Huisgenoot

SO SÉÉR OOR DIE BERG TUSSEN ONS

’n Hartgebrok­e Dozi maak oop oor die vrou wat hy geglo het Die Een is, maar vir wie hy nie kon wees wat sy wou hê nie

-

Deur CARLA COETZEE Foto’s: LUBABALO LESOLLE

HY HET al baie gehuil. Daar is steeds dae dat hy soggens wakker word met trane in sy ysblou oë. Die reus van oor die 2 m lank, die man met die hees rasperstem wat hom een van die bekendste sangers in die land gemaak het, is nie skaam om te erken sy hart is gebreek nie.

“Dit is die seerste seer wat ek nog gehad het,” sê Dozi oor sy derde huwelik wat ná skaars ’n jaar van die getroude lewe in ’n doodloopst­raat beland het.

Die skor stem klink mismoedig. “Ek het vas geglo this is it, maar ek kon net nie wees wie sy wil hê nie.”

Hy praat van Kim Viljoen (29), die pragtige blonde eiendomsag­ent van die Pretoriase spogbuurt Waterkloof met wie hy in Desember 2018 ná ’n warrelwind­romanse getroud is. Dan verduideli­k die 56-jarige sanger hier op die voorstoep van sy huis op ’n kleinhoewe op Hartbeespo­ort: “Ek is die ou wat kaalvoet Menlyn toe gaan. Ek sal wegkwyn as jy my in ’n huis in Bryanston of Waterkloof sit.”

Vir die eerste keer sedert Kim aan die begin van Januarie sak en pak hier weg is, vertel Dozi – oftewel Henk Opperman – in ’n eksklusiew­e onderhoud met Huisgenoot van sy hartseer oor die drome oor ’n toekoms saam met haar wat nou nooit sal waar word nie.

“Ek weet hoe dit lyk. Ek sien die comments in die sosiale media: ‘Hou op die jong bokkies vat.’ Maar ons ouderdomsv­erskil het niks met dié uit te waai nie,” hou hy vol.

“Ons wou verskillen­de dinge hê. Ek sou happy wees om onder ’n olienhoutb­oom saam met haar te bly. Vir my was die liefde genoeg.”

Sy groot hande vryf oor mekaar. Sy vingers is geswel van ure aaneen se kitaar speel. Kort nadat Kim hier weg is, het hy sy nuwe album, Vrede, opgeneem.

“Daar is vier van die songs op die album – Kim gaan hulle hoor en weet ek het dit vir haar geskryf. ’n Mens hoor die rou emosie . . .”

Hy bly ’n oomblik stil voor hy byvoeg: “Maar alle snyplekke heal. Ek was en is glad nie kwaad nie. My hart is net seer. Ek gun haar geluk; obviously soek sy iets meer as ek, en ek kan dit nie vir haar gee nie.”

HIER by die gesellige huis met sy kaggel wat in ’n klipmuur ingemessel is, is daar vandag geen teken van die fyn blondine wat byna ’n jaar gelede met Huisgenoot se vorige besoek knus onder Dozi se arm ingekruip het nie. Toe was hulle maar ses maande getroud en nog smoorverli­ef.

Nou is al teken dat ’n vrou eens op ’n tyd hier nesgeskop het ’n ligblou ontwerpers­ketel in die kombuis.

“Dit het ewe skielik gebeur. Ons het nog heeltyd gepraat van kinders hê.”

Dan skud hy sy kop. Hulle het nog groot planne gehad vir ’n Maandag ’n paar maande gelede, maar toe kom hul

‘Ek sou happy wees om onder ’n olienhoutb­oom saam met haar te bly. Vir my was die liefde genoeg’

le nooit daarby uit nie. “Sy is die Sondag hier weg . . .”

Sy oë skiet vol trane, en hy vee dit stadig met die agterkant van sy groot bruingebra­nde hand af.

Hy kyk uit oor die grasperk, waar hy gedroom het “tjokkers sou rondhol”. Hy’s reg om weer pa te word, het die gryskopsan­ger verlede Julie aan Huisgenoot gesê. En Kim het vertel hoe goed hulle mekaar

– hy vir wie alles om musiek draai en sy met haar sake-ervaring wat toe die bemarking en bespreking­s vir sy optredes en ook sy kuier-en-eetplek, Back to the Roots, hier op sy kleinhoewe behartig het. Hier tree Dozi en ander kunstenaar­s Sondae op.

“Ons is teenoorges­teldes; tog dieselfde,” het Kim destyds gesê.

Maar nou lyk dit of die verskille tussen hulle ’n berg geword het soos die een waaroor Dozi in sy treffer “Tussen jou en my” sing.

Mense na aan die egpaar het vroeër aan Huisgenoot gesê Kim het aan Dozi ’n ultimatum gestel: Óf hulle trek van die kleinhoewe weg óf sy pak haar goed. Sy het glo onveilig daar gevoel.

Maar Dozi het te diep hier wortelgesk­iet. Hy woon al 35 jaar op die kleinhoewe, en benewens Back to the Roots het hy ook ’n intieme kuierplek, Blues Bar, hier geopen wat hy deesdae verhuur.

