KUNS WAT LÉWE
Dié egpaar het werke van meesters vir foto’s herskep met net huis-items
AL BEKOOR die kunswerke van skilders soos Vincent van Gogh, Pablo Picasso en Leonardo da Vinci hulle al jare lank, het twee kunsliefhebbers nooit daarvan gedroom dat hulle dit eendag sou naboots nie. Maar dit was voor die inperking. Toe die mure van hul huis in Plumstead, Kaapstad, Frans Marais (52) en sy vrou, Karen Germishuys (48), begin vasdruk, het hulle kreatiwiteit tot ’n nuwe vlak gevoer.
Terwyl die ou meesters destyds met olie- en waterverf kunswerke geskep het, benut dié twee alles wat hulle in hul huis in die hande kan kry – van swartsakke en foelie tot pruike, wasgoedpennetjies, toiletpapier, vadoeke, besems en ’n vuvuzela. Dit word gerangskik om ’n toneel na te boots wat in ’n skildery afgebeeld is en dan vir die 2020-weergawe afgeneem.
“Ons het dit as ’n lekker projek beskou; iets wat ons gedagtes ’n bietjie kan aflei,” vertel Karen, ’n chemiese ingenieur, van die dag in die inperking toe hulle op die internet begin rondsnuffel het.
“Ons het op die Instagramblad Tussen Kunst & Quarantaine afgekom, waar mense van oor die hele wêreld ’n kunswerk kies en dit naboots met net dit wat t in hul huis is.
“Jy mag ook nie foto’s met ’n rekenaarprogram manipuleer nie,” sê Frans, ’n videograaf.
Op 8 April het hulle hul eerste herskepte kunswerk, die skilder Édouard Manet se Die tragiese akteur, op Instagram geplaas. Min het hulle toe geweet die foto’s wat aanvanklik net hul vriende se oë laat rek het, sou gou kunsliefhebbers wêreldwyd laat regop sit.
Teen druktyd het hulle reeds 50 skilderye herskep. ’n Franse tydskrif en die nuusagentskap NBC News in New York het hulle al genader. Twee van hul kunswerke het die 12 bestes gehaal wat in ’n wêreldwye uitdaging van Tussen Kunst & Quarantaine aangewys is. Dit word tot 13 Junie in die middestad van Los Angeles op reklameborde ten toon gestel.
“Dit laat ’n mens nederig voel,” sê Frans. “Ons het nooit dié soort belangstelling verwag nie. Dit was eintlik net my en Karen se redding om deur die inperking te kom. Maar kuns raak almal, maak nie saak waar jy in die wêreld is nie. Dit praat met mense.”
SOOS baie Suid-Afrikaners Suid-he-Afrikanerst het Frans en Karen die inperking positief aangepak. Hulle het gedink dit sou hulle die kans gee om alles by die huis te doen waarvoor hulle nooit tyd het nie. Maar toe alles op hul doenlysie afgemerk is en die inperking voortsleep, het hulle ál meer vasgekeer gevoel.
“Oral was die nuus net negatief. In die koerante, op die televisie en in die sosiale media het jy net gelees en gehoor van COVID-19,” vertel Frans in ’n videoonderhoud aan Huisgenoot.
“Ons moes aan iets dink om positief te bly,” sê Karen. Toe hulle op die internet op die idee afkom om kunswerke vir
foto’s fot te herskep, het dit hul kreatiwiteit vlerke vle laat kry.
“Ons het eers besluit om net een skildery te doen,” sê Frans. Maar vriende wat dit op Facebook en Instagram gesien het, was gaande daaroor.
En toe mense van oor die wêreld – van Amerika, Rusland, Litoue, Frankryk en die Maledive – laat weet hul kunsherskeppings is ’n ligpunt in hul dag, het Frans en Karen besluit om aan te hou.
Die egpaar, wat saam ’n videografieonderneming bedryf, gebruik professionele toerusting vir die regte beligting. En wanneer albei vir ’n foto moet poseer, span hulle die kamera se tydskakelaar in.
Die kunswerke wat die ou meesters weke of maande geneem het om te voltooi, herskep hulle binne een tot vyf uur.
Hul tweeslaapkamerhuis is hul ateljee en hulle het reeds elke ruimte daarbinne en -buite vir die skilderye gebruik. Die houthuisie in die tuin het hulle al ingerig om soos die treinkompartement te lyk in die Duitse skilder Berthold Woltze se kunswerk Die lastige kavalier.
“Ons huis is al onderstebo gedraai net om die regte foto te neem,” sê Karen. “Ons skuif ons meubels, prop die ligte uit en krap al ons ou kostuums uit wat ons oor die jare iewers gekry het.”
Toe hulle vir een herskepping ’n kat nodig gehad het, moes een van hul drie miniatuurschnauzers maar kietsie se plek inneem. En ’n vuvuzela moes al in ’n ander kunswerk as trompet dien.
Vir Frans is dit geen probleem om sy gesig te grimeer en in ’n balletrokkie te poseer nie – alles in ’n poging om ’n skildery volmaak vir ’n foto te herskep.
Hulle vier vanjaar hul 16de huweliksherdenking en vertel die projek het hulle nuwe waardering vir mekaar gegee.
“Ek is eintlik baie skaam,” vertel Karen. “Die enigste manier dat ek ooit so iets sou doen, is saam met Frans in ons huis. Dan gee ek nie om of ek vet lyk, oor my dubbelken en of my oë moeg lyk nie.”
En Frans vertel sy vrou gee hom nou van voor af “vlinders in my maag. Dis wonderlik om te sien hoe sy uit haar gemaksone gaan en elke dag ’n ander karakter word, maar dit bly steeds sy. Ons is ’n match made in heaven.” ■