gewoon het, is borskanker by haar gediagnoseer en moes sy ’n dubbele mastektomie kry en sewe maande chemoterapie ondergaan.
“Toe staak die dokters dit, want hulle kan niks meer vir my doen nie, het hulle gesê,” onthou Marianne.
Hermias en haar ma, Joan, het toe in Rustenburg gebly en summier besluit om op te pak en met Marianne na Oviston, ’n klein dorpie naby Bethulie, te verhuis sodat hulle hul dogter daar kon versorg.
“Ek dink hulle het my soontoe gevat sodat ek op die platteland kan doodgaan,” sê sy. “Maar toe besluit ek ek gaan die kanker agter my sit. Ek is te beneuk om dood te gaan.”
Sy het nog gereeld Bloemfontein toe gegaan en in 2000 die goeie nuus gekry dat die kanker in remissie is – wat vandag steeds die geval is.
AL WIL Marianne nie dié pophuis verkoop nie, dink sy sy sal wel eenvertrekpophuisies op bestelling bou. “Maar dan doen ek dit op my eie tyd,” sê sy. “Ek is nie een vir deadlines nie.” Haar volgende projek is hoeka ’n eenvertrekmodel. “Hy gaan so 1 m lank wees. Dit is ’n regte Old English Pub waarin daar lekker gekuier word.”
Wanneer Marianne na haar skepping sit en kyk, verdwyn sy weer soos kleintyd in haar eie wêreld. “Dit is ’n wonderwêreld waar jy weer ’n kind sonder probleme word. Dan begin stories binne daai huis afspeel. Die mannetjie en vroutjie wat in die musiekkamer sit, kry lewe. Hulle luister saam na musiek en gesels met mekaar. Hulle het nie kanker nie en hulle het nie rugpyn nie.”
En het dié tweetjies tydens die inperking al vasgesit?
Marianne lag. “Nee, ek het nog nie ’n fight tussen hulle gesien nie.” ■