“Kan jy dink ek moes nou, tydens lockdown, in ’n huis in Waterkloof gesit het?” vra hy en vroetel aan die grys mussie op sy kop. “Ek sou mal geraak het! Hier kan ek en my werkers groente plant, ek kan musiek maak en my eie hout gaan kap. Dit inspireer my.

“Ek is nog altyd die ou wat eerder saam met die bergies sit en gesels as die mense wat Porches ry. Ek is ’n sagte mens. Al wat ek vra, is dat mense my aanvaar soos ek is,” sê hy en haal sy skouers op.

In die inperking het sy seun, Storm (23), wat in Kaapstad musiekprod­uksie studeer, by hom kom woon. “Ek en Storm het aande om gepraat. Oor hoe dit my derde huwelik is wat faal en wat ek geleer het. Ons het tot die gevolgtrek­king gekom dat alles gebeur soos dit moet.”

Storm is uit Dozi se eerste huwelik met die internasio­nale model Tanya Metelerkam­p gebore. Hulle is in 1999 ná ’n huwelik van drie jaar geskei. In 2007 het hy weer voor die kansel gestaan – saam met Muriel Lategan, ’n blonde sjef van Mooraanvul

‘Ek is nog altyd die ou wat eerder saam met die bergies sit en gesels as die mense wat Porches ry’

reesburg, byna 20 jaar jonger as hy. Maar ná net 15 maande het sy tweede huweliksbo­otjie ook op die rotse beland.

Daarna het hy meer as 10 jaar lank vir die liefde lig geloop tot Kim, weer ’n veel jonger blondine, sy voete onder hom uitgeslaan het. Binne ’n maand was hulle verloof en binne ses maande het hulle ’n swierige bruilof by die Pretoria-buiteklub gehou.

“Ek het op ons derde date hier by die Blues Bar vir haar gesê daar is twee dinge benewens my familie waarmee jy nie neuk nie: my musiek en my zol. Ek rook nog altyd, veral wanneer ek skryf,” sê hy reguit.

Mense na aan hom het gekla hy het verander nadat hy Kim ontmoet het. “Ek is ’n sucker vir die liefde. Ek verloor myself heeltemal daarin. Ek word totaal deur emosie gedryf, en al wat ek dan wil doen, is daai persoon gelukkig hou. En ek het probeer; die Here hoor my,” sê hy.

Hy sê hy is innig dankbaar vir die steun van Storm en vriende soos die sanger Jannie Moolman en sy vrou, Melissa-Jo, en Theuns Jordaan in die moeilike tyd.

“Theuns het my soveel keer gebel die afgelope maande. Dan vra hy: ‘Dozer, hoe gaan dit in jou kraal?’ ’’ sê Dozi terwyl hy Theuns se diep stem namaak. Maar dan sluk hy swaar en sy lip bewe effens terwyl hy die trane probeer keer.

“Dan praat en praat ons en dan tel ek weer my kitaar op.”

Nadat Kim hier weg is, het Dozi dag en nag aan sy nuwe album gewerk. Hy is trots daarop. “Dis real. Dis rou en dis ek.”

Waarom noem hy dit Vrede? “Ek het die naam gekies, want dis al waarna ek smag – vrede.” Hy tel ’n kitaar op en begin ingedagte die snare tokkel.

Op 27 Junie hou hy ’n gratis aanlyn konsert vir sy aanhangers om die aanlyn uitreiking van sy nuwe album te vier. Dit is van 29 Mei beskikbaar.

“Ek wil nie eendag net vir ‘Ou ryperd’ onthou word nie,” sê hy oor een van sy grootste treffers. “Ek is meer as dit.” En die liefde?

“Miskien het ek ’n hippie nodig wat net heeldag wil kaalvoet loop en saam zol rook; ek weet nie. Maar trou? Ek dink nie daar gaan ’n volgende keer wees nie, en as daar is, sal ek vir seker weet. Ek sal dan maar eerder elope, maar eintlik is ek klaar. Ek gaan nou net daarop fokus om myself happy te maak.

“Ek gaan ophou geluk soek. Ek weet nie; miskien is ek net té anders, te free spirited, vir dié wêreld.” ■

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO en REGS: In ’n openhartig­e onderhoud praat die sanger Dozi die eerste keer oor sy derde huwelik wat ná skaars ’n jaar skipbreuk gely het.
HOOFFOTO en REGS: In ’n openhartig­e onderhoud praat die sanger Dozi die eerste keer oor sy derde huwelik wat ná skaars ’n jaar skipbreuk gely het.
 ??  ?? LINKS: Dozi en Kim is in Desember 2018 getroud. ONDER: Nadat Kim sak en pak weg is, het hy dag en nag aan sy nuwe album gewerk.
LINKS: Dozi en Kim is in Desember 2018 getroud. ONDER: Nadat Kim sak en pak weg is, het hy dag en nag aan sy nuwe album gewerk.
 ??  ?? Dozi sê hy is ’n “sucker” vir die liefde, maar dat hy vir eers net daarop fokus om homself gelukkig te hou.
Dozi sê hy is ’n “sucker” vir die liefde, maar dat hy vir eers net daarop fokus om homself gelukkig te hou.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa