VLIEGTUIGSTREPE
Lea klim van haar daktent af, strek haarself lank uit. Sy kyk op in die lug. Blou so ver die oog kan sien. Sy verstaan dit nie. Dit is al langer as ’n week dat sy geen vliegtuie gewaar nie. Die wit strepe in die lug was vir haar ’n bewys dat die bekende wêreld steeds draai. Dis net sy wat vir ’n oomblik afgeklim het.
Sy het vir elke vlug se passasiers stories uitgedink, ’n bestemming verbeel. Op elke vlug was minstens een persoon wie se lewe ook uitmekaargeruk is. Dit het getroos.
Die oggend toe sy van die huis af weg is, het sy nie ’n plan gehad nie. Sy het net gery. Nou sit sy in die middel van die SentraalKalahari in Botswana, omring van lug en horison. Dalk moes hulle nie altyd berge toe gegaan het nie. Dalk moes hulle soms op ’n vlakte gaan sit het, waar ’n mens alkant toe kan kyk en vliegtuigstrepe met jou praat.
Daar is geen logiese rede waarom die strepe weg is nie.
Sy maak ’n blikkie geroomde mielies oop en skep ’n bietjie op ’n kraakbeskuitjie. Gedurende die twee maande wat sy hier kamp, was hier nie baie ander kampeerders nie, maar sy het darem elke week iemand gesien. Soms het hulle net verbygery. Ander kere ’n nag of drie naby haar gekamp. Sommige het vir haar van hul vars produkte gegee. Noudat sy daaraan dink, kan sy nie onthou wanneer laas sy ’n voertuig of mense gesien het nie.
Het die vliegtuie en die voertuie op dieselfde tyd verdwyn?
Dalk moet haar volgende boek ’n verhaal wees oor ’n vrou wat een oggend in ’n postapokaliptiese wêreld wakker word en nie besef sy is die enigste mens op aarde oor nie. Sy twyfel nog oor die bestaan van ruimtewesens, maar iets anders kan dalk die mense uitgewis het. Wetenskaplikes waarsku al lank teen die wangebruik van antibiotika. Dit veroorsaak blykbaar superkieme. Sy glimlag toe sy wonder wat haar uitgewer sal sê.
Die aand in die tent dink sy weer aan haar distopiese verhaal. Dis tyd om huis toe te gaan. Haar verbeelding werk weer. Sy kan haarself terug in haar bekende wêreld sien. Sy voel selfs sterk genoeg om haarself op een van daardie stralervliegtuie te verbeel. Italië was nog altyd op haar wenslys.
Sy vertrek die volgende môre voor sonopkoms. Die pad is verbasend stil. Selfs op die teerpad gewaar sy geen ander voertuie nie.
Toe sy heelwat later ’n man op ’n fiets gewaar, stop sy byna om hom te omhels. Sy is toe nie die laaste een oor nie.
Dis laatmiddag toe sy die dorp binnery. Hier en daar ry ’n motor. Die bestuurders dra gesigmaskers. ’n Paar mense stap langs die straat. Net hul oë is sigbaar agter gesigmaskers. Teen die deur van ’n gastehuis sê ’n plakkaat dis gesluit vir besigheid. By elke oornagplek waar sy stop, wag dieselfde boodskap. Sover sy kan sien, is net ’n kruidenierswinkel oop. Sy stop en stap na waar mense in ’n ry voor die winkel staan. Almal is gemasker. Toe sy nader kom, sien sy hulle is gespasieer, elkeen op ’n kruis op die sypaadjie. ’n Werker van die winkel stap in die ry af en spuit die een of ander middel op almal se hande nadat hul temperatuur gemeet is.
Wat is op hierdie dorp aan die gang? Waaraan het haar verbeelding onwetenddie lewe geskenk, en hoe ver strek die gevolge van die apokalips?
Het sy te lank stilgestaan en ’n ander wêreld het haar ingehaal?
Wat het van die vliegtuie geword?