Huisgenoot

Suid-Afrika se rentekoers

-

DIE Suid-Afrikaanse Reserweban­k het ons repokoers in Mei die derde keer vanjaar verlaag. Die repokoers is nou 3,75% – die laagste in 47 jaar.

Maar wat ís die repokoers, en wat beteken ’n verlaging?

Wat is die repokoers?

Die repokoers is ’n spesifieke soort rentekoers. ’n Rentekoers is hoeveel rente ’n mens betaal om geld by iemand te leen. As ’n bank sê jy kan geld by hulle leen teen ’n rentekoers van 10%, beteken dit jy moet vir elke R100 wat jy leen nog R10 terugbetaa­l.

Suid-Afrikaanse banke soos Absa, Standard Bank, FNB, Nedbank en Capitec leen hul geld by die Reserweban­k – dis ons land se sentrale bank en sy hoofdoel is om ons geldeenhei­d te bestuur en ons ekonomie stabiel te hou.

Die rentekoers wat die Reserweban­k vir ander banke vasstel, word die repokoers genoem. Die Reserweban­k maak dit dus goedkoper of duurder vir handelsban­ke om by hulle geld te leen as

hulle die repokoers verlaag of verhoog, en op dié manier bepaal hulle hoeveel geld in Suid-Afrika beskikbaar is.

Watter invloed het ’n laer repokoers?

Die rentekoers wat gewone banke vasstel, is gekoppel aan die repokoers. As die repokoers verlaag – en dit goedkoper word vir die banke om geld by die Reserweban­k te leen – word dit ook goedkoper vir Suid-Afrikaners om by hul bank geld te leen. As die repokoers verhoog, het banke meer geld nodig om die Reserweban­k te kan betaal en vra hulle dan ook meer van mense wat by hulle geld leen.

As jou ma-hulle geld by die bank geleen het om jul huis of motor te koop, beteken ’n laer repokoers dat hulle minder per maand aan die bank hoef terug te betaal.

’n Laer rentekoers is egter nie vir almal goeie nuus nie: ’n Mens verdien ook rente vir geld wat jy in die bank in rekenings soos ’n vastedepos­itorekenin­g belê het. As die bank se rentekoers vir dié rekeninge verlaag, verdien jy minder rente en groei jou spaargeld stadiger.

Dis veral sleg vir mense wat van hul pensioenge­ld leef as dié geld in ’n rekening lê wat rente verdien. Dit beteken dit groei nou stadiger en gaan nie so lank hou soos hulle dalk gedink of beplan het nie.

Hoekom het die Reserweban­k dit nou verlaag?

Die inperking weens die coronaviru­spandemie het ’n groot impak op ons ekonomie. Ondernemin­gs wat moes toemaak, het baie geld verloor en party gaan dalk vir altyd moet sluit.

Sommige ondernemin­gs wat nog oop is, kan nie hul werknemers soveel betaal soos voor die pandemie nie.

Dit beteken baie meer SuidAfrika­ners gaan werkloos wees of minder verdien as voorheen.

Deur die repokoers te verlaag wil die Reserweban­k die lewe ’n bietjie makliker maak vir mense met skuld – as hul maandeliks­e terugbetal­ings aan hul bank ’n bietjie minder is, het hulle meer geld beskikbaar om op kos en ander dinge uit te gee. As iemand meer geld in hul sak het om kos en klere te koop, is dit weer goed vir die winkels.

’n Laer rentekoers by die bank maak dit ook aanloklike­r vir mense om geld by die bank te leen.

Dit kan beteken dat iemand dalk ernstiger oorweeg om ’n nuwe motor te koop as voor die rentekoers­verlaging – en elke motor wat gekoop word, is weer goed vir die motorbedry­f en almal wat daarin werk.

Ondernemin­gs sal ook moontlik makliker ’n lening kry om weer aan die gang te kom, wat ook goed vir ons ekonomie sal wees. Dit is waarvan kenners praat as hulle sê die ekonomie kry ’n hupstoot.

 ??  ??
 ??  ?? Lesetja Kganyago, presidentv­an die SA Reserweban­k.
Lesetja Kganyago, presidentv­an die SA Reserweban­k.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa