NÉT HOOP IN DIE STORM
Jo Black en sy gesin kén van swaarkry en sien die inperkingsnood as ’n kans om oor te begin
WEG is alles – elke plan wat hy met soveel omsigtigheid uitgelê het; elke droom wat hy so lank gekoester het. En ja, selfs die baard. Verby is dit met al die “ou dinge” – dalk selfs met die ou Jo Black . . . Sy skip vaar – nes die een waarvan hy in sy trefferliedjie “Skepe” sing – in stormwaters.
Dis asof die horlosie teruggedraai is – terug na die tye toe hy elke sent moes omdraai; toe hoop ál was wat hy met hom saamgedra het.
Hy betwis dit nie: Dit ís ’n onseker tyd, sê die gewilde sanger. Maar onbekend? Helaas nie.
Daarom kan nie eens die coronaviruspandemie Jo (38) van alle hoop ontneem nie – al tree hy weens die inperking al drie maande lank nie meer op nie.
“Hoe ironies dat die lirieke van my eie liedjies meer as drie jaar later nou meer betekenis dra as ooit vantevore,” sê hy oor die afgelope klompie uitdagende weke.
Maar dan haal hy aan uit “Bring die hoop weer terug”, een van sy ander liedjies: Daar’s ’n oorlog hier binne my / Dis vir jou wat teen jouself baklei / Ek sê vir jou jy is goed genoeg / So, bring die hoop weer terug.
Hy dink diep na en sê dan: “Eintlik het ons destyds meer as net hoop gehad. Maar nou, in hierdie tye, is hoop wérklik al wat ons het.”
Jo nooi ons vandag met ’n video-oproep tot in die agtertuin van sy huurhuis in Pretoria-Noord. Hy en sy vrou, Debbie (34), en hul kinders, Dinieke (11) en Miané (8), is al meer as drie maande lank hier saam in afsondering.
Hulle het geen ander keuse gehad nie. Die seldsame kawasaki-siekte is in 2018 by Miané gediagnoseer. Dit is ’n nieoordraagbare toestand wat inflammasie in die bloedvate veroorsaak en die hart kan aantas of die dood kan veroorsaak. Vir haar kan die coronavirus dodelik wees.
“Ons moes álles in ons vermoë doen om haar te beskerm,” sê Debbie.
Die pandemie het ook in sý lewe kom verwoesting saai, erken Jo. Hy verdien geen inkomste noudat groot geleenthede en sosiale byeenkomste verbied is nie. Sy besprekings – wat tot so ver as Desember gestrek het – is van die baan.
Voor die coronakrisis het Jo byna 365 optredes per jaar gehad, maar weens die inperking tree hy nou al drie maande lank nie op nie.
Selfs sy Heroes Anonymous-app, wat hy gehoop het skoolboelies in hul spore sou stuit, is “useless” terwyl skole meestal leeg bly. Die geld wat in die ontwikkeling van die app gestort is, is nou eers op ys.
Hy’s kaal gestroop, sê Jo. En hy verwys nie net na sy bekende baard wat hy laat waai het nie.
“Klink die situasie mismoedig? Dis nie. Ek’s nie terneergedruk of bekommerd nie. Want dis eenvoudig: As God ons nie vanjaar dra nie, sal dit die eerste keer ooit wees.”
En wie weet wat hieruit gebore sal word . . .
“My baard het gewaai omdat die afsondering vir my ’n kans was om oor te begin. Ek wou weet: Wat bly oor wanneer die baard, die naam en die kitaar weg is? Net ek. ’n Mens kan weer geld maak, selfs al stap ons bankrot hier uit. Maar nou is mense belangriker as enigiets. Om saam te staan, om lief te hê, om om te gee. Dís ons doel.”
JY SAL hom nie sommer hoor mor nie – nie vir Jo Black nie. Toe hy nog net ’n onbekende Engelbrecht was, voor hy sy musiekdeurbraak onder sy verhoognaam gemaak het, moes hy soms van aalmoese leef. Hy het selfs ’n slag sy eie kitaar verkwansel om vir sy meisiekinders Kersgeskenke te koop.
“Ons is deur erger; ons ken daardie struggles,” sê hy.
En die tydelike opofferings wat hy nou maak, is vir hom niks teenoor die uitdagings van daardie moeilike tyd nie. “Dis die reine waarheid. Ek kan steeds ’n kitaar optel en sing. Ons woon in ’n wonderlike huis; daar is ’n spens vol kos. God het nog altyd gesorg – deur elke storm en ondanks elke onsekerheid.”
Toe die sanger met die diep stem in 2018 sy baard afgeskeer het vir ’n nekoperasie, het sy aanhangers die kaalgeskeerde aantreklike man as Suid-Afrika se eie George Clooney beskryf. ’n Mens kan die ooreenkoms met die beroemde Hollywood- ster nou weer skaars miskyk hier waar hy voor jou op die skerm gesels.
Jo was veronderstel om nou op ’n sakebesoek in Los Angeles, Kalifornië, te wees, waar hy met invloedryke sakemanne oor die uitbreiding van sy liefdadigheidswerk sou praat – en niemand anders nie as George Clooney sélf sou daar wees.
“Ek reken iemand het vir hom gesê sy doppelgänger loop hier in Suid-Afrika rond. Hy wou my ontmoet om te praat oor die liefdadigheidsprojekte – en die kaartjie was reeds bespreek. Maar toe kom die coronavirus.”
Die planne is darem nie heeltemal van die baan nie, sê Jo. “Ons sal seker weer daaroor gesels wanneer dinge terugkeer na normaal. En wanneer ek hom ontmoet, gaan ek vir hom sê: ‘Hei, George – weet jy mense sê jy lyk soos Jo Black?’ ” Hy en Debbie lag.
Vir die egpaar was hul soortgelyke humorsin nog altyd een van die dinge wat hulle deur moeilike tye kon dra.
‘God het nog altyd gesorg – deur elke storm’
Hulle terg mekaar gemaklik. Soos wanneer Jo met oë wat vonkel vertel: “Ek het in hierdie tyd besef hoeveel jare lank Debbie eintlik al vir my jok. Sy kán kook – sy wil net nie.”
Sulke ligte oomblikke en haar ondersteuning was nodig toe hy hoor hy gaan nie meer kan optree nie. “Dink jou dit in: Jy staan in ’n bus. Daar’s nie vir jou sitplek nie. En skielik stop die bus – en daar’s nie vashouplek nie . . . Jô, dis wild, hoor.
“Die een dag doen jy byna 365 shows per jaar. Die volgende sit jy vasgevang tussen vier mure. Dit vat aan jou.”
Dan raas hy hardop met homself. “’n Mens mag nie kla nie. Ek vra myself: As hierdie ding mý raak, hoe raak dit iemand wat van hand tot mond leef?”
Maar hul vrese oor die virus eis ’n emosionele tol, want hulle het boonop die bykomende vrese oor Miané se gesondheid. Mediese spesialiste het ’n paar weke gelede ’n hartsonar op Miané gedoen en is tevrede met haar vordering, vertel Debbie en Jo. Maar hulle móét versigtig bly wees.
Hulle het nie die “luukse” om uitmekaar te val nie, sê Debbie reguit. “Ons het
’n verantwoordelikheid om sterk te staan. Vir ons kinders, ja, maar ook vir al die mense saam met wie Jo daagliks werk. Dis nie altyd maklik nie; ons kry dit nie elke dag reg nie – natuurlik beleef ons albei op- en afdae. Maar dis nooit op dieselfde tyd nie. Die een dra die ander wanneer hy hartseer voel,” sê sy.
Ja, daar ís sulke dae, sê Jo dan.
“Ek kan nie vir jou verduidelik hoeveel versoeke van fans ek daagliks aanlyn kry nie. Een vra ’n boodskap vir ’n geliefde wat deur ’n moeilike tyd gaan; ’n ander vra ’n video vir haar man wat sy werk kwyt is.
“En soms, net soms, dink ek: Maar ek het self nie nou bemoedigende woorde nie. Ek self voel droewig. Ek wil óók daardie boodskap hoor.”
Hy het daarom “verpligte verlof gevat” van Jo Black, sê hy. En dis tóé dat die baard weer waai.
“Ek het 35 jaar lank dinge gedoen soos ek wou. En toe kom die deurbraak, en dis ’n enorme seën waarvoor ek so lank gewerk het. Maar skielik is soveel aspekte van my lewe oop vir bespreking. Soos: Moet die baard waai of nie?
“Dís wat my tot hier gebring het. Wie is Jo sonder die baard; sonder die kitaar? Ek wou seker maak ek hoor nog God se stem. Ek wou nooit hê ’n baard moes my definieer nie – ek wou nooit op ’n punt kom dat ek sou treur oor die verlies van so iets nie,” sê Jo.
“Ek moet bieg: Ek weet nie of ek hom weer gaan laat groei nie. Veral nie as dit iets is wat belangriker word as die groter prentjie nie. Maar dis alles deel van die dinge wat ek nou vir myself uitpluis – dankie tog God het ons tyd gegun daarvoor.”
OOK die toekoms is vol onsekerhede, erken Jo. Sy Pretoriase restaurant, The Bearded Butcher, se deure is sedert die begin van die inperking gesluit, en hulle weet nog nie of die onderneming weer uit die puin gaan kan opstaan nie. Hy moes boonop teen dié tyd al aan die ateljeeopnames vir sy derde album gewerk het.
“Ek sê vir Debbie: Ons het al voorheen van sop en genade geleef – en oorleef. En dis nie nou die geval nie, maar ons sal weer kan.”
“Dis tog al wat geld: dat ons mekaar het,” sê Jo. “Want nou is die welstand en psige van mense soveel belangriker as geldmaak. Ons maak groot opofferings, ja, maar God se plan is veel groter. Groter as enigiets wat ons verloor en groter as enigiets wat ons kon droom.”
En dis aan dié hoop wat hulle vasklou, dieselfde hoop waaroor Jo in sy liedjie “Skepe” sing: Die storms en die winde sal waai / Hys jou seile hoog, want een of ander tyd moet die tyding draai.
“Ek het anderdag vir Debbie gesê ek gaan die wêreld verander,” vertel Jo. “Maar nie met my musiek nie. Met dinge wat mense se lewe verander – iets wat eggo tot in die ewigheid.
“Hoe? Ek weet nie. Maar een ding weet ek seker: Ek maak planne, en eindelik is God in beheer. So nou sit ek geduldig terug en wag op die grootste wat Hy nóg vir my gemaak het.” ■
‘Wie is Jo sonder die baard; sonder die kitaar? Ek wou seker maak ek hoor nog God se stem. Ek wou nooit hê ’n baard moes my definieer nie’