DIE TESTAMENT
Rudie van Rensburg
Albertus loer by die deur uit. In die verte pluim donker wolke die lug in. Die wind wat plotseling opgekom het, pluk met sterk, onstuimige vlae aan die dak. Hy maak die deur toe. Hierdie virus het die planeet op sy kop gekeer. Die wind het nog nooit só in Mei getier nie.
Dan eers sien hy die papiertjie op die vloer. Hy tel dit steunend op. ’n Nota van suster Jacobs dat sy hom
later vanoggend kom besoek. Natuurlik gedink hy slaap nog toe sy vroegoggend hier by sy huis verbygekom het op pad na die kliniek. Albertus frons. Hy weet wat sy vir hom gaan sê. Hy sal net volstrek weier. Hy blaas g’n sy laaste asem in ’n hospitaal uit nie.
Op pad badkamer toe moet hy eers in die gang stilstaan. Die hoesbui trek hom krom en sy asem ruk by sy keel uit. Sy bors brand toe hy orent kom.
In die badkamer beskou hy homself in die spieël. Die virus het sy stempel op sy gesig nagelaat. Sy wange is ingesonke, donker kringe onder sy oë. Hy maak die kraan oop, hou ’n bakhand en spoel die water oor sy voorkop. Dit loop kronkelend in sy vel se leivore teen sy wange af. Oplaas skeur hy sy oë los van sy spieëlbeeld en vee sy gesig droog. ’n Kort, krampagtige intrekking van sy asem lui nog ’n hoesbui in.
Met gekromde skouers stap hy kuggend kamer toe en syg op die bed neer. Die virus takel hom nou teen ’n spoed af. Elke vesel in sy liggaam pyn.
Met ’n uitgestrekte hand haal hy die vel papier van sy bedkassie af. Gelukkig het hy gisteraand al sy testament uitgeskryf. Hy lees dit weer deur. As oujongkêrel het hy nie familielede of goeie vriende vir wie hy meevallers kan uitdeel nie. Hy moes hard dink hoe sy erflating aangewend moet word.
Hy glimlag. Ná sy dood sal hy eindelik erkenning kry. Hy sal nie bloot as die nukkerige ou kluisenaar onthou word nie. Mense sal verbaas staan oor sy mededeelsaamheid. Die nuus behoort die voorblad van die Record te haal. Hy hoop hulle gebruik daai foto van hom toe hy in die 1980’s ’n skou
(Blaai om)