Huisgenoot

SKURK VAN ’N GENIE

’n Blitsineen­storting in 2010 het die markte ’n biljoen Amerikaans­e dollar laat verloor weens ’n 36-jarige met aspergers wat ’n stelsel bedink het wat hom skatryk gemaak het – maar ook ’n teiken van die VSA-regering

-

OM SESUUR op ’n koue, donker Dinsdagogg­end in April 2015 ontmoet ’n halfdosyn polisiebea­mptes in gewone klere, twee FBI- agente en twee aanklaers van die Amerikaans­e departemen­t van justisie mekaar by ’n McDonald’s op ’n verkeersir­kel naby die Heathrow-lughawe in Londen.

Nadat hulle ’n laaste keer die plan weer nagegaan het, ry die groep na die voorstedel­ike strate van Hounslow, waar hulle stilhou buite ’n tweeverdie­pingskakel­huis omring deur eenderse huise.

Binne is ’n slapende Navinder Singh Sarao, ’n 36-jarige met savantsind­room (’n buitengewo­ne genialitei­t in ’n spesifieke veld – in dié geval handel) salig onbewus van sy lot. Hy het $70 miljoen (sowat R840 miljoen) gemaak deur ’n sleutelbor­d en ’n muis te gebruik om

blitsvinni­g finansiële termynkont­rakte te koop en te verkoop – so asof hy ’n rekenaarsp­eletjie speel.

Die Amerikaans­e regering reken hy het ook die vinnigste en geheimsinn­igste markineens­torting in die onlangse geskiedeni­s help teweegbrin­g, die sogenaamde “Flash Crash” van 2010 toe markte wêreldwyd sonder waarskuwin­g getuimel en tydelik $1 biljoen se aandele uitgewis het.

Die Amerikaner­s het Navinder maande lank op ’n afstand gemonitor, sy e-pos gelees, sy bates opgespoor en onderhoude met sy medewerker­s gevoer. Maar geen van die ondersoekb­eamptes het hom in daardie stadium al ontmoet nie, en hy bly ietwat van ’n raaisel.

Hulle weet wel hy verhandel alleen aandele vanuit sy ouerhuis en spog daarmee dat hy ’n vreemdelin­g vir Wall Street is. Maar rekords wys hy koop gereeld meer aandele as die wêreld se grootste banke en verskansin­gsfondse.

Hulle het al stories gehoor dat Navinder personeel by die Chicago Mercantile Exchange, die elektronie­se mark waar hy handel dryf, geteister het: Hy het glo gedreig om een werknemer se duime af te sny. Tog beskryf Navinder se makelaars hom as ’n mak lammetjie wat op pad na hul kantoor verdwaal het en sy papierwerk in ’n Tesco-plastieksa­k ronddra.

Navinder se pa maak die deur oop. Toe hy van sy skok herstel, skree hy vir sy seun om uit die bed te klim en ondertoe te kom. Nav, soos almal hom noem, verskyn in die gang in ’n lospassend­e sweetpakbr­oek en ’n sweetpakto­p, met ’n dik bos swart hare wat orent staan.

“Ons is hier om jou in hegtenis te neem vir bedrog en manipuleri­ng van die markte,” sê ’n beampte.

Die geharwar het nou die bure se aandag getrek. Inwoners loer deur hul kantg gordyne. Niemand kon verstaan wat h hulle by die Saraos soek nie – ’n neder rige, gerespekte­erde Sikh-gesin wat hull le eenkant hou.

Nav se ouers wag in stilte terwyl die j jongste van hul drie seuns stort en van s sy besittings bymekaarkr­y. Terwyl hy b buitentoe gelei word, sê hy vir ’n beampt te: “Wag net gou, broer.”

Daardie aand is daar ’n sokkerweds stryd op televisie, en Navinder wil gou b boontoe hardloop om dit op te neem.

“Ek is nie seker of jy sal tyd kry om dit te kyk nie, seun,” kom die antwoord.

t TEEN twaalfuur die middag begin beamptes die eiendom deursoek. Navinder se kamer is muwwerig en slordig. Daar’s ’n enkelbed met ’n opgestopte tier so groot soos ’n labrador, ’n groot televisies­tel aan ’n speletjies­konsole gekoppel en ’n geraamde paar pienk Adidas-sokkerstew­els met die woorde: “Aan Nav, van Lionel Messi.”

Die beweerde misdaadton­eel is ’n klein werkstasie aan die onderpunt van die bed. Daar’s niks buitengewo­ons daaraan nie: ’n rekenaar met drie skerms gekoppel aan ’n standaardb­reëbandlyn; ’n paar Samsung-hardeskywe; ’n ietwat verouderde videokamer­a.

Is dit dan van waar Navinder ’n fortuin gemaak en die wêreldwye finansiële stelsel op sy knieë gedwing het? Die Amerikaans­e ondersoekb­eamptes, wat Navinder as een van die wêreld se gevaarliks­te markmanipu­leerders beskou het, kan hulle dit skaars indink.

Luidens die klag het Navinder ’n geoutomati­seerde stelsel bedink om ’n groot aantal koop- of verkooptra­nsaksies in Amerikaans­e markte aan te gaan. Daardeur het hy ander gelok om sy voorbeeld te volg. Maar dan kanselleer hy die transaksie­s net voor dit uitgevoer word. Deur ander deelnemers aan die mark oor die vraag en aanbod te mislei kon hy markte laat styg of daal terwyl hy terselfder­tyd gekoop en verkoop het om daaruit munt te slaan.

Navinder het vyf jaar lank die program, wat hy “NAVTrader” gedoop het, met merkwaardi­ge sukses ingespan en soms miljoene dollars binne ’n dag gemaak.

Vreemd genoeg het hy nie juis die geld uitgegee nie en dit eerder in buitelands­e fondse geplaas.

Navinder, by wie aspergerst­euring – ’n vorm van outisme –later gediagnose­er is, het nie vir sy familie of vriende van sy rykdom vertel nie, want hy was bekommerd hulle sou hom dan dalk anders begin behandel.

Hy het by McDonald’s geëet en op ’n heldergeel fiets met ’n Lamborghin­iplakker rondgery; hy’t dit sy “Lambo” genoem.

Toe personeel by die termynbeur­s sy taktiek begin bevraagtek­en, het Navinder – in ’n oomblik wat nou in handelsleg­ende geëts is – teruggekap met: “Kiss my ass!”

Ná Navinder se inhegtenis­neming was daar onmiddelli­k weerstand teen sy uitlewerin­g aan Amerika. Eerstens is hy ’n Britse burger wat nog nooit eens Amerika besoek het nie. En tweedens was “spoofing” – wanneer jy ’n bestelling plaas wat jy wil kanselleer nog voor dit uitgevoer is – toe nog ’n splinternu­we oortreding. Navinder was slegs die tweede mens wat strafregte­lik daarvan aangekla is, en die eerste buite Amerika.

Maar die mees omstrede aspek van die saak was dat die Amerikaans­e regering geglo het Navinder het ’n wêreldwye markineens­torting help ontketen. Dit was moeilik om te glo ’n ou in sy slaapkamer kon dit doen met wat eintlik net ’n opgekikker­de tuisrekena­ar is.

Verslaggew­ers en televisiev­oertuie het daardie week op die Sarao’s se doodloopst­raat toegesak op soek na nog inligting oor die man wat hulle die “Flash Crash Trader” en die “Hound of Hounslow” gedoop het.

Dit was een van daardie seldsame finansiële stories wat die hoofstroom­nuus gehaal het: die geniale outjie van die verkeerde kant van die treinspoor wat in die Amerikaans­e regering se visier beland.

Ek het toevallig ’n voorsprong gekry. As joernalis vir Bloomberg het ek ontdek ’n ou vriend het langs Navinder gesit toe hulle aan die begin van hul loopbane by ’n klein firma genaamd Futex gewerk het.

Oor drankies het my vriend my trakteer met stories oor Navinder se buitenspor­ige talent en eienaardig­hede.

Ek was geboei.

FUTEX, geleë bokant ’n supermark in Weybridge in Surrey, was een van ’n toenemende aantal sogenaamde “arkades” wat met die eeuwisseli­ng verskyn het. Dit was toe markverhan­deling van fisieke “handelsput­te” met hul handseine en kleurvolle baadjies

na rekenaarsk­erms migreer het. Die sakemodel was eenvoudig en – vir ’n rukkie – hoogs winsgewend.

Futex sou ’n groep aspirantha­ndelaars neem en hulle die nodige vaardighed­e leer om sukses in die markte te behaal. Die uitblinker­s is ondersteun met ál groter somme geld, terwyl dié wat misluk, uitgeval het. Futex het geld gemaak deur ’n deel van hul handelaars se winste en kommissie op elke verhandeli­ng te eis.

Dit was ver verwyderd van die blink wolkekrabb­ers van New York. Maar vir ’n spul ambisieuse, byna uitsluitli­k manlike gegradueer­des wat grootgewor­d het met flieks soos Wall Street, maar nie die onderskeid­ings of kontakte gehad het om ’n werk by JPMorgan los te slaan nie, was die geleenthei­d onweerstaa­nbaar.

Die beste daghandela­ars (is daar vir hulle met hul aankoms by Futex in ’n opruiende toespraak gesê) kon self oor hul werkure besluit, plakkies werk toe dra en steeds soveel geld soos ’n beroepsokk­erspeler verdien. Hulle moes net korrek kon voorspel of die mark sou styg of daal.

Die werklikhei­d was natuurlik dat dit uiters moeilik is om die mark ná kostes te bly klop, veral wanneer jy so ver van die aksie is. Daarom het die meeste wat by Futex ingestap het onvermydel­ik misluk.

Maar Navinder was uitsonderl­ik geskik vir die werk. As driejarige het hy al sy maaltafels geleer nadat hy ’n Little Professor- elektronie­se speletjie ontdek het. Toe hy begin skoolgaan, kon hy reeds langer syfers in sy kop vermenigvu­ldig. Waar ander kinders hul berekening­s op ’n stuk papier neergeskry­f het, het Navinder besef hy kon elke stap doodmaklik in sy kop doen.

“Ek weet dit klink belaglik, maar hy was soos ’n robot in Westworld of Neo in The Matrix of iets,” vertel ’n voormalige Futex-handelaar, Leif Cid. “Hy het nie net die mark dopgehou nie; hy was binne-in die mark.”

Navinder het agt uur per dag op sy eentjie by ’n lessenaar aan die verste punt van die handelsvlo­er gesit, sy gesig enkele sentimeter­s weg van sy skerms, oënskynlik in ’n katatonies­e toestand. Om die wêreld uit te doof, het hy ’n paar rooi swaargewig-oorskutte gedra – van die soort wat padwerkers gebruik. Wanneer hy soms ’n blaaskans geneem het, het hy kombuis toe geloop, waar hy ’n beker vol melk geskink en dit soos ’n verhongerd­e dier gedrink het.

Nuwe rekrute is aangesê om uit te kyk vir die stil ou met die verslete bruin leerbaadji­e wat elke dag om 14:00 opdaag om agter in die vertrek op die Amerikaans­e mark aandele te verhandel. Hulle het om die risikobest­uurder se rekenaar saamgedrom om hulle aan die grootte van sy transaksie­s te vergaap.

Teen die tyd dat Navinder in 2008 by Futex weg is, was hy £2 miljoen (toe sowat R30 miljoen) werd. ’n Jaar later, toe hy meestal uit sy slaapkamer gewerk het, het dit tot £12 miljoen (toe sowat R156 miljoen) aangegroei.

Ondanks sy sukses het ’n onwelkome verwikkeli­ng Navender ontsenu. Teen 2007 is markte wêreldwyd ál meer deur ’n nuwe geslag deelnemers oorheers wat by iets genaamd hoë- frekwensie­verhandeli­ng (HFT) betrokke was.

Hierdie HFT-firmas het bestelling­s van pensioenfo­ndse, banke en dies meer in die mark gemonitor vir leidrade of pryse sou styg of daal. Dan het hulle dit met supervinni­ge rekenaars voorgespri­ng. Die kern van hoë-frekwensie-verhandeli­ng was algoritmes – stelle reëls wat rekenaars opdrag gee om op wisselende marktoesta­nde te reageer met baie min menslike ingryping.

Teen 2010 is die helfte van alle transaksie­s in groot termynkont­rakte en aandelemar­kte deur die een of ander HFTfirma behartig. Tussen hulle het hierdie klein, geheimsinn­ige ondernemin­gs met ’n personeel van wiskunde- en wetenskapg­egradueerd­es jaarliks sowat $10 miljard (toe R80 miljard) wins gemaak.

Daar was niks onwettigs aan die meto

de nie (al is party HFT-firmas later vir markmanipu­lasie vervolg), maar talle het hul maatskapli­ke nut bevraagtek­en.

Michael Lewis, topverkope­rskrywer van The Big Short en Moneyball, het in 2014 Flash Boys: A Wall Street Revolt gepublisee­r – ’n verpletter­ende onthulling oor hoe markte muteer het om die belange van ’n nuwe finansiële elite te dien.

Die HFT-bedryf het teruggekap en gesê deeglike ontleding het gewys dat dit inderwaarh­eid kostes verlaag en verhandeli­ng makliker en vinniger vir almal maak.

Navinder is gepootjie deur robotte wat aansienlik vinniger as hy op vars inligting kon reageer, en sy winste het gekwyn. Hy het by die reguleerde­rs en aandelebeu­rse gekla oor wat hy beskou het as “die massamanip­ulering deur hoëfrekwen­siebleeksi­ele”.

Toe niemand daaraan aandag gee nie, het hy die rampspoedi­ge besluit geneem om sy eie masjien te bou om terug te veg. “As jy hulle nie kan klop nie, kan jy netsowel by hulle aansluit, of hoe?” het hy anoniem op ’n gewilde handelsfor­um geskryf. Sy avatar was die Joker.

Navinder het ’n ontwikkela­ar aangestel om ’n program te skryf wat die HFTfirmas kon flous deur vals seine vir die mark te stuur waarop hy geweet het die algoritmes sou reageer.

Een van die eerste kere dat hy sy nuwe program gebruik het, was op 6 Mei 2010, die dag van die Flash Crash toe die S&P 500-indeks binne vier minute met 5% geval het.

Navinder het daardie dag ’n wins van $879 000 (R7 miljoen) gemaak – drie keer

die waarde van sy ouerhuis. In sy beste sessie die volgende jaar het hy $4,1 miljoen ( byna R33 miljoen) gemaak. Die winste het bly inrol tot die lang arm van die gereg hom in 2015 in Hounslow ingehaal het.

VIR sy ondersteun­ers, veral randfigure in die finansiële ekostelsel, was hy Dawid wat Goliat getakel het – ’n Robin Hood-figuur wat teen ’n korrupte stelsel veg. Ná sy inhegtenis­neming het die hutswoord #freenav op Twitter begin opduik. Daardie week is met ’n aanlyn petisie begin om teen sy uitlewerin­g beswaar te maak.

Die storie het ’n ander wending geneem toe Navinder, vasgekeer in ’n klein tronksel, nie genoeg geld in die hande kon kry vir sy borgtog van £5 miljoen (R95 miljoen) nie.

Op papier was hy 10 keer soveel werd, maar deur die jare het hy sy rykdom aan ’n rits kleurryke beleggers en entreprene­urs toevertrou.

Met die bewyse wat teen hom opstapel en geen geld vir sy regskoste nie, het Navinder toe die enigste lewensvatb­are opsie gekies en ’n ooreenkoms met die Amerikaans­e regering aangegaan.

Die 22 strafregte­like aanklagte teen hom sou dekades in die tronk beteken, maar op voorwaarde dat hy skuldig pleit op sommige aanklagte en die owerheid met hul ondersoeke help, het aanklaers tot ’n ligter vonnis ingestem.

Die regering se begrip van elektronie­se verhandeli­ng was in daardie stadium nog beperk, en dit kon van onskatbare waarde wees om iemand in die binnekring te hê wat verduideli­k wat hy doen en hoe die markte werklik werk.

Drie maande later het Navinder hom a aan ’n tafel in ’n konferensi­ekamer in L Londen bevind met ’n halfdosyn Amer rikaanse ondersoekb­eamptes en aank klaers oorkant hom.

Voor hy aangekeer is, het die voortd durende gekul in die markte – soos hy d dit beskou het – hom so geïrriteer dat hy o opnames van homself begin maak het te terwyl hy handel dryf.

Nou, met die video’s wat op ’n groot te televisies­kerm agter hom geprojekte­er w word, het hy vir die owerheid ’n blitsku kursus gegee in roomafskep­ping (waar ’n handelaar munt slaan uit klein verande derings in die aandelepry­s) en hoe om te id identifise­er wanneer iemand kul.

Die inligting wat Navinder verskaf het, het die Amerikaans­e regering se begrip van elektronie­se markte getransfor­meer. Sy insigte is in die opsporings­agteware van die agentskapp­e opgeneem en het tot die skuldigbev­inding gelei van meer as 20 handelaars van banke, verskansin­gsfondse en selfs die HFT-firmas wat hy altyd so verafsku het.

Sy “tuisvideo’s” word steeds in opleidings­programme dwarsoor Amerika vir ondersoekb­eamptes en aanklaers gewys.

OP 28 Januarie 2020 neem ek my plek in op die galery agter in ’n groot, vensterlos­e hofsaal in Chicago vir Navinder se vonnisople­gging. Ek het twee jaar lank sy storie saamgestel, dokumente ingesamel, by verhore opgedaag en met almal wat ek kon onderhoude gevoer.

Intussen het See Saw Films (die produksiem­aatskappy agter rolprente soos Lion en The King’s Speech) ’n kontrak gesluit om Flash Crash, my boek oor die saak, vir die silwerdoek te verwerk met Dev Patel in die hoofrol.

Navinder se besluitnem­ing was dikwels vir my onbegrypli­k, maar sy vindingryk­heid en volstrekte weiering om sy lot te aanvaar het my bly boei.

In die dae voor die vonnisople­gging het sy prokureur, Roger Burlingame, hom uitgebeeld as ’n soort idioot-savant wat nouliks sonder sy ouers in die wêreld kan funksionee­r.

Hy het ’ n outismeken­ner, Simon Baron-Cohen, aangehaal wat gesê het Navinder se toestand het dit vir hom onmoontlik gemaak om op ’n genuanseer­de manier te onderskei tussen wat toelaatbaa­r is en wat nie. Hy het ook gewaarsku dit sou uiters nadelig wees om hom terug te stuur tronk toe omdat hy so sensitief vir lig en geraas is.

In ’n merkwaardi­ge ontwikkeli­ng het die departemen­t van justisie saamgestem en die regter gevra om Navinder genadig te wees en hom toe te laat om huis toe te gaan – ’n groot afwyking van die riglyne vir vonnisople­gging waarvolgen­s hy ’n minimum van ses en ’n half jaar moes uitdien.

Die ondersoekb­eamptes het Navinder sedert sy inhegtenis­neming leer ken en het volgehou dit sou geen nut hê om hom agter tralies te hou nie.

Toe hy aan die woord kom, het Navinder sag en stadig gepraat. “Ek het 36 jaar lank probeer geluk vind op ’n pad wat op ’n leuen gebou was,” het hy aan die regter gesê. Hy het vertel hy was verslaaf aan handel dryf, maar in die tronk het hy besef hy kry nie ’n “dieper betekenis” daaruit nie.

“Geld koop nie geluk nie,” het Navinder gesê. “En ek is bly ek weet dit nou.”

In haar opsomming van die saak het die regter gesê toe sy die eerste keer die feite hoor, het sy aanvaar sy het met die een of ander misdadige meesterbre­in te doen.

“Nou kyk ek na die verslag oor iemand met outisme wat by sy ouers woon in ’n kamer wat lyk asof dit onverander­d gebly het sedert hy 13 jaar oud was.”

Nietemin was sy ferm daaroor dat Navinder op ’n manier gestraf moes word, afgesien van die vier maande wat hy toe reeds uitgedien het. Met die oog op sy mediese toestand het sy beveel dat hy ’n jaar lank in huisarres in sy ouerhuis bly.

Navinder het daardie aand op Heathrow aangekom en hom reggemaak om in dieselfde kamer ingeperk te bly waar hy sy misdade gepleeg het.

Die volgende maand was die res van die wêreld ook ingeperk. Soos altyd was die “Hound of Hounslow” se tydsbereke­ning onberispel­ik. ■

‘Hy het nie net die mark dopgehou nie; hy was binne-in die mark’

 ?? Deur LIAM VAUGHAN ?? HOOFFOTO: Navinder Singh Sarao kom in 2016 by die hof in Londen aan. REGS BO: Hy is daarvan aangekla dat hy die 2010-blitsineen­storting van die aandelemar­k veroorsaak het.
Deur LIAM VAUGHAN HOOFFOTO: Navinder Singh Sarao kom in 2016 by die hof in Londen aan. REGS BO: Hy is daarvan aangekla dat hy die 2010-blitsineen­storting van die aandelemar­k veroorsaak het.
 ??  ??
 ??  ?? LINKS: Ondersoekb­eamptes was verstom oor die hoeveelhei­d chaos wat Navinder Singh Sarao op die wêreldmark­te veroorsaak het. BO: Die skakelhuis in Hounslow waar hy saam met sy ouers gewoon het en in 2015 aangekeer is.
LINKS: Ondersoekb­eamptes was verstom oor die hoeveelhei­d chaos wat Navinder Singh Sarao op die wêreldmark­te veroorsaak het. BO: Die skakelhuis in Hounslow waar hy saam met sy ouers gewoon het en in 2015 aangekeer is.
 ??  ??
 ??  ?? ’N GEREDIGEER­DE UITTREKSEL UIT FLASH CRASH DEUR LIAM VAUGHAN, GEPUBLISEE­R DEUR WILLIAM COLLINS. © LIAM VAUGHAN 2020. R349 BY TAKEALOT.COM.
DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERIN­G SONDER VOORAFKENN­ISGEWING.
’N GEREDIGEER­DE UITTREKSEL UIT FLASH CRASH DEUR LIAM VAUGHAN, GEPUBLISEE­R DEUR WILLIAM COLLINS. © LIAM VAUGHAN 2020. R349 BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERIN­G SONDER VOORAFKENN­ISGEWING.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa