Huisgenoot

SY SPYT KOM TE LAAT VIR HAAR

-

Ek is lank getroud en ons het jong kinders. My man is ’n bombasties­e beheervraa­t en het my deur die jare emosioneel verniel. Ek het hom daarvoor vergewe, maar het ’n paar jaar gelede ’n emosionele verhouding met ’n ander man aangeknoop toe ons huwelik sy laagste punt bereik het. My man het hiervan uitgevind en toe sy sokkies opgetrek. Hy het ten goede verander, maar my emosies vir hom is dood. Ek kan hom nie soen nie en moet myself sielkundig voorberei om intiem met hom te kan verkeer. Ek voel my kinders is al rede waarom ek nog hier is. Hy is ’n baie goeie pa en versorger. Hoewel hy baie lief vir my is, voel ek diep binne hartseer en ongelukkig. Is hierdie huwelik op die rotse?

J op L

Soms is jammer nie goed genoeg nie. Al het hy ook verander, gaan jou herinnerin­gs aan die tyd toe jy seergemaak is nie oornag verdwyn nie. Met trauma is dit makliker om te vergewe as om te vergeet.

Party wonde is so diep dat dit veel meer as ’n paar jaar neem om te genees. Wanneer ’n mens onder ’n emosionele wreedaard deurgeloop het, is jou vertroue in hom meestal geskend. Jy sal dan nie die kans wil waag om weer ’n pad saam met hom te loop nie.

Onderdrukt­e seer en woede kan ’n mens ook afgestomp laat voel.

Om te verstaan, te vergewe en te versoen, moet ’n mens stilstaan by die pyn en daardeur werk. Die mure om jou gaan nie vanself verbrokkel nie. Met ’n berader se leiding kan jy dalk ’n keuse maak of jy alleen moet aangaan met jou lewe of hard wil werk om weer harmonie in jou huwelik te vind. Met die laasgenoem­de keuse sal julle saam ’n huweliksbe­rader moet spreek.

Kinders is sensitief vir wat tussen hul ouers gebeur. As hulle vermoed of weet jy bly net om hul onthalwe in die huwelik, kan dit ’n swaar las vir hulle word om te dra. Daarom is dit wys om vir berading te gaan om jou eie en jou gesin se onthalwe.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa