Huisgenoot

Kortverhaa­l: “Nagmerries”

Cari kry die een opdrag ná die ander terwyl die land onder ’n vlaag moorde gebuk gaan

- Deur RONEL MOSTERT Illustrasi­e: MICHAEL DE LUCCHI

CARI sluit die kluis in haar kamer toe. Die frons op haar voorkop wyk. Sy gaan tap ’n bad water en skink vir haar ’n gin-en-tonic. Sy is moeg. Regtig tot die dood toe moeg. In die vroeë oggendure skrik sy wakker. Natgesweet. Dieselfde nagmerrie. Leila, haar tweelingsu­ster, is dood. En sy kon dit nie keer nie.

Dan volg die roetine. Eers ’n koue stort. ’n Warm koppie koffie en daarna die gim. Sy oefen twee uur en ry dan na die koffiekroe­g in Ryneveldst­raat op Stellenbos­ch.

Terwyl Cari haar cappuccino roer, vang die nuusleser op die skerm teen die muur haar oog. “Die lyk van Hugo Delport is vanoggend vroeg teen die hang van Tafelberg aangetref. Die moontlikhe­id bestaan dat hy gegly en hom doodgeval het. Sy vrou en familie was nie beskikbaar vir kommentaar nie.”

Dit is die kelner wat eerste praat. “Ek weet nie hoekom die mense daai berg wil klim nie. Daar is mos ’n cable car wat tot bo hardloop.”

Cari kyk stip voor haar.

“Is alles nog oukei? Hoe lyk daai foam- besigheid of dit dan kan koud wees?”

Sy keer vinnig toe die kelner die cappuccino wil vat. “Nee, los. Dis fine.”

“Skuus, ek wou nie pla nie.” Hy draai om en loop afgehaal na die toonbank.

Cari kry skaam vir haar optrede. Hy verdien dit nie. Sy sluk haar cappuccino vinnig weg, los ’n R100-noot op die tafel en stap uit. Sy wil by die huis kom en gaan slaap.

Sy het skaars haar voordeur oopgesluit toe haar selfoon lui. Sy antwoord dadelik toe sy Dewyk se naam op die skerm sien. Slaap is haar beslis nie nou beskore nie. Sy sit haar rekenaar aan en begin worstel met haar volgende opdrag. Dis eers teen skemer dat sy die rekenaar se klap toeslaan. Dewyk was aanvanklik huiwerig met die opdrag. Het meer as een keer gevra of sy kans sien. Maar hy weet as sy eers ingestem het, kan hy op haar reken. Hulle werk nie verniet al vyf jaar saam nie. Sy druk vinnig ’n klaargemaa­kte ete in die mikrogolfo­ond, gryp ’n vurk en gaan krul met die tinfoelieb­akkie op die bank op.

CARI spring regop toe haar selfoon se wekker lui. Sy moes op die bank aan die slaap geraak het. Sy hardloop na die eetkamerta­fel en maak die raasbek vinnig stil. Dis toe dat sy die gekrap aan die agterdeur hoor. “Luna! Wat maak jy hier? Sy tel die kat op en druk haar styf teen haar lyf vas. Weet tannie Jakkie jy loop rond? Kom ek vat jou terug.”

Cari sit koponderst­ebo op die bankie in tannie Jakkie se tuin. Die ander begrafnisg­angers is nog in die huis besig om hul hartseer met ’n koppie tee en ’n broodjie weg te spoel. Cari huil al baie lank nie meer nie, maar vandag kan sy nie die trane keer wat teen haar wange afrol nie. Tannie Jakkie bly al meer as 30 jaar oorkant die huis wat sy van haar ouers geërf het. Haar skielike dood het Cari onkant betrap. Sy was miskien oud, maar blakend gesond.

’n Hand op haar skouer laat haar omkyk. “Ek is jammer om te pla. My naam is Stefan. Tannie Jakkie is my pa se suster. Jy is?”

Cari vee haar nat gesig met die agterkant van haar hand af. Skielik skaam omdat sy huil. “Jammer! Ek is Cari. Ons

is . . . was . . . tannie Jakkie se bure. Sy en my ma was besties.” “Besties?”

“Beste vriendinne.”

“O, ek verstaan.”

“Ek is jammer oor tannie Jakkie. Dit is ’n groot skok. Dit moet vir jou pa nog 10 keer erger wees.”

“Ja, hy vat dit sleg . . . Ek ook.”

“Ek het nie geweet haar broer het kinders nie. Sy het altyd net vir hom gaan kuier.”

“Ek is die enigste seun. Was lank oorsee.”

Voor Cari daarop kan reageer, lui haar foon. Dis Dewyk. Sy verskoon haarself en stap terug huis toe. “Dewyk, ek is op dit.”

“Ek het niks van jou gehoor nie. Hoe moet ek weet wat aangaan as jy skielik nie kommunikee­r nie?

“Hulle het by die tannie oorkant die straat ingebreek. Hulle het haar en haar hond met Aldicarb vergiftig. Dit was vandag haar begrafnis.”

“Is jy oukei?”

“Ja, soort van.”

“Jy kon my net laat weet het. Is jy seker jy sien kans vir die projek? Tyd loop uit.”

“Ek is jammer. Dinge het so vinnig gebeur. Wat die projek betref, ek het mos gesê ek is op dit. Het ek jou al ooit in die steek gelaat?”

“Nee, jy het nie. Ek is jammer. Ek check net. Pas jouself op.”

“Jip.

ARI vee haar grimering af. Die maskara het ’n swart streep onder haar een oog gemaak. Sy sit nog van die voggies op die watte en herhaal die proses. Die blik wat uit die spieël na haar terugkyk, lyk oud. Daar is donker kringe onder haar oë. Sy staan op, neem die sak op haar bed en sluit dit in die kluis toe.

Sy gaan tap vir haar badwater en skink ’n gin-en-tonic.

Ná nog ’n nagmerrie oor Leila volg die gewone oggendroet­ine. Sy kom eers weer tot rus by die koffiekroe­g in Ryneveldst­raat. Dit is dieselfde kelner wat haar bedien. Hy herken haar dadelik.

“Hel, Juffrou, dankie vir daai heavy tip van nou die dag.”

“Dis ’n plesier.”

“Soek jy weer toast met roereiers en een van daai foam- besighede?”

“Jy onthou goed. Dankie, dit sal lekker wees.”

“Coming up!”

Cari besef hulle verdien nie so goed nie en hy hoop om weer so ’n ruim fooitjie te kry. Sy is bly sy het vandag beter gereageer. Haar gewete het haar gery.

Twee dae later bel Dewyk haar by die huis. “Dankie, jy het goed gedoen. Die kliënt is meer as tevrede. Ek sal die geld oorbetaal.” “Dankie.” “Is jy oukei?” “Net moeg. Luister, ek moet gaan. Die deurklokki­e lui.” “Nou maar goed en –” “Ek sál myself oppas.” “Tot later.” Cari druk die foon dood en stap na haar voordeur.

“Stefan, wat maak jy hier?” “Kan ek inkom?”

“Seker.”

Cari staan opsy sodat Stefan kan deurstap. “Sit gerus. Ek drink gin-entonic; kan ek vir jou ook ingooi?

“As jy wyn of bier het, sal ek dit verkies.”

Cari haal ’n bottel wyn uit die rak. “Rooi?”

“Dit sal lekker wees.”

“Ek het gedink jy is al op pad terug.” Stefan neem die glas wyn by Cari en gaan sit weer. “Nee, die boedel is nog nie afgehandel nie. Dis eintlik hoekom ek hier is.”

“Ek het geen kennis van boedels nie. Dit help nie eens jy vra my nie.”

“Ek wou eintlik by jou gehoor het of jy geweet het tannie Jakkie het alles aan jou bemaak?” “Jy speel seker.” “Nee, ek speel nie.” “Maar hoekom?” “Ek het gehoop jy sou vir my kon sê.” “Ek verstaan nie.” “Volgens die prokureur het my tannie ’n maand gelede haar testament verander. Ek was vantevore die enigste erfgenaam. Sy het die prokureur gevra om die veranderin­gs vertroulik te hou.”

“Maar wat op aarde het dit met my te doen?”

“Ek weet nie. Dalk het jy haar subtiel oortuig om dit te doen? Mense doen snaakse dinge vir geld.”

Cari is dadelik bewus van die veranderin­g in Stefan. “Is jy nou heeltemal van jou sinne beroof ?”

“Ek wonder eerder of jy my tannie nie dalk van hare beroof het nie?”

“Jy is nou besig om my te beledig en in my karakter in te klim.”

“Ek is my hele erfporsie kwyt!” “Ek dink jy moet eerder gaan.” Stefan spring op en druk sy vinger in Cari se gesig. “Ek gaan dit nie hier los nie!”

“Trap!”

DIE kelner in Ryneveldst­raat druk sy vinger op Stefan se foto in die koerant. “Hel, maar ons land is vol geweld. Dis die een dood op die ander. Waar het jy nou gehoor jy vergiftig jou eie tannie? En dit vir erfgeld. Hy gaan lank sit.”

Die ander kelners luister met ’n halwe oor.

“Freddie, kom check hier, man!” “What’s up?”

“Onthou jy daai Hugo-ou wat ’n paar weke gelede van die berg afgeval het? Die vark het sy vrou en kinders heavy abuse. Die bleddie gemors! Om te dink ek het vir hom gevoel.”

Cari se foon lui. Dis Dewyk. “Waar is jy? “By die huis.”

“Het jy die koerant gesien?” “Nee.”

“Hulle het Stefan vasgetrek.”

“Ek het al snuf in die neus gekry toe hy my een aand daarvan beskuldig het dat dit my toedoen is dat hy sy erfgeld kwyt is. Die polisie was nogal vinnig.”

“Die tannie se prokureur het” gesê hy het haar geteister vir geld.”

“Ek het dit nie geweet nie.” “Sy het natuurlik besef hy is net agter haar geld aan en jou toe eerder laat erf.”

“Sy het nooit oor hom gepraat nie.”

“Dalk was sy te skaam. Hy het glo oorsee ook bedrog gepleeg. Toe sy hom nie wou help nie, moes hy natuurlik ’n ander plan beraam.”

“Nog ’n monster wat net ’n paar jaar tronkstraf gaan kry.”

“Ek het eintlik gebel om te sê ek het nóg ’n opdrag.”

“Ek luister.”

“Hy suip soos ’n vis en huiwer nie om sy vuiste vir sy vrou te lig nie.”

Later loop Cari na haar kluis en vat die tas. Sy maak seker sy het alles wat sy nodig het. Hy sal nooit weer ’n hand vir sy vrou of kinders lig nie.

“Jy weet ek doen dit vir jou, Leila,” prewel sy voor sy haar deur toesluit. ■

‘Ek wou eintlik by jou gehoor het of jy geweet het tannie Jakkie het alles aan jou bemaak?’

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa